• Login
  • Search Icon

Dié kant van die aardbol is beter

May 2011

Beste Grootneef

Die herfs is besig om haar stadig maar seker in ons geweste tuis te maak. Die bome neem afskeid van die somer met ‘n nuwe kleuredos van bruin en geel. Die son raak by die dag skaarser met langer nagte. Die lug is blouer en die aandwindjie oor die Vrystaatvlaktes koeler. Alles praat saam om te sê: die nuwe jagseisoen is op ons! Sela, dit was ‘n lang somer...

Ou Neef, soos ek vanaand op die suide-stoepie die wêreld sit en betrag, is ek diep dankbaar dat ek nie in Japan ‘n lewe hoef te maak nie. Sowat van intense rampe is bykans ongekend. Die een op die ander, sodat ons hierdie kant van die aardbol dit skaars verstaan. Eers ‘n geweldige aardbewing onder die see en op land met ‘n reuse-tsunami wat ver die binneland inspoel. Toe nog aardbewings om dit wat nog staan uitmekaar te skud. Daarna die kernkragsentrales wat radioaktiewe stof begin lek. En toe die intense koue en sneeu wat reddingspogings eintlik beëindig het, want niemand kon dit ook oorleef nie. Die TV-beelde en foto’s van verfrommelde huise, motors en puin gryp jou aan die hart.

Die gebeure om die kernkragsentrales is ‘n ander storie. Die noodstop van die sentrales het ná die aardbewing glo onmiddellik ingeskop. Die moeilikheid was egter om daarna die radio-aktiewe prosesse af te koel, want sien, die kragverbindings is vernietig. Die noodkragopwekkers kon ook nie inskop nie, want die tsunami het die dieselvoorraad weggevee.

Die terugvalposisie was om krag van ander dele van Japan na die beskadigde sentrales te lei, maar baie van die kragverbindings was eenvoudig vernietig. Met herstel en beurtkrag is die meeste skade beperk voordat ‘n massiewe kernramp kon ontstaan. Die koorsagtige haas van herstel is gemotiveer deurdat Japan die enigste land is wat ooit onder ‘n kernbom deurgeloop het in Wêreldoorlog II. Hulle ken die ellende van bestraling.

Nog iets wat opgeval het, was die absolute dringendheid waarmee noodwerkers in die puin na oorlewendes gesoek het. En die ordelike wyse waarop oorlewendes van tydelike vestings en noodvoorrade gebruik gemaak het. Nêrens was daar tonele van stormlope of onlus vir kos of water nie.

Die ongelooflike is dat herstel binne vyf jaar beraam word. Baie beleggers koop nou aandele van Japannese firmas, want hul verwag ‘n nuwe bloeitydperk in die proses om Japan weer te herbou.

Ou Neef, hoe sal Suid-Afrika so ‘n stormloop van rampe hanteer? Ons kry nie eers ons eie slaggate toe nie...

Die bek-en-klouseer in die noorde van ons land is ‘n gemors. Alles met bekke en kloue moet asseblief noord van die Vaal bly – ons Vrystaters het dit nie nodig nie. Eintlik herhaal die geskiedenis homself deurdat besmette kuddes heen en weer oor onbewaakte grense wei en al wat pes sodoende losgelaat word. As hierdie uitbraak nie met wortel en tak uitgeroei word nie, kan dit ‘n tsunami raak wat alle boere se fondamente sal laat skud. Ons vertrou maar dat die staat en alle betrokkenes alles moontlik sal doen om te keer dat die gemors nie na die res van die land uitbrei nie.

Met die verkiesing op ons, is al wat politieke party is se plakkate al weer teen die pale op. Hoop net die klomp haal dit na die tyd weer af en los dit nie weer vir die Augustus-winde nie. Die verkiesingsdag val vanjaar mooi in die middel van die NAMPO Oesdag. Ou Neef, ek gaan my kruisie trek die oggend voordat ek in die pad val na NAMPO toe – elke stem tel. Onthou die stembusse open die oggend 07:00 en is tot die aand 19:00 nog oop. Stem net in jou eie wyk.

Groete op die Oosgrens. Skiet betyds die gewere in, die jagseisoen is op ons!

Kleinneef

Publication: May 2011

Section: E-mails

Search