• Login
  • Search Icon

Die ideale trekker en hoogloopspuit mag rubberrusperbande gebruik

August 2016

SAREL DU PLESSIS, Mascor

Die bestaan van kruiptrekkers en die ontwikkeling van kruiptrekkers is amper so oud soos die ontwikkeling van konvensionele trekkers self. Met tyd het daar 'n nuwe neiging gekom: Rubberrusperbande. Hierdie nuwe bande het 'n klomp voordele vir die landboubedryf in terme van effektiwiteit en doeltreffendheid gebring.

Caterpillar Inc. het in 1995 by die Agricultural Equipment Techno - logy Conference (AETC) in Chicago, Illinois 'n voorlegging gedoen wat deur die American Society of Agricultural Engineers (ASAE) onder die hoofopskrif Opsoek na die ideale trekker en die ontwikkeling van die rubberrusperbandtrekker gepubliseer is. Hierin word daar verwys na aspekte wat die ideale trekker sal bevat.

Die hoeveelheid kilowatt wat die trekker, ongeag van sy enjingrootte op die trekstang uitbring, bepaal die werk wat die trekker kan doen as hy 'n implement trek. Dit is dus die kilowatt oorgedra na die grond wat die effektiwiteit en doeltreffendheid van 'n trekker bepaal en nie die kilowatt opgesluit in die brandstoftenk deur die enjin na die finale aandrywing nie.

Daarom sal die ideale trekker die een wees wat 100% van die energie in die brandstoftenk kan omskakel na bruikbare werk by die trekstang.

Kompaksie en flotasie is aspekte wat by die ideale trekker ondersoek moet word. Die ideale trekker en sy implemente behoort nie die grond se struktuur in enige wyse só te verander dat dit nadelige gevolge vir gewasproduksie inhou nie.

Deur al die retoriek oor die onderwerp is daar algemene een stemmigheid oor die volgende drie punte.

  • Daar is 'n ideale grondkondisie vir optimum groei van plante.
  • Swaarmasjinerieverkeer kan kompaksie veroorsaak negatief tot die ideale grondkondisie.
  • Die resultaat van oormatige grondkompaksie is opbrengsafname en uiteindelik ekonomiese verliese.

Grondbewerking vernietig die natuurlike grondstruktuur en verminder die natuurlike kapasiteit en brosheid van die grond. Die ideaal sal wees om masjienladings op 'n vlak te hou wat die grond so bros as moontlik sal laat. Om dit te vermag, word lae gronddruk en lae as-ladings vereis.

Die toenemende druk op landbou om meer voedsel winsgewend te produseer, het 'n bose kringloop geword. Die ewige vraag na groter produktiwiteit dra by tot groter implemente wat meer kilowatt vereis; wat op sy beurt weer groter en swaarder trekkers met meer gewig op die grond tot gevolg het.

Hierdie trekkers gee aanleiding tot 'n potensiële grondver digtingsprobleem wat weer tot opbrengsverlaging kan lei. Die ideale trekker moet dus verhoogde produktiwiteit verskaf met as-ladings en gronddrukking gelyk aan of minder as die konvensionele ontwerpe.

Die ideaal is om hoë vlakke van kilowatt en werkverrigting te kan lewer terwyl daar mobiliteit op sagte grond is sonder om oormatige kompaksie te veroorsaak as daar gewerk word.

Dié agtergrond bring ons nou by die huidige toestande in die landbou waar die bewaring van die grondstruktuur, produktiwiteit en verhoogde kapasiteit op die mees ekonomiese wyses vereis word.

Een van die internasionale vervaardigingsmaatskappye wat al reeds baie werk in die verband gedoen het, is Soucy Track wat in Quebec, Kanada gestasioneer is. Hulle is reeds meer as 40 jaar betrokke in die vervaardiging van rubberrusperbande en stelsels – hoofsaaklik in die weermag, ontspannings- en konstruksiebedryf.

Sedert 2005 is 'n sterk fokus geplaas op die ontwikkeling van rubberrusperbande vir die landbou al hoe wel hierdie bande al sedert die laat 70's vervaardig word. Uit toetse en ondervinding bring die gebruik van rubberrusperbande die trekker nader aan die ideale trekker.

Van die voordele wat die rubberrusperbande bring, is beter werkverrigting, wat tyd en geld bespaar en lei tot beter gewasresultate.

Werkverrigting

Beter werkverrigting word verkry deur:

Verbeterde flotasie
'n Rubberrusperband van 32 duim vir stropers verskaf 'n sewe keer groter voetspoor as 'n standaard 30 duim rubberstroperband. Groter voetspore verbeter stabiliteit van stropers, veral met al groter koringtafels en plukkerkoppe.

Selfaangedrewe spuite, veral in die sandgronde van Bultfontein, word ook deur die groter voetspoor bevoordeel deurdat die stabiliteit verhoog word. Verder veroorsaak 'n groter voetspoor dat in natter gronde en strookbewerkingpraktyke effektief gewerk kan word.

Verbeterde trekkrag
Rubberrusperbande verskaf tot 40% meer traksie as die standaardrubbertrekkerbande. Dit doen meer werk met minder trekker.

Geld- en tydbesparing

Verbeterde flotasie gee aanleiding tot minder vasval – wat tyd spaar. Bewerkings kan in onder meer ongunstige of nat toestande gedoen word as tyd 'n faktor raak. Tot 23% brandstofbesparing op baie nat, sagte grond en 4% op harde, droë grond kan maklik verkry word omdat minimale wielglip as gevolg van verbeterde traksie verkry word.

Verbeterde resultate

Verbeterde resultate word verkry met goeie agronomiese praktyke. Trekkers en implemente word al groter en swaarder. Om die vereiste traksie en flotasie te verkry, moet al breër en meer bande per as gemonteer word.

Met rusperbande kan die loopvlak verleng word terwyl die wydte onveranderd bly om die verhoogde werkverrigting te lewer met verlaagde kompaksie. Rubberrusperbande verminder grond verdigting wat beter lug- en watervoorsiening aan die plant bied vir beter wortelontwikkeling en uiteindelik beter opbrengste.

Konvensionele rubberbande plaas hoë drukking op die grond wat swak wateropname tot gevolg het. Die geronde vorm van rubberbande skuif die grond sywaarts wat walletjies en drukking op die plantwortels aan beide kante van die band tot gevolg het en plantontwikkeling onder druk plaas.

Rubberrusperbande veroorsaak dit nie of verminder hierdie probleem in 'n groot mate.

Die bande verbreed nie die voetspoor nie, dit verleng dit binne standaard rywydtes. Daarteenoor moet standaard rubberbande sywaarts uitgebrei word om dieselfde voetspoor te verkry.

Groter outonomie

As gevolg van die groter voetspoor en veral binne die standaard rywydtes, stel rubberrusperbande jou in staat om die take af te handel wanneer jy so besluit.

  • Beter beplanning en bestuur om werk meer effektief te kan doen.
  • Onafhanklikheid om ongesteurd te werk sonder om deur grondtoestande en die weer geaffekteer te word.
  • Optimale opbrengskwaliteit. Oeste kan afgehaal word wanneer dit reg is en nie wanneer die weer en grondtoestande dit toelaat nie.
  • Verminder verliese deur op die regte tyd te oes.

Met inagneming van al bogenoemde wil dit lyk of suksesvolle boerdery in die toekoms al meer op rubberrusperbande gaan staatmaak.

Vir meer inligting, kontak Sarel du Plessis by 072 600 3333 of sarel.duplessis@mascor.co.za.

Bronne

ASAE se aanbieding by die AET Conference in Chicago, Illinois gehou op 3 November 1995.
Soucy Track se interne publikasies. Soucy Track is internasionaal bekend vir die ontwikkeling en vervaardiging van rubberrusperbande en stelsels.

Publication: August 2016

Section: Focus on

Search