• Login
  • Search Icon

Die geleentheidskoste fenomeen

April 2010

Dr Kobus Laubscher, Hoofbestuurder/CEO

John Stuart Mill, die 17de eeuse ekonoom en filosoof, se verduidelikende toepassing van die koste om nie die regte besluit te neem uit verskeie onderling uitsluitende alternatiewe nie, vind toepassing in die regering se implementering van die biobrandstofstrategie.

Drury (1996:45) definieer geleentheidskoste as ‘n koste wat die verlore of opgeofferde geleentheid meet, wanneer die uitoefening van ‘n keuse vereis dat ‘n alternatief opgegee moet word. Die huidige surplustoestande in die mieliebedryf is ‘n duidelike illustrasie van hierdie beginsel deurdat mielies as ‘n voorkeurinset uitgesluit is van die geagte voordele van die markverruimingsgeleenthede wat bio-energie kon inhou.

Graan SA is in 2007 skerp gekritiseer oor sy standpunt dat die uitsluiting van mielies as inset vir biobrandstofvervaardiging en waar voorkeurinsette sou kon kwalifiseer vir spesiale voordele, voedselsekuriteit kan knou. Trouens, die destydse Minister van Landbou het nog ‘n beroep gedoen op die bedryf om surplusse te produseer! Onomstootlike bewyse dat Suid-Afrika meer as in staat is om te voldoen aan die vereistes van voldoende voorsiening van mielies, is bloot, en om korttermyn politieke gewin, geïgnoreer.

Kyk ‘n mens terug dan is die politieke voetfoute duidelik, terwyl die implikasies daarvan allermins toepassing vind op die vlak waar die besluite geneem is. Produsente betaal gewoon nou die prys van onbeholpe beleidsbesluite. Hulle is die slagoffers van hul eie doeltreffendheid deur ooglopend en met die hulp van nuwe tegnologie, meer met minder te doen.

Huidige lae produsentepryse is enersyds produksie-ontmoedigend, maar ook demoraliserend in die sin dat die laer pryse nie naastenby proporsioneel en tydig deurgegee word aan die verbruiker nie. Die feit dat politici steeds by populêre uitsprake bly soos dat meer geproduseer moet word, is olie op die vuur.

Suid-Afrika se gebrek aan visie ten opsigte van die verruiming van die mark vir grane soos mielies deur ‘n moderne biobrandstofbeleid wat mielies as voorkeurinset sou kon benut en die daadwerklike steun van so ‘n inisiatief by wyse van gefokusde subsidies het nou duidelike en meetbare koste-implikasies. Die surplus mielies tans en die onvermoë van die mark om die surplus uit te voer, het ernstige welvaartverliese tot gevolg.

Pryse is so laag dat winsgewendheid buite die kwessie is. Produsente sal toenemend in gebreke bly om skuld behoorlik te diens en kredietvoorsiening vir die volgende oes sal meer as ‘n uitdaging wees. Die vestiging van beginner-produsente wat die afgelope seisoene op eie stoom kon produseer, word ongedaan gemaak, want teen die huidige prysvlakke werk hulle somme nog minder uit; met die gevolg dat oorlaatskulde afgeskryf sal moet word.

Wat verder en gerieflik verontagsaam word, is die geleentheidskoste ter sprake deurdat mielies onverwerk uitgevoer is. Wat verlore gegaan het in die proses, is die energie wat geproduseer kon word, die byprodukte van sodanige prosesse en uiteraard die direkte en indirekte ekonomiese skakeleffekte van die verdere verwerking van die uitvoerbare surplus mielies. Die bedryf is gewoon ontneem van sy vermoë om ‘n belangrike bydrae tot die ekonomie te maak.

Regstellende aksies is nie enkelvoudig nie. ‘n Behoorlike, veel dimensionele omdraaistrategie is die enigste blywende oplossing. Die huidige aanbod is ‘n gegewe en die fokus moet nou wees om die mark uit te brei. Hierin lê verskeie moontlikhede, maar die belangrikste is dat ‘n begin gemaak moet word. Graan SA neem vervolgens leiding in die ondersoek na die skep van ‘n uitvoerpoel vir nagenoeg 4 miljoen ton mielies wat tegnies so geïsoleer moet word dat dit geen verdere invloed kan hê op die binnelandse mark nie.

Vir hierdie doel is alle moontlike beleidsinstrumente ondersoek, maar dit bly die aangewese ding om op ‘n vrywillige basis deelname van alle rolspelers in die waardeketting te verkry. Die kern tot die werking van so ‘n poel, is die vrywillige deelname van produsente wat ‘n deel van hul oes sal moet aanbied en dan hou by die besluit as pryse weens die werking van so ‘n uitvoerpoel, begin styg. Die bedoeling is om by wyse van erkende ekonomiese wetmatighede soos prysdiskriminasie tegnies twee markte te skep waar die prys-elastisiteite van die vraag tussen twee skeibare markte verskil.

Die voorsiene uitvoerpoel is egter die begin van ‘n omdraaistrategie, waarvan die volhoubaarheid steeds gesetel sal bly in die uitbreiding van die mark vir mielies met die hersiening van die huidige biobrandstofbeleid van die regering en invoervervanging as ononderhandelbare. Die donkie moet nou nie weer sy kop twee keer teen dieselfde klip stamp nie...

Publication: April 2010

Section: Editorial

Search