• Login
  • Search Icon

Die draai van die seisoen

October 2014

image

JANNIE DE VILLIERS, uitvoerende hoofbestuurder/CEO

Oktober is nou maar eenmaal 'n spesiale maand in die Suidelike Halfrond. Dit is dalk nie die begin van ‘n nuwe jaar nie, maar wel die draai van die seisoen wat soveel beloftes inhou vir dié wat die grond bewerk.

Oeste word ryp en oestyd breek aan vir die manne van die suide. Vir die landbouers in die noorde is dit planttyd. Vir ons as graanprodusente het die draai van ‘n seisoen ‘n baie spesiale invloed op ons lewens, nie net fisies nie, maar ook in ander opsigte.

Daar is botsels wat vir ons die tekens aandui dat die seisoen draai, die temperatuur verander en vir sommiges kom die reën. Ek wil egter vandag iets deel van ‘n paar botsels wat ek die afgelope maand waargeneem het. Botsels in ons landbou-politiese omgewing.

Die nuwe Minister van Landbou het binne 24 uur positief geantwoord op die uitnodiging om amptelik die nuwe Graan SA-kantoor op Maclear in die Oos-Kaap te kom open. Hy was daar en was lank voor die tyd daar. Hy het nie net ingekom, ‘n toespraak gelewer en weer laat spaander nie. Hy het kom kuier, met die produsente gesels en het drie ure by ons spandeer. Dít is ‘n nuwe botsel! Het ek dit nie bietjie geniet toe die minister vertel het van sy ervaring met sy eie plaaswerker, en toe sy sin afgesluit het en (as produsent) gesê het dat hy ook nie sy plaas met sy werker wil deel nie!

Die deelname van die breër samelewing aan die gronddebat is regtig ook ‘n jong botsel wat ‘n nuwe seisoen inlui. Daar is nou ‘n groterwordende realisme wat ingeskop het ten opsigte van die uitvoerbaarheid van voorstelle om produktiewe landbougrond met werkers te deel. Vars idees deur ander deelnemers het nuwe verwagtinge geskep van moontlike alternatiewe oplossings vir die probleem.

Ook sal die botsels van die ekonomiese herstel in die Noordelike Half rond beslis 'n positiewe impak op die vraag na graan hê. 'n Groei ende middelklas en verstedeliking het 'n positiewe uitwerking op die vraag na ons produkte. Ek dink almal se wens is dat die konflik en oorlog in die Midde-Ooste tot ‘n einde sal kom, maar die gebeure daar gaan ongetwyfel 'n impak op toekomstige handel in die wêreld bring. Daar kan beslis geleenthede vir Suid Afrikaanse graanprodusente hieruit spruit. Hou in gedagte dat die VSA dalk meer van hulle eie mielies vir brandstof sal wil gebruik om hul onafhanklikheid verder te neem. Met die Midde-Ooste wat ‘n woestyn is, is groot invoerders van mielies asook Suid-Afrika baie goed geleë om hierdie markte in die toekoms te bedien. Dít is nuwe botsels!

Alle botsels hou die belofte van vrug in, maar nie alle botsels dra goeie vrugte nie. Die vordering wat Graan SA maak om as organisasie te groei en by te dra om landbou te help transformeer en voedselsekerheid te bevorder, veroorsaak dikwels reaksies van mense wat ons niks anders as jaloesie kan noem nie. Dit is soos ‘n eiertjie van ‘n vrugtevlieg wat mense kom lê in verhoudings om die spoed van vordering teen te werk. Baie van dié aksies dui bloot op die soeke na eie gewin. Kom ons werk saam om die botsels te koester en verhoudinge gesond te hou sodat dit goeie vrugte kan dra.

Die laaste botsel waaroor ek iets wil skryf, is nog jonk, maar dit is beslis daar. Dit is die vordering van ons graanprodusente se verhoudings met hulle werkers. Daar is soveel pogings van ons lede om die omstandighede van die werkers en hulle mense te verbeter en hulle kundigheid en produktiwiteit op te skerp. Die artikels wat ons die afgelope sewe maande in die SA Graan/Grain gepubliseer het oor beste praktyke, was daarop gemik om tussen ons lesers (as medeprodusente) idees uit te ruil oor watter praktyke reeds aangewend word, wat effektief is en goeie resultate lewer.

Ek wil julle aanmoedig om dit self te probeer; help ons dan deur ook jou beste praktyke met ander te deel deur dit vir ons aan te stuur. Graanprodusente kan op só manier ook op hierdie terrein die weg vorentoe baan.

Publication: October 2014

Section: Features

Search