• Login
  • Search Icon

Die ekonomie van witmielieverbouing in die 2014/2015-bemarkingsjaar

May 2014

image

WESSEL LEMMER, senior ekonoom: Bedryfsdienste, Graan SA

In die artikel gaan kyk ons waar die grootste gedeelte van Suid-Afrika se witmielies verbou word. Tweedens, in watter maande die meeste witmielies gestroop en uitgevoer word. Derdens: Is dit noodsaaklik dat die prys wat produsente moet realiseer ten minste gelykbreek met koste en dat voldoende voorsiening getref word om die volgende jaar weer teen ‘n wins te kan produseer?

Suid-Afrika se witmielieverbruik en moontlike uitvoerbestemmings word ook aangeraak.

Waar word Suid-Afrika se witmielies geproduseer?

Die grootste gedeelte (89%) van Suid-Afrika se witmielies is die afgelope bemarkingsjaar onder droëlandtoestande in die Vrystaat, Mpumalanga en die Noordwes Provinsie verbou (Tabel 1).

image

Die witmielie-opbrengs in die Vrystaat vergelyk met die opbrengste behaal in die 2009/2010-produksieseisoen en is nagenoeg die tweede hoogste opbrengs vir die provinsie op rekord oor ‘n periode van 24 jaar. Die witmielie-opbrengs in die Noordwes Provinsie is die hoogste opbrengs op rekord vir die afgelope 24 jaar.

Teen watter koste en markpryse breek die verbouing van witmielies gelyk?

Internasionale markverslae meld gereeld oorsee dat pryse ondersteun word omdat produsenteverkope afneem. Produsenteverkope neem af omdat pryse te laag daal en produsente nie teen die lae pryse kan produseer nie.

Die omvang van produsenteverkope gedurende oesdruk in Mei, Junie en Julie het ‘n direkte negatiewe impak op markpryse. Ter wille van die volhoubaarheid van mielieproduksie, word produsente gemaan om nie onder totale produksiekoste te verkoop nie.

Dit is baie belangrik om deurlopend kennis van die kostevlak te dra (Tabel 2) en sodoende te verseker dat ‘n prys behaal word wat produksie in die volgende produksieseisoen kan verseker.

image

Die uitvoerpariteitsprysvlak van witmielies verhandel tans tussen R2 000/ton en R2 100/ton. Die Safex-prys vir lewering in Julie verhandel bo R2 100/ton. Indien produsente dus met hulle totale produksie-, verskansingskoste en bemarkingkoste gelyk wil breek, behoort mielies tydens lewering in Julie vir niks minder nie as R2 225/ton verkoop te word nie. Let wel: Laasgenoemde bedrag maak nie vir enige winste voorsiening nie.

Wanneer word Suid-Afrika se witmielies gelewer?

Sodra produsente pryse laer as hulle totale koste (R/ton) aanvaar, kan die volhoubare produksie van graan asook voedselsekerheid in die lang termyn in gedrang kom.

Anders as wat die verbruikers van mielies moontlik kan dink, behaal produsente nie die hoogste pryse gedurende die bemarkingsjaar nie. Die produsentelewerings vir die 2013/2014-bemarkingsjaar word in Tabel 3 weergegee.

image

Die oorgrote meerderheid droëlandwitmielies word gedurende Mei, Junie en Julie gelewer. Tussen 80% tot 90% van die droëlandmielies uit die Vrystaat, Noordwes Provinsie en Mpumalanga word gedurende hierdie tydperk gelewer.

Die lewering uit hierdie drie provinsies het ook 88,8% van die betrokke bemarkingsjare se totale lewerings van
5 497 733 ton uitgemaak.

Wit- en geelmielies se totale lewering in die hele Suid-Afrika was gedurende die 2013/2014-jaar (Maart tot Februarie)
11 353 971 ton. Die hoeveelheid mielies wat gedurende Mei, Junie en Julie gelewer is, was gesamentlik 9 255 229 ton. Hierdie syfer verteenwoordig byna 82% van die totale Suid-Afrikaanse oes gedurende 2013/2014 (Maart tot Februarie).

image

image

Hoe lyk Suid-Afrika se witmielieverbruik?

Die witmielies wat vir menslike verbruiksdoeleindes verwerk word, was in die 2013/2014-bemarkingsjaar nagenoeg
4,2 miljoen ton.

Daar word nagenoeg 400 000 ton witmielies per maand verwerk, waarvan die maandelikse behoefte vir menslike verbruik 350 000 ton per maand is. Dit is interessant om daarop te let dat 350 000 ton witmielies byna ooreenstem met dieselfde hoeveelheid witmielies wat vir die ses maande vanaf September tot Februarie in totaliteit gelewer word.

Die witmielies wat gedurende Augustus gelewer word, dra grootliks by tot Augustusmaand se totale behoefte.

Vroeë lewerings gedurende Maart en April is byna voldoende om gesamentlik in die verbruikersbehoefte vir April te voldoen. Die afleiding kan dus gemaak word dat die maandelikse produsentelewerings vanaf September tot Maart (sewe maande) on voldoende is om in die maandelikse verbruik te voldoen.

Dit kan daarom verwag word dat verbruikers en uitvoerders veral gedurende Mei, Junie en Julie sterker behoort mee te ding om voldoende voorrade vir die res van die bemarkingsjaar (September 2014 tot Maart 2015) te verseker.

Die onlangse skerp prysstygings aan die einde van die vorige bemarkingsjaar is nog vars in die geheue. Die vraag is of verbruikers hul aankope gaan uitstel en weer die risiko van moontlike hoër pryse later in die bemarkingsjaar gaan loop? Suid-Afrika was genoodsaak om, weens die onvoorsiene uitvoere van meer as 250 000 ton na Zimbabwe, 70 583 ton geelmielies sedert Maart uit die konflikgeteisterde Swartseestreek in te voer.

Wat kan ons uit die uitvoere gedurende die 2013/2014-bemarkingsjaar leer?

Die hoeveelheid ou seisoen witmielies wat gedurende die 2013/2014 (Mei - April) -bemarkingsjaar uitgevoer is, was op
11 April 897 706 ton.

Daar is vir die nuwe bemarkingsjaar, vanaf 1 Mei 2014 tot 30 April volgende jaar, 1 miljoen ton witmielies beskikbaar vir uitvoer doeleindes. Gedurende die vorige bemarkingsjaar is daar 375 000 ton witmielies na die (Botswana, Lesotho, Namibië en Swaziland) uitgevoer.

Die maandelikse uitvoere na die BLNS-lande handhaaf ongeveer dieselfde hoeveelheid per maand, maar met ‘n toename vanaf Oktober.

Uitvoere na Mexiko het gedurende Mei (36 700 ton), Junie (28 428 ton), Julie (46 531 ton), Augustus (39 949 ton) en die eerste twee weke van September (38 669 ton) plaasgevind. Mielies word vanaf die einde van September in Mexiko en die VSA gestroop en dit is die rede waarom Suid-Afrika se uitvoere na Mexiko gedurende September opgehou het.

In totaal is 190 097 ton witmielies na Mexiko gedurende 2013/2014 uitgevoer.

Dit beteken dat soveel as moontlik diepsee mielie-uitvoere vanaf Mei tot September moet plaasvind. Dit geld egter nie net vir witmielies nie, maar Suid-Afrika se diepsee geelmielie-uitvoere het gedurende September tot ‘n einde gekom. Dit stem ooreen met die begin van die stroopseisoen in die Noordelike Halfrondlande.

Suid-Afrika se grootskaalse diepsee mielie-uitvoere vir beide wit- en geelmielies vind gedurende die vyf maande vanaf Mei tot September plaas. Uitvoere na die BLNS-lande en ander Afrikalande vind normaalweg plaas soos wat die bemarkingsjaar verloop.

Mexiko se mielieproduksie het in die jongste USDA WASDE-verslag met 200 000 ton verhoog. Inteendeel, Mexiko het vanjaar genoeg mielies om uit te voer en die land se uitvoervoersyfer is saam met die verwagte uitvoere deur Rusland, Suid-Afrika, die Oekraïne en Vietnam verhoog.

Die vraag-en aanbodsyfers het vir Mexiko egter onveranderd gebly. Mexiko het gedurende die 2011/2012-bemarkingsjaar 11,17 miljoen ton mielies ingevoer. Gedurende 2012/2013 moes dié land 5,68 miljoen ton mielies invoer.

Volgens die jongste projeksie vir 2013/2014, blyk dit dat Mexiko se invoere (hoofsaaklik geelmielies) weer 11,5 miljoen ton kan wees. Mexiko behoort in die 2013/2014-bemarkingsjaar 31,5 miljoen ton mielies te verbruik en selfs ook 500 000 ton uit te voer. Die land se mielieproduksie behoort op 21,9 miljoen ton te staan te kom.

Dit is so dat Mexiko ‘n tekort aan geelmielies ervaar, maar dit blyk asof witmielievoorrade ná twee jaar se goeie witmielie-oeste voldoende is. Hulle regering het in reaksie op lae binnelandse pryse ‘n invoertarief van 20% op invoere uit Suid-Afrika ingestel.

Suid-Afrika het 1 miljoen ton witmielies vir uitvoere beskikbaar. Indien uitvoere na die BLNS-lande in berekening gebring word, laat dit 625 000 ton witmielies oor vir uitvoere na Mexiko en ander Afrikalande.

Die vereiste gemiddelde weeklikse uitvoertempo na ander Afrikalande en diepseebestemmings, soos Mexiko of Kenia, moet dus vanaf Mei tot September ongeveer 31 250 ton per week wees om ons uitvoerdoelwit vir witmielies te kan bereik. Die weeklikse uitvoerdoelwit oor dieselfde tydperk is 35 000 ton per week vir geelmielies.

Zimbabwe het vir die 2013/2014-bemarkingsjaar altesaam 250 790 ton witmielies uit Suid-Afrika ingevoer. Die land is steeds besig om maandeliks meer as 30 000 ton witmielies uit Suid-Afrika in te voer.

Die produksievooruitsigte in Zimbabwe lyk egter gunstig en produsente begin gedurende April en Mei oes, wat kan beteken dat invoere uit Suid-Afrika skerp kan afneem. Die mielie-aanplantings (ha) in Zimbabwe het teenoor die vorige produksieseisoen met 18% tot 1,66 miljoen hektaar toegeneem.

1,6 miljoen produsente het saad vanaf die regering en met humanitêre hulp verkry, maar net die helfte van die aanplantings was voldoende gewees. Invoere uit Zambië na Zimbabwe is gering.

Kenia ervaar voedselnood nadat die land se oes in November verlede jaar deur swak reënvalverspreiding en ‘n gebrek aan voldoende bemesting beperk is. Graanproduksie kan na verwagting met 11% teenoor die vorige jaar afneem.

Graaninvoere vir die 2013/2014-bemarkingsjaar, wat teen Junie 2014 eindig, behoort 2,36 miljoen ton te wees. Dit is ‘n verhoging van 24% teenoor die vorige jaar en dit is ook 5% hoër as die gemiddelde invoersyfer oor vyf jaar.

Die vorige jaar se graaninvoere was 1,9 miljoen ton. Indien Kenia weens die voedselnoodtoestand, van die land se nie-GMO-invoerbeleid sou afsien, kan Suid-Afrikaanse witmielies ‘n uitkoms vir Kenia se mense in nood wees.

Soos die geval is met Zimbabwe, lyk die produksievooruitsigte vir Mosambiek belowend en kan dit tot ‘n afname in die uitvoere van witmielies na Mosambiek lei. Zambië behoort vanjaar beter opbrengste te realiseer wat die land weer eens selfvoorsienend sal maak.

Samevatting

Die volhoubare produksie van witmielieverbouing in Suid-Afrika noodsaak vanjaar bogemiddelde opbrengste en ‘n witmielieprys wat die totale produksiekoste dek. Hiermee saam is dit noodsaaklik dat die surplus beskikbaar vir uitvoere teen die einde van September uitgevoer moet wees en dat uitvoerpryse nie onder die gelykbreekproduksiekoste per ton daal nie.

Bronne

Graan SA, SAGIS, NLBR en FAO.

Publication: May 2014

Section: Markoorsig

Author: WESSEL LEMMER, senior ekonoom: Bedryfsdienste, Graan SA

Search