• Login
  • Search Icon

Die aarde vergaan nie in 2012 nie

July 2011

Beste Grootneef

Die winter het behoorlik tande ingeslaan en dit is smôrens spierwit geryp. As die voordeur oopgaan, kom die honde so styf-styf om die hoek van die huis gedraf op soek na die eerste sonkolletjie. Maar so na 10:00 trek mens alweer die dik baadjie uit – dis mos die Vrystaat op sy beste, yskoue nagte en lekker wintersdae. Totdat die suidekant weer grou raak met die volgende front...

Ou Neef, ek is lelik beswaard. David Kramer sing in ‘n lied oor die Karoo, dat “as jy na die aarde van die maan af kyk, waar lê noord en waar lê suid?” Maar het ons dan so afgestomp geraak dat ons nie meer waarheid en versinsel van mekaar kan onderskei nie? Sewentien jaar. Dit is die aantal jare wat ons reeds demokrasie in onse landjie ervaar.

Desnieteenstaande dink diesulkes dit is nog van pas om te sing, “Skiet die boer...”. Ek weet nie van julle daar in die ooste teen Lesotho nie, maar vir my is dit besonder kwetsend dat sulke liedere nog gesing kan word. Bid jou aan, wat sal die reaksie wees as óns gemeente sulke liedere begin sing?

Maak nie saak wat die groot hof uiteindelik besluit oor die sing van “Skiet die boer” nie – dit is ‘n klad op ons land se leierskap dat dit nog enigsins en dikwels met ‘n goedige knipoog verdra word, as sou dit blote struggle geskiedenis wees. Dit is nié onskuldig of toevallig nie – die boodskap is baie spesifiek. Op hoeveel maniere kan die woorde “Skiet die boer” dan nou vertolk word?

Ek onthou ‘n frase van ‘n getuie destyds voor die Waarheids- en Versoeningskommissie. Die persoon het vertel hoe hy deur die polisie gemartel is. Hy het dit as “baie persoonlik” ervaar. Ou Neef, ek ervaar dit ook as baie persoonlik as ek hoor daar word gesing, “Skiet die boer”, want om te boer, is wat ek is en doen.

So van diesulkes gepraat. Ek lees anderdag in die koerant dat Noord-Gauteng se Hooggeregshof ‘n lasbrief uitgereik het teen die ANC Jeugliga. Die balju kan volgens die berig beslag lê op R669 130 se bates (wat hy waar gaan kry...?). Die bedrag word sedert Junie 2008 geskuld vir die Liga se kongres wat in die Queensgarden Hotel, Johannesburg aangebied is, maar luister mooi, nooit betaal is nie.

Die hotel is intussen gelikwideer. Nou wonder ek maar net, sal die skuld ooit betaal word? Of geld dieselfde minagting vir die eienaars van die hotel, wat terloops hul deure moes sluit, as vir boere in Suid-Afrika aan wie die lied “Skiet die boer” opgedra word?

Ou Neef, genoeg van dié swartgalligheid. Kom ons praat eerder oor die einde van die wêreld. Volgens prof Jocelyn Bell Burnell sal die aarde nie in 2012 vergaan nie. Sy het gereageer op ‘n profesie in die MAYA-kalender wat voorspel dat ‘n onbekende planeet in 2012 teen die aarde sal bots. Heel logies argumenteer sy dat indien só ‘n planeet wel met ‘n stink spoed op pad na die aarde toe sou wees, dit nou reeds sigbaar sal wees, iewers tussen Jupiter en Saturnus.

Dié hele debat het ontstaan ná ‘n boek deur ‘n ene Zecharia Sitchin, wie betoog dat vreemde wesens die aarde in die oertyd besoek het en dat hulle planeet nou op ‘n botsing met Moederaarde afstuur. Die vreemde planeet se wentelbaan sou volgens Sitchin 3 600 jaar duur om te voltooi, dié dat ons dit nog nooit gesien het nie. Nietemin, die planeet is bekend as Nibiru en is terstond as die Twaalfde Planeet gedoop.

Ou Neef, kan jy glo daar is ouens wat geld maak met sulke goed? Hoe dit ook al sy, sou die vreemde wesens wel in 2012 op hul planeet by die aarde verbyskuur, kan ons nie maar reël dat hulle die aarde se diesulkes saam neem op hul volgende omwenteling van 3 600 jaar nie?

Vergeet ‘n oomblik van diesulkes wat ‘n doring in elk se vlees is. Die Wêreldbank se president, mnr Robert Zoellick, het in April gewaarsku dat voedselpryse wêreldwyd 36% hoër is as ‘n jaar gelede en dit tot gevolg het dat reeds ongeveer 44 miljoen mense in armoede gedompel is.

Ou Neef, hoe dié ouens al die mense tel weet ek nie. Al wat ek weet, is dat honger mense vinnig moeilikheid kan maak. Kyk maar wat het in die noorde van Afrika gebeur. En dan word nog in ons land gesing, “Skiet die boer” – wie juis ‘n oorvloed voedsel vir almal uit die barre aarde loswoel...

Geniet die winter op die Oosgrens. En daardie eerste biltonkie van die haak af!

Groete

Kleinneef

Publication: July 2011

Section: E-mails

Search