• Login
  • Search Icon

Die Muur van Herinnering gedenk slagoffers

October 2011

LOUISE KUNZ, SA GRAAN/GRAIN MEDEWERKER

In 1998 het die Hennenman Boerevereniging die inisiatief van stapel gestuur om ‘n gedenkmuur op te rig wat ten doel het om ‘n versamelpunt vir name van slagoffers van plaasaanvalle te wees. Hierdie Muur van Herinnering is 'n monument ter nagedagtenis aan die produsente en hul families wat sedert 31 Mei 1961 in plaasaanvalle dood is.

Met meer as 1 500 name van vermoorde produsente en hul geliefdes wat reeds op die Muur van Herinnering op NAMPO Park buite Bothaville gegraveer is en tientalle name wat jaarliks tot die lys bygevoeg word, is dit duidelik waarom daar na dié muur as Suid-Afrika se “muur van trane” of “die moordmuur” verwys word.

image

Hierdie standbeeld, wat deur mnr Phil Minnaar, ‘n bekende beeldhouer van Pretoria ontwerp is, is tydens die NAMPO Oesdag in 2000 onthul. Daar is nege gedenkmure – vier links en vyf regs – wat die nege provinsies verteenwoordig. Dié mure, wat uit ysterklip gebou is om die verbintenis van die landbouer met die harde werklikheid van die natuur waaraan hul daagliks blootgestel word te weerspieël, het elk ‘n swart granietpaneel waarop al die vermoordes se name aangebring word. Tien kinders – tussen die ouderdomme van 3 en 17 – wat ook in plaasaanvalle om die lewe gebring is, se name is ook reeds op die muur aangebring.

Die middelpunt van die gedenkteken bestaan uit drie regop suile van 14 m, 10 m en 5 m wat aanmekaar verbind is om ‘n gesin – die pa, ma en kind – wat baie keer saam in ‘n plaasaanval vermoor word, voor te stel. Die horisontale verbindings dui op ‘n hegte gesinsverband en onderlinge ondersteuning in goeie sowel as moeilike tye in die landbou.

Die plasing asook houding van die beeld simboliseer dat die landbouer ten spyte van swaarkry en smart steeds die toekoms positief tegemoet stap. Die Bybel in die een hand en die ander hand omhoog, wat krag en genade vra, dui op die landbouer se afhanklikheid van die genade van God in sy daaglikse bestaan. Die woorde: “Gee ons krag vir die toekoms,” is op die beeld van ’n boer voor die suile aangebring. Op die voorgrond is ‘n geskiedenisnaald waarop die name van landbouverenigings en -besighede wat groot skenkings gedoen het, gegraveer word.

Volgens mnr Dion Haasbroek (Hennenman Boerevereniging) word fondse benodig om hierdie projek, die laaste eerbetoon aan alle kommersiële produsente en hul gesinslede wat sedert 1961 in Suid-Afrika vermoor is, deur te voer. Die komitee beoog ook om in die toekoms studiebeurse vir slagoffers se kinders te skep. Enige bydraes sal baie waardeer word.

Tydens die NAMPO Oesdag elke jaar trek die Muur van Herinnering baie besoekers. Lyste word dan op die muur geplaas sodat nuwe gevalle deur familie of vriende daarop aangedui kan word. Sodra dié name geverifieer is, word dit ook op die swart marmerblaaie aangebring. Lyste met name van diegene wat in plaasaanvalle oorlede is, is beskikbaar op die webwerf, www.muur.co.za.

Familie en vriende van slagoffers word ook gevra om seker te maak dat besonderhede van slagoffers van plaasaanvalle wat reeds tydelik op die lyste aangebring is, korrek is. Tydens die Oesdag is verskeie regstellings aangedui en die komitee is reeds in die proses om hierdie veranderings aan te bring.

Regstellings of nuwe inligting (die oorledene se voorletters en van, ouderdom, die jaar waarin die persoon oorlede is, geslag, distrik asook die provinsie waar die aanval was) kan per e-pos gestuur word na moordmuur@gmail.com of per faks na 086 6405 131. Jy kan dit ook telefonies deurgee vir Dion Haasbroek by 083 256 2505 of Alwyn Schlebusch by 082 573 5538.

Om aan te pas by die sosiale media tendens, is ‘n Facebook bladsy, Muur van Herinnering, ook opgestel waarby ondersteuners van dié waardige saak kan aansluit. Besonderhede kan ook hierop aangebring word.

Publication: October 2011

Section: Other Articles

Search