• Login
  • Search Icon

Die ABC van miltsiekte

July 2012

image

DR JAN H. DU PREEZ, BESTURENDE DIREKTEUR, INSTITUUT VIR SUIWELTEGNOLOGIE

Miltsiekte is ‘n dodelike en hoogs aansteeklike siekte wat feitlik alle mak (byvoorbeeld beeste, skape, bokke) en wilde (byvoorbeeld koedoe, buffel, sebra) diere aantas en word veroorsaak deur die bakterie Bacillus anthracis.

Miltsiekte tas die mens ook aan. Diere vrek baie gou aan miltsiekte weens ‘n dodelike septisemie (bloedvergiftiging). Die belangrikste letsels is wydverspreide bloedings, swellings (edeem) en die afsterf van weefsels.

Diere met miltsiekte skep ‘n ernstige gevaar vir die mens. Dit is ‘n beroepsiekte vir persone wat noue kontak met diere (byvoorbeeld beeste) het, sowel as werkers wat met wol en huide asook bloed- en beenmeel werk en kom verder ook in laer-ontwikkelde sosioekonomiese omstandighede voor.

image

Hoe diere besmet word

Mense word soms besmet indien hulle die vleis van diere wat aan miltsiekte dood is, eet of melk drink van diere wat miltsiekte onder lede het.

Besmetting van die mens vind ook plaas deurdat die bakterieë die liggaam deur wonde of snye, dit wil sê deur beskadigde vel, binnedring. Inaseming van dormante spore van die bakterieë lei tot aantasting van die mens se asemhalingsisteem.

Indien behandeling betyds geskied, is dit baie doeltreffend. In vergelyking met diere (herkouers soos beeste) is die mens baie meer weerstandig teen miltsiekte. Die mens is egter ietwat meer vatbaar vir miltsiekte as varke en honde.

Dit is ‘n siekte wat deur die staat beheer word en gevolglik geld streng maatreëls ten opsigte van die inenting van vee, nadoodse ondersoeke en die vernietiging van besmette karkasse.

Aangesien miltsiekte ‘n aanmeldbare siekte is, moet elke verdagte geval onmiddellik aan die staatsveearts gerapporteer word.

Die spore van hierdie bakterieë kan lank (etlike jare) in die omgewing of natuur oorleef. Die spore kan selfs hoë temperature (100°C) vir kort periodes (byvoorbeeld vyf minute) oorleef. Die kook van die spore in water vir langer as tien minute verseker die dood daarvan. Indien die bakterieë in aanraking kom met suurstof, sporuleer dit en bly dan vir baie jare ‘n besmettingsrisiko.

Ander name

Miltsiekte by diere staan ook bekend as antraks of miltkoors. By die mens word dit ‘n kwaadaardige sweertjie, kwaadaardige karbonkel, woolsorter’s disea se of malignant pustula genoem.

Geskiedenis

Die woord “antraks” is afkomstig van die Griekse woord wat houtskool beteken. Daar is spekulasie dat miltsiekte die vyfde plaag (pes onder die vee) was wat in Farao se tyd oor die Egiptenare gebring is voordat die Israeliete bevry is.

In 1850 is miltsiekte die eerste keer in skape beskryf. Pasteur en Kock het in die 18de eeu navorsing oor miltsiekte gedoen om vir verskeie vrae oor die siekte antwoorde te probeer vind.

In 1913 het daar wêreldwyd ongeveer 60 000 mense aan miltsiekte gesterf, en in 1958 is meer as 20 000 mense aangetas deur miltsiekte. Hedendaags kry baie min mense die siekte.

image

Verspreiding

Miltsiekte het min of meer ‘n wêreldwye verspreiding. Die siekte kom nog sporadies in Suid-Afrika by diere voor, ook onder baie wildsoorte, byvoorbeeld buffels en koedoes in die nasionale parke van Suid-Afrika.

Miltsiekte in diere is gewoonlik ‘n dodelike siekte en vrektes volg meestal kort ná die eerste tekens van die siekte. Diere wat van miltsiekte vrek, se karkasse moenie oopgesny word nie (die vel moet intak bly), want die ontbinding van die karkas, wat baie koolsuurgas bevat, veroorsaak dat die bakterieë vernietig word.

Karkasse moet verbrand word. Indien die karkas oopgesny word en aan die lug (suurstof) blootgestel word, vorm die bakterieë spore wat dan vir jare in die natuur kan oorleef en besmettings veroorsaak.

Dit wil voorkom of miltsiektespore vir ‘n onbepaalde tyd in die natuur kan oorleef. Wanneer miltsiekte op ‘n plaas voorgekom het, moet die plaas as permanent besmet beskou word. Wanneer ‘n dier vrek, loop bloed by die neus en anus uit en besmet die omgewing. Spore word in die natuur versprei deur afloopwater, die mens en aasvreters (byvoorbeeld aasvoëls en hiënas).

Indien die fosfaatinhoud van grasweiding baie laag is, veroorsaak dit veral gedurende die winter dat beeste wat daarop wei, pika (‘n dringende lus om aan bene te kou, beenhonger of osteofagie) ontwikkel en dit kan die moontlikheid dat beeste miltsiekte opdoen, verhoog.

Skape ontwikkel gewoonlik nie sommer pika nie. Miltsiekte kan ook meganies oorgedra word deur die huisvlieg (Musca domestica), bytende vlieë (Stomoxys calcitrans), brommers, muskiete en bosluise.

Brommers kan draers van miltsiektebakterieë/spore wees. Brommers voed op die liggaamsvloeistowwe van miltsiekte (intak en oopgemaakte) karkasse voor hulle in struike of bome op ‘n hoogte van 1 m tot 3 m bo die grond gaan rus. Hier besmet die brommers die plante/bome met miltsiektebakterieë. Koedoes vreet op daardie hoogte blare en kan sodoende miltsiekte opdoen en vrek.

image

Siektetekens

Die broeitydperk (besmetting tot siektetekens) van miltsiekte, is tussen 1 en 14 dae. Die meeste diere met miltsiekte ontwikkel ‘n koors. Beeste, skape, bokke en wildherkouers (koedoe, rooibok, eland, bastergemsbok) kry gewoonlik baie erge (perakute en akute) miltsiekte.

Die diere word baie selde met siektetekens waargeneem omdat die duur van die siekte minder as twee ure is. Hierdie diere word net dood gevind, gewoonlik sonder die waarneming van siektetekens.

Perde, donkies en sebras kry gewoonlik die erge (akute) vorm van miltsiekte en die duur van die siekte is gewoonlik minder as 72 uur. Vleisvreters (honde en leeus) en omnivore (varke) kry gewoonlik die minder erge (subakute) vorm van miltsiekte en dit duur gewoonlik meer as drie dae voor die dier vrek of herstel.

Die mees algemene siekteteken hier is ‘n swelling van die keel en nek.

Diagnose

Die veearts maak ‘n diagnose op grond van die geskiedenis, siektetekens, ‘n bloedsmeer wat die bakterieë demonstreer en kweking van die bakterieë.

Voorkoming en beheer

Jaarlikse immunisering van beeste is verpligtend en dit is in die produsent se belang om hierdie regulasie na te kom. Ent alle diere tussen drie en ses maande ouderdom met die miltsiekte-entstof en daarna jaarliks. Indien ‘n uitbraak in ‘n area voorkom, moet ander diere wat vatbaar is, ook ingeënt word. Miltsiekte-entstof, wat ‘n lewende entstof is, kan saam met twee ander dooie (geïnaktiveerde) entstowwe (byvoorbeeld lamsiekte en sponssiekte) op dieselfde dag (maar nie in dieselfde spuit nie) toegedien word.

‘n Kombinasie-entstof wat bestaan uit miltsiekte (die lewende Sterne stam), sponssiekte en lamsiekte toksoïed (laasgenoemde bevat twee dooie komponente) kan ook gebruik word. Hierdie entstof mag ook vir dragtige diere toegedien word. ‘n Kombinasie-entstof van miltsiekte met sponssiekte is ook beskikbaar.

Diere moet ook nie met penisillien, tetrasikliene of ‘n ander antibiotika behandel word tien dae voor en nadat hulle geïmmuniseer is nie, omdat dit die entstof neutraliseer en die dier geen immuniteit sal ontwikkel nie. Die entstof veroorsaak ‘n tydelike swelsel by die inspuitplek, maar dit verdwyn ná ‘n paar dae. Immuniteit ontwikkel binne twee tot vier weke ná inenting en duur ongeveer nege tot twaalf maande, maar kan nie by alle diere gewaarborg word nie.

Diegene wat uit die aard van hulle beroep blootgestel word, byvoorbeeld laboratoriumwerkers, kan voorkomend teen die siekte geënt word. Kontak met, inname of inaseming van die siekteveroorsakende bakterieë moet voorkom en vermy word.

Omdat die diere wat met miltsiekte aangetas is ‘n belangrike bron van besmetting vir die mens is, moet aanraking (kontak) met siek diere vermy word. Veeartse moet liefs nadoodse ondersoeke op diere doen. Diere wat moontlik aan miltsiekte gevrek het, moet nie summier nadoods ondersoek word nie.

Die veearts sal eers bloedsmere maak en dit mikroskopies ondersoek om vas te stel of miltsiekte teenwoordig is, alvorens ‘n nadoodse ondersoek gedoen word.

Siek diere moet geïsoleer word en kwarantynmaatreëls is van toepassing. Die karkasse van diere wat aan miltsiekte vrek, moet verbrand word.

Raadpleeg jou staats- of privaatveearts vir verdere inligting aangaande die beheer van en inenting teen miltsiekte.

Sertifikate moet verkry word vir die in- en uitvoer van been- en bloedmeel asook vir huide. Jou geneesheer moet onmiddellik geraadpleeg word as daar ‘n vermoede is dat aanraking met, inname of inaseming van die miltsiektebakterieë of hulle spore plaasgevind het.

Publication: July 2012

Section: Wenartikels

Search