• Login
  • Search Icon

Die Graanspele

September 2012

– September 2012

image

Beste Grootneef,

Ou Neef, is dit nou vir jou 'n gedoente in die Engelse land met al die volke en nasies wat mekaar so opdreun. En kan jy glo dat ons so wrintiewaar ook 'n paar goues los geswem en geroei het! Dit wil gedoen wees. Nee kyk, 'n skouspel is dit beslis. Ons hier in die vlaktes volg al die aksie, al is dit ook met die bakkie se draadloos.

Ou Neef, die "spele" het my baie laat dink aan 'n mielieboerdery. Met boerdery is dit ook oorlewing van net die fiksstes. Die res val uit in die uitdunrondtes. Op die ou end gaan dit oor wie in die wêreld die goedkoopste kos kan produseer en steeds 'n wins daaruit kan maak. En dis net so moeilik soos vir 'n gimnas om balans op 'n balk te hou. Want as jy van daai balk aftuimel, is dit neusie verby.

By die spele in Londen is daar 'n klomp skeidsregters wat kyk dat almal in hul bane bly en dat daar nie dalk 'n onwettige doepa geskink word nie. Hulle hou ook die speelveld gelyk sodat 'n opponent nie met 'n hokkiestok bygedam word of gepootjie word nie. In die spel van voedselproduksie is daar nie eintlik sulke hulp nie. Daar is dit elke man op sy eie. Die goedkoopste kos, waar ook al op die aardbol, bepaal wie koop by wie en waarheen word dit verskeep. En die groot gelykmaker bly steeds Moedernatuur.

My oorle oupa Klaas het altoos gesê dat daar nie 'n lekkerder werk as boerdery is nie, solank dit net aanhou reën...As ek so tussen al die aksie by die spele luister na die weerverslae in die Yanks se agterplaas, klink dit of daar groot probleme is. Ek hoor anderdag dat 1 584 distrikte in 32 state as rampdroogte-gebiede geklassifiseer is. Ou Neef, dis 'n droogtegebied amper so groot soos ons hele Republiek! Mielies en soja het groot skade en damme en watervlakke daal steeds. Voedselpryse styg reeds in die VSA.

Ou Neef, die ou sêding is mos dat as die Yanks nies, kry die res van die wêreld verkoue. Kyk maar wat maak die graanpryse hier by ons...Ek wil nie eers daaraan dink nie, maar wat gebeur as óns volgende seisoen met 'n droogte geslaan word? Ons mense was vir baie jare gewoond dat hier maar altyd voldoende mielies in die land is, met genoeg kos vir almal, so asof dit vanselfsprekend moet wees.

As jy 'n klip in die dam gooi, maak dit kringe op die water. Die droogte in die VSA se kringeffek rimpel tot in die Vrystaat. Skielik is volop en goedkoop kos nie meer so vanselfsprekend nie. Hopelik sal die waarde van 'n graanprodusent ook hierdeur anders gemeet word. Nie as 'n lastige grondbesetter nie, maar as 'n vennoot vir voedselproduksie in 'n honger wêreld, 'n vennoot wat in eie reg 'n goue medalje verdien.

Groete op die Oosgrens.

Kleinneef

Publication: September 2012

Section: E-mails

Search