• Login
  • Search Icon

Die dilemma van noordelike mielieblaarskroei-weerstand

September 2014

MARYKE CRAVEN, LNR-Instituut vir Graangewasse

Die afgelope seisoen het die effek van blaarsiektes in die Noordwes Provinsie opnuut weer kop uitgesteek. Wanneer produsente basters kies met sogenaamde weerstand teen noordelike mielieblaarskroei, net om later in die seisoen mielieplante oortrek met letsels te sien, kan gemoedere hoog loop.

Die ondersoek rakende presies waar die probleem begin het en wie verantwoordelikheid moet neem vir die verliese wat gelei is weens die voorkoms van die siekte, is ‘n netelige situasie wat deur beide die produsent, navorsers en landboubedryf ernstig aangespreek moet word.

Dit is dus weer noodsaaklik om die aspekte rondom noordelike mielieblaarskroei (Foto 1) en sy veroorsakende patogeen (Exserohilum turcicum, Foto 2) aan te spreek, om produsente attent te maak op die dilemma van noordelike mielieblaarskroei-weerstand.

image

Die effektiewe beheerstrategie vir verskeie plantsiektes, sluit die gebruik van 'n verskeidenheid basters in, waarvan sommige – indien nie almal nie – een of ander graad van weerstand teen die dominante patogeen, byvoorbeeld E. turcicum het.

Saam met chemiese beheer, word daar sodoende gepoog om die inokulumvlakke sowel as opbrengsverliese met die minimum insetkoste, so laag as moontlik te hou.

Dit is selde dat produsente ‘n balans probeer kry tussen hoë opbrengs én die gebruik van weerstand wanneer hulle beplan vir ‘n nuwe seisoen. Wanneer daar gekyk word na basters, sal die geskatte opbrengsvermoë gewoonlik die primêre oorwegingsfaktor wees en selde of die baster enige vorm van weerstand teen plantsiektes bevat.

Hoewel sekere aspekte daarvan steeds bevraagteken word, bestaan daar ‘n hipotese rakende die effek wat die inkorporering van weerstandsgene binne ‘n kultivar op sy opbrengsvermoë het. Dit word aanvaar dat ‘n baster ‘n gedeelte van sy opbrengspotensiaal moet inboet weens die teenwoordigheid van ‘n weerstandsgeen, aangesien meer “energie” ingesit word om ‘n patogeen te probeer teenstaan – energie wat gebruik kon word om die koppe te vul.

Dit kom dus dikwels voor dat hoë-opbrengspotensiaal-basters, min of geen weerstand teen plantsiektes toon en gevolglik swaar deurloop wanneer siektes soos noordelike mielieblaarskroei of grysblaarvlek kop uitsteek.

Wat dan nou gemaak waar dit blyk dat weerstand glad nie effektief was nie? Om hierdie vraag te beantwoord, moet ons eers by die beskikbare weerstand stilstaan. Internasionaal word daar hoofsaaklik melding gemaak van vier hoofweerstandsgene, naamlik Ht1, Ht2, Ht3 en HtN.

Hierdie gene word algemeen in teeltpopulasies geïnkorporeer om weerstand teen die siekte te skep. Foto 3 dui op ‘n tipiese noordelike mielieblaarskroei-weerstandsletsel. Soms gebeur dit, soos ons die afgelope seisoen waargeneem het, dat ‘n spesifieke baster wat gelys word as weerstandbiedend, glad nie weerstand toon nie.

Verder kan dit ook gebeur dat die weerstand wel waargeneem word vir ‘n paar jaar, maar dat die baster dan skielik weer vatbaar word vir die siekte. Hierdie gebrek of afbreking van weerstand is in alle waarskynlikheid die gevolg van die toetrede van ‘n nuwe ras van die patogeen wat nie voorheen in die spesifieke omgewing voorgekom het nie.

Die term “ras” verwys na ‘n spesifieke groep swamme binne 'n patogeniese spesie (soos E. turcicum) waarvan die gasheerreeks beperk is tot sekere variëteite. Anders gestel, beteken dit eenvoudig dat daar verskillende vorme van dieselfde patogeen bestaan wat verskil in hul vermoë om mieliebasters te kan infekteer.

Die rasse van E. turcicum word vernoem na die noordelike mielieblaarskroei weerstandsgeen wat dit kan oorkom (dit is dié gene wat nie meer die patogeen effektief kan keer nie). Ras 13N dui byvoorbeeld daarop dat hierdie spesifieke vorm van noordelike mielieblaarskroei in staat sal wees om die weerstand wat die Ht1-, Ht3- asook HtN-gene bied, te oorkom en die plant te infekteer.

Sou die dominante noordelike mielieblaarskroei-ras in byvoorbeeld die Winterton-area tot die Ras 23-groep behoort, beteken dit dat die mieliebasters wat Ht2 en/of Ht3 as weerstandsgene bevat, nie effektiewe weerstand teen die siekte sal kan bied in hierdie omgewing nie.

Die plant sal dus weerloos teen die siekte wees, ten spyte van die weerstandsgene wat dit bevat. Foto 4 is ‘n voorbeeld van wat kan gebeur indien ‘n nuwe ras in ‘n gebied inkom. Die weerstandsdilemma is egter tweeledig.

image

Eerstens kan dit gebeur dat ‘n baster goeie weerstand teen noordelike mielieblaarskroei kan toon in een omgewing, maar vatbaar kan wees in ‘n ander. Verder is daar ‘n beperkte hoeveelheid weerstand beskikbaar in die vorm van hoofweerstandsgene. Dit is dus baie maklik om ‘n ras te kry wat in staat sal wees om die weerstand te kan oorkom.

Waar laat dit die produsent? Weerstandbiedende basters vir noordelike mielieblaarskroei word steeds beskou as die eerste stap vir ‘n geïntegreerde bestuurspraktyk. Letsels op weerstandbiedende basters is geneig om kleiner te wees en minder te sporuleer.

Die siekte versprei dus nie so vinnig nie en skade aan die blare is ook minder. Die belangrikste begrip waarvan die produsent egter moet kennis neem, is dat die weerstand wat deur ‘n spesifieke baster teen noordelike mielieblaarskroei gedemonstreer word, van omgewing tot omgewing kan verskil, afhangend van watter noordelike mielieblaarskroei-ras dominant in die omgewing is.

Probeer dus om deeglik uit vind in watter omgewing die betrokke baster aanvanklik vir noordelike mielieblaarskroei-weerstand geëvalueer is. Die plant van verskillende weerstandbiedende basters om die risiko te versprei, word verder sterk aanbeveel.

Laastens is voortdurende monitering vanaf blom, veral onder besproeiing, steeds kritiek; al word daar van weerstandbiedende basters gebruik gemaak om seker te maak dat die produsent nie onverhoeds betrap word nie.

Die Landbounavorsingsraad, in samewerking met die Universiteit van Pretoria, is tans besig met in-diepte studies rakende die E. Turcicum-patogeen asook die moontlike identifisering van nuwe weerstandsgene om die siekte hok te slaan.

Produsente is welkom om die LNR-IGG te kontak by 018 299 6100 vir enige verdere navrae.

Publication: September 2014

Section: Focus on

Search