• Login
  • Search Icon

Die padskraper

December 2017


Beste Grootneef

In Onse dorpie het mense baie keer kortpad met name gevat. Dikwels is ‘n plaasnaam as deel van die stamboom ingegooi veral as mense met dieselfde van naby aan mekaar gebly het. Daar was kolle vir die Van Niekerks, die Van den Bergs, die Van Aardes en so meer. En dan het jy maar ‘n plaasnaam of nering bygevoeg om die spul uitmekaar te ken.

Soos Rudolf Paradys. Of Gerhard Rooipoort. Of oom At Kaalkop– vir duidelike redes. Sy vrou, tannie Bettie, het ewe gelate die naam Bettie-At aanvaar. Of tannie Florence Hare. Dié het eenmaal ‘n man met ‘n half-geskeerde haredos gelos toe hy aan haar boud gevat het.

So was daar ook tant Nakkie en tant Tassie. Niemand was seker oor die herkoms van hul name nie, want hul was maar altyd daar.

En dan was daar oom Armaans Grondpad. Dit was ‘n maklike een, want oom Armaans het die padskraper gery. ‘n Lang seningrige man in ‘n blou oorpak in ‘n geel masjien. Oom Armaans se vrou was effe geset – en toe word sy tannie Ompad. Sout van die aarde-mense.

Die sinkplaatpaaie van die distrik is destyds deur oom Armaans uitgestryk. Op ‘n Maandag vroeg kon jy sien hoe hy met die geel padskraper, ‘n woonwa op hoë wiele en die dieselkar in gelid, die dorp uitry en koers vat na een van die vele grondpaaie in die distrik.

By die padkamp het hy die woonwa vir die week staangemaak en die werkers se tent laat opslaan. ‘n Padkamp was soms ‘n toegekampte stukkie grond van die PAO, maar op meer afgeleë dele was ‘n padkamp enige paar bloekombome wat skuiling teen die westelike son gebied het.

Die padskraper en oom Armaans is met brute krag die bulte uit, met die lem wat ‘n sooi los grond in die middel van die pad vir die omdraaislag gelos het. Dit was nogal ‘n groot ding vir ons plaasjapies om oom Armaans se geel padskraper te hoor aankom. Met die gedreun van die skraper in aantog, is afgedraf pad toe om die gevaarte eerstehands te beleef. Die vars geskraapte strook het dan soos ‘n teerpad vir ‘n dikwielfiets geloop.

Oom Armaans het sy dag se heen-en-weer vanaf ‘n padkamp netjies uitgemeet. Hy het geweet tot waar om die skraper te druk, om vóór sononder weer in die padkamp te wees. Meestal was die pad twee skraapsels breed. Hier en daar op die vlakte was ‘n effense breër strook wat ‘n vier-skraapdraai nodig gemaak het.

Om ‘n pad te skraap het die beste gewerk na ‘n lekker bui reën geval het, want dan kon die pad se sinkplaat met ‘n diep lem uitgepluis word. In die droë seisoen was dit maar ‘n gesukkel met die skraperlem wat eintlik net die gruis losgewoel het. Dié het dan soos albasters oor die pad gestrooi gelê. Dit was meet en pas om ‘n kar se neus in een rigting te laat loop oor sulke los gruis.

Hoe dit ook al sy, almal was altyd bly om ou Armaans en sy geel padskraper te sien. Net so vir ‘n bietjie kontak met die buitewêreld en nuus van die buurdistrik. 

Tant Nakkie en tant Tassie is een middag dorp toe oor die vars geskraapte pad. Tant Nakkie penorent soos ‘n meerkat agter die stuur van haar bruin Datsun en tant Tassie met ses dosyn eiers op haar skoot om te ruil vir negosieware. 

Alles het goed gegaan tot op die laaste bult voor die dorp, toe hulle oom Armaans op pad terug na sy padkamp ontmoet het. Eintlik was die padskraper en die Datsun die enigste verkeer in die omtrek. Dat hul mekaar op dié bult moes ontmoet, was pure onvoorsienigheid.

Die verrassing van ‘n ander voertuig op die pad was vir beide partye een te veel. Oom Armaans se stel valstande en die padskraper se lem het verloor soos hy ankers gegooi het. Tant Nakkie het net een rigting geken en dit was reguit om die draai, deur die doringdraad. 

Oom Armaans was nog op ‘n drafstap op pad om te kyk hoe hy kan help, toe die eier hom tref. Die res van die ses dosyn eiers was verdeel tussen tant Nakkie en tant Tassie se kapsels en die verkeerde kant van die voorruit.

Dié wat weet van die rampspoedige middag, het daarna baie begrip gehad vir die bamboes met ‘n rooi vlag wat oom Armaans bo-op die padskraper se kajuit vasgemaak het: Soos ‘n ster bo-op ‘n krismisboom. En die res van die gemeente het ook verstaan waarom tant Nakkie nooit weer verder as die tweede rat van haar bruin Datsun gevorder het nie.

Ou Neef, as jy ‘n rooi vlaggie oor die bult sien kom, hou 90 en hou links. 

Groete op die Oosgrens!
Kleinneef

Publication: December 2017

Section: Features

Search