• Login
  • Search Icon

Die landboumasjineriemark van nader bekyk

August 2012

PETRU FOURIE, EKONOOM, BEDRYFSDIENSTE, GRAAN SA

Ten spyte van die onlangse verswakte waarde van die rand, wat gevolglik hoër pryse vir toerusting beteken, was landboumasjinerieverkope steeds sterk. Die verkope van nuwe trekkers vir die jaar tot dusver (Januarie tot Junie) is 32,1% hoër as dieselfde tydperk verlede jaar. Daar moet egter gelet word dat as gevolg van die swakker waarde van die rand en die onvermydelike styging van toerustingpryse wat kan volg, produsente vroeër besluite moet neem oor hul aankope.

Landboumasjineriepryse

Tabel 1 toon die jaar-tot-jaar-prysveranderinge van vier klasse landboumasjinerie. Uit die tabel kan gesien word dat pryse van landboumasjinerie op ‘n jaar-tot-jaar-basis gestyg het, maar dat die tendens effe afneem by trekker-, hooi- en veevoertoerusting- en implementpryse. Prysstygings van stropers toon steeds ‘n toenemende tendens.

image

Vanaf Mei 2011 tot Mei 2012 het die pryse van landboumasjinerie met gemiddeld 8,8% gestyg, terwyl pryse vanaf Junie 2011 tot Junie 2012 met 8,7% gestyg het. Die waarde van die rand het met 18,8% en 23,1% onderskeidelik vanaf Mei 2011 tot Mei 2012 en vanaf Junie 2011 tot Junie 2012 verswak.

Aangesien die meeste landboumasjinerie wat in Suid-Afrika gebruik word ‘n groot invoerkomponent het, het die verswakking van die rand ‘n bepalende rol in prysstygings die afgelope jaar gespeel.

Trekker- en stroperverkope

Grafiek 1 gee ‘n realistiese prentjie van wat tans aan die gebeur is met trekkerverkope in die Suid-Afrikaanse mark en skep ‘n goeie idee van waarna korttermyntrekkerverkope neig. Die “norm” van trekkerverkope voor
1981 was ongeveer 15 000 eenhede per jaar. Die kans dat sulke verkope weer in Suid-Afrika sal realiseer, is skraal en grootliks irrelevant. Trekkerverkope word dus as gevolg van bogenoemde rede slegs vir die laaste 20 jaar (1992 - 2011) tesame met ‘n twee jaar bewegende gemiddeld van verkope, in Grafiek 1 aangetoon. Dit moet genoem word dat hierdie syfers uitvoere uitsluit en slegs plaaslike verkope behels.

image

Jaarlikse trekkerverkope het gedurende hierdie tydperk (1991 - 2011) tussen ‘n minimum van 2 207 eenhede in 1992 en ‘n maksimum van 7 552 eenhede in 2008 gevarieer. Volgens die bedryf kan trekkerverkope vir die 2012 kalenderjaar tot vlakke teen of hoër as die bykans 7 400 eenhede wat in 2011 verkoop is, beraam word.

Junie 2012 is die twintigste agtereenvolgende maand wat trekkerverkope op ‘n maand-tot-maand-basis toeneem en dus die volgehoue optimisme in die landbou masjineriemark weerspieël. Die Suid-Afrikaanse Landboumasjinerieassosiasie (Salma) meld dat daar altesaam 710 trekkers in Junie verkoop is, wat ‘n styging van 14% in vergeleke met verkope in Junie verlede jaar is. Tot en met Junie 2012 is 4 053 trekkers vir die jaar verkoop, wat 32,1% hoër is as die verkope van die ooreenstemmende tydperk verlede jaar.

Grafiek 2 toon die trekkerverkope op ‘n maand-tot-maand-basis teenoor die persentasie prysverandering van trekkers op ‘n jaar-tot-jaar-basis. Sommige algemene waarnemings wat gemaak kan word, is dat Oktober die hoogste maand van verkope vir trekkers is (sien die pyltjies) en dat Februarie (belastingaankope) die tweede grootste maand vir trekkerverkope is. Uit die grafiek is dit verder sigbaar dat produsente wat aankope tussen Januarie 2010 en September 2011 gedoen het, relatief beter pryse vir trekkers betaal het as aankope wat buite die periode val.

image

Aan die ander kant is stroperverkope vir Juniemaand dubbel dít wat dit verlede jaar Junie was en as die stroperverkopesyfers vanaf Januarie tot Junie vanjaar met verlede jaar dieselfde tydperk vergelyk word, is dieverkope 50,3% hoër. Die optimisme in die landboumasjineriemark kan duidelik uit die sterk en toenemende trekker- en stroperverkope waargeneem word.

Ouderdom van die trekkervloot

Grafiek 3 illustreer hoe die ouderdomuiteensetting van die algehele Suid-Afrikaanse trekkervloot die afgelope 20 jaar verander het. In 1991 het die totale trekkers jonger as tien jaar 36,7% van die vloot uitgemaak, waarna die grootte van die trekker vloot jonger as tien jaar stelselmatig begin groei het. ‘n Skerp toename het die afgelope vyf jaar plaasgevind en tans maak die trekkers jonger as tien jaar 69,9% van die totale trekkervloot uit
(Grafiek 3). Dié syfer is positief indien dit vergelyk word met die vroeë negentigs waar die totale trekkers jonger as tien jaar op ‘n gemiddeld van 37% gestaan het. Die gemiddelde ouderdom van die trekkervloot staan tans op sewe jaar.

image

image

Trekkrag van trekkers in die trekkervloot

As daar na die totale trekkrag in die Suid-Afrikaanse trekkervloot gekyk word, staan dit tans op 5,51 miljoen kW (Grafiek 4). Dit het skerp toegeneem in vergelyking met die 4,46 miljoen kW tien jaar gelede, maar is steeds 32,5% minder as die 8,16 miljoen kW van 20 jaar gelede. Die trekkrag van trekkers jonger as tien jaar is tans 3,94 miljoen kW, wat 55,7% meer is as tien jaar gelede en 23,0% meer as 20 jaar gelede. Die gemiddelde trekkrag van trekkers in die totale trekkervloot het toegeneem van 64,8 kW (tien jaar gelede) tot die
huidige 75,6 kW (Grafiek 5).

Graan/trekker-ruilvoet

Grafiek 6 dui aan hoeveel ton mielies be nodig word om ‘n trekker tussen 70 kW en 80 kW aan te koop. Die ruilvoet is bereken deur die huidige trekkerpryse met die afgeleide produsentepryse te vergelyk deur die
Julie 2013 Safex-witmieliepryse en die gemiddelde in- en uitlaaikoste asook die liggingsdifferensiaal in aanmerking te neem. ‘n Produsent sal vir die 2012/2013-produksieseisoen waarskynlik 380 ton mielies moet ruil vir ‘n 70 kW - 80 kW trekker. Gedurende die 1990/1991-produksieseisoen moes ‘n produsent gemiddeld 302 ton mielies ruil vir ‘n trekker van 70 kW - 80 kW. Die ruilvoet het oor tyd uitermate verswak.

image

Publication: August 2012

Section: Input Overview

Search