• Login
  • Search Icon

Broers streef deurentyd na volhoubaarheid

June 2013

PIETMAN BOTHA, SA GRAAN/GRAIN MEDEWERKER

image

Dit is moeilik om goeie voetspore vol te staan, maar om nuwes te laat, is nog moeiliker en dit het Francois en Pieter Eksteen, Graan SA/ Syngenta se Graanprodusent van die Jaar-finaliste 2012, reggekry.

Net buite Piketberg, op pad na Citrusdal in die Rooi Karoo, boer die Eksteens. Hierdie boerdery is alombekend as een van die voorlopers in hierdie gebied. Nie net word goeie oeste geproduseer nie, maar dit word in ‘n lae reenvalgebied gedoen.

Volhoubaarheid, in die volle sin van die woord, is nodig om in die Rooi Karoo naby Piketberg te bly boer en om ook iets vir die nageslag na te laat. Dit het Francois en Pieter by hul pa geleer.

“Volhoubaarheid kan net suksesvol wees as die boerdery se hulpbronne optimaal aangewend word en die verskillende vertakkings saamwerk om winsgewendheid te verhoog. Dit het ons pa besef en daarom het hy die saadjie van wisselbou en grondbewaring by ons geplant.” Hierdie denkwyse het die Eksteen-broers tot waardige Graan SA/Syngenta graanprodusent van die Jaar-finaliste omvorm.

Om altyd na iets beter te streef, is ‘n baie belangrike aspek. Dit is noodsaaklik om jou doelwitte reg te kies en te sorg dat hierdie doelwitte tot volhoubaarheid lei en om die rede fokus Francois en Pieter op bewaringsboerdery. Hulle poog om in hul boerdery die na tuurlike hulpbronne en geleenthede optimaal te gebruik.

Dit kan egter net gedoen word as die hulpbronne, geleenthede en beperkings waarmee ‘n mens moet werk, bekend is. Francois en Pieter het reeds vroeg besef dat die Rooi Karoo ‘n streek is wat maklik deur droogtes geteister kan word. Om hierdie rede word nie net op saaiboerdery staatgemaak nie, maar veral skaap (vleis en wol) help om die boeke te laat bly klop.

Daar word gepoog om gelyke gedeeltes inkomste van die saai- en veevertakkings te verkry. Tans bestaan die veevertakking uit Vleismerino skape en Nguni beeste. Ten einde vir hierdie vee kos te voorsien, word medics, koring, kanola en hawer aangeplant. Die medics verskaf hoofsaaklik weiding in die wintermaande, terwyl die kanola- en koringoesreste in die somermaande as weiding gebruik word. Die hawer word hoofsaaklik as kuilvoer aangewend om die ooie tydens lam van ekstra kos te voorsien.

image

Vir die Eksteen-broers is medics ‘n wonderlike gewas, wat nie net aangewend word as weiding nie, maar ook ‘n groot bydrae lewer om die grond se vrugbaarheid te verhoog. Medics bind veral stikstof en ditis nie nodig om hierdie gewas jaarliks te hervestig nie. As daar genoeg krulle agtergelaat word, sal die gewas homself weer hervestig.

image

Ongeveer 50% van hul bewerkbare oppervlakte word jaarliks net so gelaat sodat medics hier kan hervestig en weiding vir die vee verskaf. Die res van die oppervlakte word hoofsaaklik vir koring, kanola en hawerproduksie aangewend.

Om voor te bly, is navorsing nodig. In hierdie boerdery word inligting jaarliks omtrent onkruiddoders, plaagdoders, kultivars, bemesting en bewerkingsproewe ingesamel. Hulle probeer nuwe middels, kultivars en ander maniere van bemesting toepas om sodoende hulle winsgewendheid in terme van produksie te verhoog.

Onkruide gebruik grondvog en breek die voedingstatus in die grond af, daarom word veral klem gele op onkruidbeheer in ‘n baie vroeë stadium. Ten einde onkruiddoderweerstand te beperk, word aktiewe middels jaarliks afgewissel. Onkruide en veral grasse kan ‘n probleem raak en daarom word daar in samewerking met verskeie rolspelers onkruiddoderproewe gedoen. So is bevind dat kanola goed aangewend kan word om veral te help met onkruidbeheer. Behalwe vir die onkruidbeheer, help kanola ook om grondsiektes te beheer.

In hierdie boerdery word oesreste nie as ‘n probleem gesien nie, maar eerder as ‘n voordeel. Die oesreste word so bewei dat die lande nie te kaal is nie en op hierdie manier probeer die Eksteens om die grond se koolstofinhoud te verhoog. Die ekstra organiese materiaal help dat die grond se produksievermoë verhoog, deurdat dit hoofsaaklik vog in die grond stoor en grondmikroörganismes se getalle verhoog. Die hoër getal mikrobe dien as ‘n natuurlike buffer om gronde gesond te hou.

Die koring-medics-wisselboustelsel het ook sy eie bepaalde voordele. Medics bind ‘n klomp stikstof, wat weer van die benodigde koringbemesting afgetrek word. Medics wys tekorte baie duidelik, daarom moet die voedingstatus van medics altyd reg wees, veral pH, fosfate, potas en spoorelemente. Die medics-bemesting word gewoonlik saam met die van die koring toegedien. ‘n Koring-medic-kanola-wisselboustelsel vergemaklik nie net onkruidbestuur nie, maar lewer ‘n groot bydrae tot die voeding- en gesondheidstatus van die grond.

image

Die broers poog om alles wat gebeur se gevolg te meet en daarom is rekords van al hierdie gebeure op die plaas, beskikbaar. Elke land se opbrengste is bekend en die inligting word gebruik om die spesifieke land se bestuur en bemesting aan te pas.

“Ons optimeer deur te observeer en ons voetspore in die land te laat,” noem die broers. “As ons ‘n probleem sien, doen ons moeite om dit op te los. Ons probeer fyn waarneem. Baie keer hoor ‘n mens van ‘n oplossing, maar omdat jy nie werklik luister nie, gaan dit by jou verby.”

Hulle glo dat kundiges in die landbou vandag juis daar is om by te dra tot die sukses van ‘n boerdery. Studiegroepe, waar syfers met mekaar vergelyk word, en tydens georganiseerde landbouvergaderings waar produsente ook baie inligting tussen mekaar uitruil en daar sodoende oplossings vir probleme gevind word.

Graanbemarking bly ‘n moeilike taak en ‘n bemarkingsfout kan ‘n hele jaar se harde werk ongedaan maak. Hier het die Eksteen-broers ook weer voorgeloop. Alle graan word op die plaas in silosakke geberg en oor tyd aan kopers verkoop. Hierdie metode het sy eie uitdagings asook geleenthede. Die sakke vergemaklik verseker die oesproses.

Verder word verskillende grade koring afsonderlik geberg en word dit later aan kopers gelewer. In hierdie boerdery word gepoog om so na as moontlik aan die eindverbruiker se rand te kom.

Om te beplan, is om die pad reeds oop te maak, meen die broers. Verskillende opsies kan oorweeg en vergelyk word. Beplanning sonder kontrole help egter min en daarom word aandag gegee aan die werklike gebeure en dit wat beplan was. Berekende kanse moet geneem word. Dit is ook hierdie boerdery se prioriteit om in landbou te bly bele. Sedert die twee broers saam begin boer het, is nog grond aangekoop en die boerdery is uitgebrei.

Goeie arbeiders en goeie arbeidsverhoudinge dra by tot goeie boerderyprestasie. “Ons arbeiders kom al lank saam met ons, daarom is dit maklik om elkeen aan te wend daar waar sy sterkpunte le. Ons loop die pad saam en deur met mekaar te praat, word probleme makliker uitgesorteer, maar word die trots oor sukses wat behaal is, ook gedeel.”

Vir meer inligting omtrent hierdie boerdery, kan Francois by 082 445 3938 en Pieter by 082 444 5002 of Pietman Botha by 082 759 2991 gekontak word.

Publication: June 2013

Section: Other Articles

Search