• Login
  • Search Icon

Standpunt: Daar is 'n droogte in Pretoria

July 2014

image

JANNIE DE VILLIERS, uitvoerende hoofbestuurder/CEO

Ek dink ek begin so iets verstaan van produsent-wees wanneer die wind wes waai en die graanplantjies is nog net so kniehoogte en die son brand. Kort voor die verkie sing het die wind wes begin draai in Pretoria.

Alle gesprekke met die regering het óf oor grondhervorming óf oor swartbemagtiging gehandel. Die onderhandelaars (aan beide kante) was nie meer oop om na mekaar te luister nie en daar is aanvaar dat baie van die uitsprake en droë westewinde ná die verkiesing in reënbuie sal verander. My belewenis is dat dit beslis nie die geval is nie, inteendeel die winde waai baie erger.

Die volgende vier jaar gaan besonder moeilike jare in Pretoria wees. Huidige politieke doelwitte en landbou se ekonomiese realiteite gaan bitter moeilik versoenbaar wees. Daar is slim mense wat sê dat ‘n mens nie van leierskap baie leer as dit goed gaan nie, maar wel as dit baie moeilik gaan. Dit is nou sulke tyd.

Ons het almal se ondersteuning nodig om ons energie en fokus op die regte sake te hou. Die Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming het so ewe die ander dag op televisie gesê dat die grondsake van ‘n rasgedrewe basis na ‘n klasgedrewe basis verskuif het. As wit en swart produsente almal vir die regering dieselfde ding sê: “Ons kan nie 50% van ons plase vir ons werkers verniet weggee nie!” dan gaan dit meer oor ryk en arm as oor wit en swart.

Hoe dit ook al sy, daar is nie ‘n manier waarop ons politieke doelwitte van ekonomiese realiteite kan skei nie. Wonder so in my binneste of die minister al met sy kollega van Tesourie oor sy voorstelle gepraat het?

Daar is nie ‘n manier waarop Suid-Afrika (nogal tydens ‘n resessie), dit kan bekostig om die landbousektor te vernietig nie. Voedselsekerheid is die enkele faktor wat regerings tot ‘n val kan bring – sommer oornag. Ek kan nogal aan ‘n hele paar ouens daar in die parlement dink wat sit en lippe aflek vir die dag as daar nie meer genoeg kos in die silo’s is nie.

Vir my bly die vraag: “Wat staan ons nou te doen?” Om nou mekaar te beskuldig en met klippe te gooi, sal nie help nie. Graan SA het in Februarie 2014 ‘n klompie leierprodusente byeen gehad om te kyk of daar nie dalk iewers ‘n haas uit die hoed gepluk kan word om die grondhervormingsprobleem op te los nie.

Daar was baie planne ja, maar die sogenaamde silver bullet het ons ontduik. Ek kan nie anders as om te dink dat die enigste oplossing maar sleg gaan wees vir al die partye nie. Dit is twee partye, waarvan een al die politieke mag het en een al die ekonomiese mag. Leierskap kan wel maak dat ons nie albei in die proses vernietig en net ‘n slagveld vir ons kinders agterlaat nie.

Hierdie situasie laat my dink aan ‘n dag langs die Hartsrivier in 1982. Daar was ‘n vloed en ‘n trekker en sleepwa met ‘n klompie plaaswerkers is deur die water meegesleur. Hierdie luitenant moes met sy troepe al langs die rivier in die slik gaan stap en na moontlike oorlewendes soek. Die eerste persoon wat ons gekry het, het halfpad in die rivier in aan ‘n boom vasgehaak. Almal het dit gesien en saamgedrom, maar niemand het ingespring nie. Almal het rond gekyk en raad gegee, maar niemand het iets gedoen nie, totdat die luitenant begin uittrek het en ingespring het.

Die tyd het aangebreek dat ons nuwe en ou landbouleiers nou hand opsteek en die saak begin hanteer ter wille van ons almal se toekoms. Kom ons ondersteun hulle en bid vir wysheid en verantwoordelikheid om die saak by te lê.

Publication: July 2014

Section: Features

Search