• Login
  • Search Icon

Die burokraat agter ‘n glasgordyn

December 2010

Beste Grootneef

Reeds van vroeg in Desember af word ons oorval met Krismisgoed. Oor die kassie, op lamppale en in al wat ‘n winkel is. Koop nou en hoes later is die raad in elke klingel. Ou Neef en soos algar in die toue staan en koop, sou jy dink ons is dwarsdeur die resessie...

Ek lees onlangs van die goewerment se nuwe “plan” vir ekonomiese groei en werkskepping. As ek dit reg het, is hierdie die derde só ‘n “plan” in 14 jaar! Eers was daar ‘n plan om die ekonomie in rat te kry – dié plan se naam was GEAR. Toe dit nie werk nie, het ‘n ander plan die lig gesien. Dié se naam was ASGISA. Nou vir die derde “plan”. Dalk is dit dié keer skeeps reg! Maak ‘n mens net bekommerd dat hierdie plan nie ‘n naam het nie...

Ou Neef, gou my ervaring die afgelope week en dan praat ons weer van die “plan”. Die oudste telg kwalifiseer nou vir ‘n leerlingliksens. In my dae het ‘n mens gebel vir ‘n afspraak, opgedaag en ‘n toets geskryf. Sommer die uitslag daar en dan gekry. Finish en klaar. Nou werk dinge anders. ‘n Man moet nou aansoek doen vir ‘n afspraak vir ‘n leerlingliksens – dis nie net vir bel en opdaag nie! En onthou, die kandidaat moet in persoon daar wees om die aansoek vir die afspraak te maak!

Met die eerste probeerslag is in ‘n formidabele tou geval om die vorm te kry waarop jy die aansoek vir die afspraak doen. Ek weet nie van jou nie, maar toustaan is nou nie eintlik die mees produktiewe wyse van tydsbesteding nie. Hoe dit ook al sy, uiteindelik voor, vra ons vir die magiese aansoekvorm. Sonder om te blik of te bloos sê die persoon (veilig agter glas), die vorms is op en ons kan later weer probeer! Heita! Hoekom nie ‘n kennisgewing buite om te sê die goed is op nie?

Met die tweede probeerslag, dieselfde prosedure van toustaan tot eindelik voor die toonbank. “Nee,” word geseg, “die vorms kan net op Dinsdae en Donderdae afgehaal word.” Nou hoe de swernoot moet ons dit weet? Weer met leë hande weg, want sien, dit was ‘n Woensdag...

Vir probeerslag drie was ons gestewel en gespoor vir aksie met mannemoed en goeie beplanning. Agter in ‘n tou sou ons nie weer staan nie – ons ruk die oggend so vroeg op dat al die hekke met aankoms nog toe is. Maar watwo, die eerste prys is om eerste voor ‘n toe deur te kan staan. Sommer gou is daar ‘n tou agter ons – lekker! Toe die deure traag oopskuif (drie minute na oopmaaktyd), beur ons vorentoe tot teen die glaspaneel. Verduidelik van voor af die storie van die aansoekvorm vir ‘n afspraak vir ‘n leerlingliksens...’n Blou vorm word stadig deur die gleuf na ons geskuif. Nou net vir invul en laat spaander.

Ou Neef, tóé word ons vertel dis nou tyd vir ‘n oogtoets voordat ons die vorm kan voltooi. Nou waar is die oogtoets? Wragtag om ‘n hoek in ‘n ander kantoor! Toe ons om die hoek vir die oogtoets-gedoente kom, staan daar ‘n ry wat skrik vir niks. Sien, die oogtoetsmasjien het verlede week nie gewerk nie en die hele lot van verlede week (met vorms vasgeklem) staan nou weer in die ry vir dié toets!

Na ‘n ewige geskuifel is ons tot voor in die koor (hou masjien hou...) en slaag jongman sy oogtoets. Daarvoor kry hy ‘n netjiese tjap op die blou vorm. Waarheen nou? O wee, terug na tou nommer een...

Terug in die groot saal lyk dit soos Stemdag. Skuifel, skuifel vorentoe soos die Israeliete vir 40 jaar deur die woestyn. Tot uiteindelik voor die beloofde land. Ek dag ons kry ‘n prys vir volharding, maar nee, die nuus is dat ons nou moet wag dat die afsprake “oopmaak”. Ons kan voor in die tou bly wag, langs die gat in die glas, sodat die mense agter ons met ander besigheid gehelp kan word. Toe die derde span by ons verbyskuif, wil ek deur die glasgordyn weet wanneer maak “die afsprake dan oop?” Die vrou agter die glas haal net haar skouers op. Sy weet ook nie.

Dis op daardie stadium dat ek jongman voor in die tou parkeer om alles te blokkeer en ek die donker dieptes van die kantoor binnedring op soek na die hoofowerste van spietkops, hom in sy kantoor opklop en vriendelik, dog ferm versoek dat hy sy personeel aansê om “afsprake oop te maak”.

Allamagtie ou Neef, al van sulke hopelose burokrasie gehoor? Wie dink so ‘n stelsel uit? En pas dit elke dag toe sonder om daaroor te dink?! Die vet weet, drie dae se pogings en amper ‘n onlus met die spietkop-owerste om ‘n afspraak te maak vir die toets van ‘n leerlingliksens!

Jongman is natuurlik die Leviete voorgelees dat hy hierdie toetsgedoente met die eerste poging moet slaag, ek sien nie weer kans vir so ‘n touegeskuifel van herwaarts na derwaarts nie.

Dié lang relaas net om te sê, met só ‘n burokrasie sal geen “plan” van die goewerment vir ekonomiese groei ooit slaag nie, al gee jy daardie plan watse naam. Maar eers genoeg hieroor.

Die stille somer van Kerstyd tot Nuwejaar omvou ons in ongewone knusheid met familie en vriende. In rustige dankbaarheid. In denke van die jaar wat verby is en in stille afwagting op die jaar wat voorlê. Mag jy en jou gesin ook hierdie Kersgety intens beleef met vrede oraloor.

Seënwense op die Oosgrens.

Kleinneef

Publication: December 2010

Section: E-mails

Search