• Login
  • Search Icon

Die onsigbare gevare in water

November 2013

BRIAN DE VILLIERS, VILLA CROP PROTECTION

Water word as ‘n draer vir swam-, onkruid- en insekdoders gebruik om die produkte so egalig as moontlik oor ‘n oppervlakte te versprei. Omdat water helder is, vergeet ons egter dikwels van die onsigbare faktore in water wat ‘n nadelige invloed op verskeie plaagdoders kan uitoefen.

Om dit in perspektief te stel, kom ons neem water met die volgende katiooninhoud as voorbeeld: Kalsium (120 mg/liter), magnesium (60 mg/liter), natrium (800 mg/liter) en kalium (20 mg/liter). Indien hierdie katione bymekaar getel word, is daar dus 1 000 mg/liter (1 g/liter) katione wat produkte potensieel kan benadeel.

Indien ‘n onkruiddoder byvoorbeeld teen ‘n spuitvolume van 200 liter water per hektaar toegedien word, is daar dus 200 g potensieel antagonistiese katione wat met die onkruiddoder kan reageer en onkruidbeheer kan benadeel.

Dit is net een van die gevare van water. In hierdie artikel gaan waterkwaliteit deeglik bespreek word om die leser in staat te stel om die regte stappe te neem om dit reg te stel. Sodoende sal effektiewe beheer van onkruide, siektes en peste bewerkstellig word, selfs met die gebruik van swak kwaliteit water.

image

Watter eienskappe van water speel ‘n rol?

Daar is drie faktore in water wat produkeffektiwiteit kan benadeel. Hierdie faktore is opgeloste soute, pH en bufferkapasiteit.

Dit is belangrik om te besef waarom hierdie faktore belangrik is, watter produkte hierdeur beïnvloed word en die stappe wat geneem moet word om die nadelige invloed hiervan te verminder.

Opgeloste soute
Enige waterbron bevat ‘n sekere hoeveelheid opgeloste soute (ione). Katione soos kalsium (Ca2+), magnesium (Mg2+), natrium (Na+) en kalium (K+) kom algemeen in water voor. Verder bevat water ook verskeie anione, byvoorbeeld chloried (Cl-) en bikarbonaat (HCO3-).

Indien sekere onkruiddoders toegedien word in harde (hoë kalsium- en magnesiumvlakke) of brak water (hoë natriumvlakke), bind die opgeloste katione aan die onkruiddoder en belemmer sodoende die opname van die produk. Dit het dan verlaagde onkruidbeheer tot gevolg. Hierdie reaksie vind gewoonlik nie in die spuittenk plaas nie, maar soos die spuitdruppel op die blaar uitdroog.

Die bekende onkruiddoders wat deur hierdie verskynsel benadeel word, is glifosaat, sekere hormoondoders, clethodim (en ander produkte in hierdie groep) en sekere sulfoniel ureums. Indien glifosaat byvoorbeeld in harde of brak water toegedien word, word die opname belemmer, wat dan swak onkruidbeheer tot gevolg het. As ‘n produsent dus meer as een waterbron tot sy beskikking het, is dit belangrik dat die bron met die minste opgeloste soute gebruik word.

Daar is egter ook baie effektiewe byvoegmiddels wat hiervoor gebruik kan word. Hierdie byvoegmiddels bevat gewoonlik ammoniumsulfaat en het die vermoë om antagonistiese soute te bind, voordat dit met die onkruiddoder kan reageer.

Dit is egter belangrik om etiket-riglyne in hierdie verband te volg. Die byvoegmiddel moet byvoorbeeld aan sekere vereistes voldoen om vir hierdie doel gebruik te word. Die volgende is net ‘n paar belangrike vereistes vir hierdie
produkte, wat bekend staan as soutbyvoegmiddels:

  • Die byvoegmiddel moet geregistreer wees volgens Wet 36 van 1947 en moet ‘n L-nommer hê. Produkte en kunsmisstowwe met K- en ander nommers is nie geregistreer vir hierdie doel nie en die gebruik daarvan is onwettig. Verder is hierdie produkte heel waarskynlik oneffektief.
  • Die gebruik van die byvoegmiddel moet verkieslik op die onkruiddoder-etiket aanbeveel word. Volg etiket-riglyne en moet nooit ongeregistreerde byvoegmiddels gebruik nie.
  • Gebruik slegs goeie kwaliteit byvoegmiddels. Sekere byvoegmiddels is hoër gelaai met die aktiewe bestanddeel as ander. Maak dus eers seker hoeveel ammoniumsulfaat die produkte bevat en kies die produk wat die beste waarde vir geld is. Hierdie produk is dikwels nie die goedkoopste byvoegmiddel per liter nie.

pH
Verskeie produkte en veral sekere insekdoders, word deur alkaliese hidroliese benadeel. Alkaliese hidroliese is die afbraak van insekdoders by ‘n hoë pH terwyl dit in die water opgelos is. Alkaliese hidroliese begin sodra die insekdoder in die water opgelos word en eindig sodra die spuitdruppeltjie uitgedroog het. Indien ‘n insekdoder dus met hoë pH-water vermeng word, breek dit dus geleidelik oor tyd af, wat dan swak plaagbeheer tot gevolg kan hê.

Die oplossing vir hierdie probleem is om buffers te gebruik. Buffers word gewoonlik eerste by die spuitwater gevoeg, voor die insekdoder. Die spuitwater se pH word dus verlaag, wat dan die leeftyd van die opgeloste insekdoder dramaties sal verleng. Dit het dan verhoogde insekbeheer tot gevolg. Buffers verlaag gewoonlik die pH van die water na ‘n vlak van tussen pH 4 en 6. Dit is gewoonlik die pH-vlak waar hierdie gevoelige insekdoders op hul mees stabiele is.

Om goeie kwaliteit buffers te gebruik, is van kardinale belang. Dit is ook belangrik om te bepaal dat die pH wel na die regte vlak toe verlaag word sodat die insekdoder optimaal kan presteer.

Nie alle produkte word egter deur alkaliese hidroliese beïnvloed nie en in sommige gevalle is buffers onnodig en kan soms selfs nadelig wees. Volg asseblief die etiket en buffer slegs dié produkte wat wel ‘n lae pH vereis.

Die ongeregistreerde gebruik van buffers kan in sekere gevalle rampspoedige gevolge inhou. ‘n Voorbeeld hiervan, is met die sulfoniel ureum (SU) onkruiddoders. Die SU’s is meer oplosbaar en meer effektief by hoë pH-spuitoplossings.
Die gebruik van lae pH-buffers met SU-spuitoplossings sal die effektiwiteit daarvan benadeel, wat sal lei tot swak onkruidbeheer. Gebruik dus buffers alleenlik indien dit ‘n voordeel inhou en aanbeveel word.

Bufferkapasiteit

Die een eienskap van water wat dikwels vergeet word, is bufferkapasiteit. Bufferkapasiteit is die vermoë van sekere waterbronne om ‘n verandering in pH te weerstaan. Water met ‘n hoë bufferkapasiteit bemoeilik dus die verlaging van die pH met die gebruik van buffers.

Daar word dikwels aanvaar dat buffers die pH van die water na voorafbepaalde vlakke toe sal verlaag. Dit kan wel die geval wees met lae bufferkapasiteit water, maar met hoë bufferkapasiteit water is dit moontlik dat die pH nie genoegsaam verlaag word nie en die produk kan dan moontlik deur alkaliese hidroliese benadeel word.

Die ioon in water wat grootliks bydra tot bufferkapasiteit, is bikarbonaat (HCO3-). Hoe hoër die bikarbonaatinhoud, hoe hoër sal die bufferkapasiteit wees en hoe moeiliker sal dit wees om die pH van die water te manipuleer.

Lae bufferkapasiteit het ‘n eie stel probleme en die pH van die water kan dalk te laag daal met die gebruik van sekere buffers. ‘n Te lae pH het ook nadele, soos suurhidrolise. Onmengbare spuitoplossings is ook dikwels die gevolg van
‘n te lae pH-spuitoplossing. Dit is dus belangrik om te weet wat die bufferkapasiteit van die spuitwater is.

Watter stappe moet geneem word?

Die volgende stappe moet geneem word om te sorg dat waterkwaliteit min of geen rol speel by plaagdodereffektiwiteit nie:

  • Neem watermonsters van al die beskikbare waterbronne en toets vir Ca2+, Mg2+, Na+, K+, HCO3- (of alkaliniteit), pH en elektriese geleidingsvermoë. Indien ‘n volledige waterontleding onmoontlik is, laat toets vir ten minste die pH en elektriese geleidingsvermoë.
  • Indien moontlik, probeer om modderige en troebel water te vermy.
  • Gebruik byvoegmiddels indien dit aanbeveel word met ‘n spesifieke produk. Gebruik net goeie kwaliteit byvoegmiddels met ‘n L-nommer.
  • Maak seker dat die pH genoegsaam verlaag word indien buffers gebruik word en dat die soutbyvoegmiddel hoog genoeg met ammoniumsulfaat gelaai is.

Dit kan beheer word

Waterkwaliteit kan die effektiwiteit van verskeie produkte benadeel. Dit is egter beheerbaar en die gebruik van die regte byvoegmiddels sal die effektiwiteit van plaagdoders verhoog, selfs met die gebruik van swak kwaliteit water.

Gebruik altyd geregistreerde byvoegmiddels; produkte wat nie geregistreer is nie, is nie geskik om as byvoegmiddels gebruik te word nie.

Vir meer inligting, skakel gerus vir Brian de Villiers by 082 880 0974.

Publication: November 2013

Section: Input Overview

Search