• Login
  • Search Icon

Die groot laai

May 2014

image

image

Beste Grootneef

Dié tyd van die jaar is algar besig met die groot laai. Waar jy ook al in die dorp kom, wil veral die jonger manne weet of jy al klaar gelaai het, watter grein jy gebruik en desnoods watter punte. En dit is nou net daar waar jy vir ‘n halfuur langer op die koöperasiestoep vashaak, as wat jy vooraf beplan het.

Want ‘n punt is nie ‘n ding wat aan die einde van ‘n sin vaskom nie. Nee, dis ‘n ontbrande projektiel met sy eie trajek en slaankrag. Vir party manne is om by die regte punt uit te kom, amper soos ‘n reis deur ‘n politieke woesteny. Vir hulle vat dit lewenslank en elke jaar word iets anders getoets. Ander manne weer, hou by wat hulle ken.

As jy mooi staan en luister, raak party manne skoon driftig oor punte, greine en kalibers. Is die beste kaliber nou ‘n .308 of ‘n .3006? En net soos in die politiek, het elke kaliber en grein ook sy eie groep volgelinge. Dit hang mos net af wat jou visie is, wil jy in die vlaktes oor ‘n miershoop aanlê op ‘n blesbok, of wil jy deur die ruie bos loop soek na ‘n koedoe?

En net soos in die politiek, is daar ook die kleiner liggewigte wat stemme vat, soos die 270-mense, of die klomp wat weer heel oorhel na die swaar kant toe, soos die .450 Rigby’s (wie in Augustus nog met seer skouers loop).

Hoe dit ook al sy, die manne luister mekaar se “patroon politiek” uit, maar vanaand as daar vrede in die huis is, word die herlaaiskaaltjie uitgehaal, blinkgevee en mooi gebalanseer. Dan is dit elke man se eie keuse wat op die skaal beland.

Om ‘n patroon te laai is, net soos om ‘n stem uit te bring, ‘n baie persoonlike aksie. Vir stem of laai, moet jy mooi dink of daar genoeg dryfkrag, lood en trefkrag sal wees, om te kan doen wat op die plakkaat of op die pakkie punte staan. Met ‘n laai-aksie, kan jy nog vooraf alle doppe skoonvee, die punte finaal afweeg en die dop se nek netjies toevou vir die regte druk in enige kamer. ‘n Stemaksie is egter altyd ‘n skoot in die donker. Ongeag al die mooi beloftes vooraf, weet jy nooit of die kandidaat op die plakkaat genoeg lood in die potlood het nie...

Terug by die laaibank. Arbeidsadel op sy beste, is om ná die aand se werk, twee rye van tien koperdoppe en punte op aandag te sien staan. Reg vir die jag. Dié word dan versigtig in laasjaar se pakkie gedruk, met die resep van hoeveel voet per sekonde en datum gelaai met ‘n Bic pen op die pakkie geskrywe. Jy kan maar sê met jou patroon gelaai, is jou “jag-stembrief” gekruis vir ‘n spesifieke kaliber en met dryfmiddel, punt en grein is die keuse vir die seisoen gemaak.

Ou Neef, net ‘n kraan se gedrup is erger as stemwerwers. So in my enigheid en met die stoor se stilte wat altyd kalmte in die gemoed bring, het ek toe die gewigtige besluit geneem dat blesbokke vanjaar die beste kandidaat is. Want met boskoedoes weet jy nie altyd wat jy aan hul het nie. Soms is dit net ‘n blaf en klippe wat van die berghang rol en spore wat in die klipveld verdwyn, sonder dat daar ooit ‘n stukkie biltong aan die haak kom. Nee kyk, vanjaar moet die goed in die oopte staan. Jy kan maar sê vir deursigtigheid so deur die visier...

Groete op die Oosgrens. En mooi mik!

Kleinneef

Publication: May 2014

Section: E-mails

Search