• Login
  • Search Icon

Die Nuwejaarsgloed

January 2014

– Januarie 2014

image

Beste Grootneef,

Toe die kat vanoggend met sulke harde voetstappe oor die grasperk aangestap kom, toe weet ek – die Nuwejaar is nou ook verby. En dit is anders tussen Kersfees en Nuwejaar as tussen Nuwejaar en Kersfees. Veral as daar so ‘n dowwe doef agter die linkeroor sit. Gelukkig is dit nou lekker stil op die werf, met ‘n ligte oostebriesie wat roer. Boeretroos in die hand, lekker môre, Vrystaat môre!

Ou Neef, dit is goed om somtyds net te sit en wonder oor al die dinge wat ons al moes baasraak. Só het elke geslag sy eie moeilikheid. In mý oorlê jongdae was dit die dae van grense, bossies en politieke onrus. In Pa-goed se dae, was dit die laaste streep van die groot depressie wat oorgevloei het in Wêreldoorlog II. Oupa-hulle weer, het die erge blootstelling ervaar van om ‘n bittereinder op kommando te wees, met ‘n vrou en kinders wat in ‘n konsentrasiekamp verteer word. Nie almal het huis toe gekom nie.

Soos ek hier op die koel Nuwejaarsoggend sit en luister hoe die voëls en die veld ontwaak, wonder ek by my selwers oor watse knerstyd daar vir ons kinders voorlê. Want dit was mos net in die paradys waar dit vir ‘n rukkie klopdisselboom gegaan het. Totdat ‘n slang tussen die speke beland het...

So gebeur dit eintlik deur al die geslagte, dat daar êrens in ‘n leeftyd, ‘n trek tussen voorspoed en depressie is, om hopelik daarna weer by waters van rus uit te kom.

Ons as voorlopers vir die nuwe geslag kan eintlik maar min doen om die jonges vir hul leeftyd se moeilikheid en vreugde voor te berei. Dalk ‘n stukkie raad hier, of ‘n voorbeeld daar, maar as jy weer sien, is die jongspan op vrye voet hul eie lewenspad in.

Al wat ons eintlik so in die agtergrond kan doen, is om verhoudinge te bou met die mense om ons. Of dit nou by die koöperasie, die petrolpomp, om ‘n werksbank of by die bakkie se venster is, elke vriendelike woord help bou aan ‘n omgewing waarin almal met mekaar kan klaarkom.

Dalk is dit op die ou einde die beste wat ons vir die nuwe geslag kan doen, naamlik om ‘n land van welwillendheid te bou, waar daar vir algar ‘n plekkie is. Want ons is almal uit Afrika.

Ou Neef, voorspoed op die Oosgrens! Mag die reën vanjaar elke week betyds kom. En mag die voetpaadjies wat onse jonges vanjaar aandurf, sonder te veel dorings en distels wees.

Kleinneef

Publication: January 2014

Section: E-mails

Search