• Login
  • Search Icon

Breedwerpige voor-planttoediening van kunsmis neem al hoe meer toe

July 2016

RENIER BOTHMA, landboukundige: Opbrengsverbeteringstelsels, Kynoch

 

Die toenemende styging in arbeidskoste, massahantering van kunsmis en verkorte planttyd – veral waar groot oppervlaktes geplant moet word – het veroorsaak dat die voorplantuitstrooi van kunsmis toegeneem het.

 

Breedwerpige toediening van kunsmis voor planttyd word al vir etlike jare suksesvol onder besproeiing aangewend om grondregstellings met kalk, fosfaat en kalium te doen, maar het nou op groot skaal onder droëlandtoestande begin toeneem.

Voordat daar egter na breedwerpige kunsmisplasing oorgeskakel word, behoort die gewas se wortelontwikkeling en voedingsbehoefte asook grondeienskappe, diepte van toediening, die verskillende voedingstowwe en die klimaat in berekening gebring te word.

 

Wortelontwikkeling en voedingsbehoefte

 

Binne die eerste twee weke na-opkoms van die mielieplant, is sy wortels omtrent 100 mm sywaarts en 200 mm diep ontwikkel. Voorsorg moet getref word dat voedingstowwe reeds op hierdie vroeë stadium beskikbaar sal wees om ‘n gesonde saailing met goeie wortelontwikkeling te verseker.

 

Dit is hoekom die bandplaas van kunsmis – veral fosfaat – 50 mm weg en 50 mm onder die saad op hierdie groeistadium so belangrik is. Groot sukses word deesdae met bandplaas plus die gebruik van sogenaamde pop-up-bemesting by die saad verkry om sterk, ge sonde saailinge met goeie wortelontwikkeling te verseker. Voor-plant, breedwerpig-toegediende kunsmis maak op hierdie vroeë stadium feitlik geen bydrae tot die gewas se voedingstofopname nie.

‘n Mielieplant se potensiële aantal koppe word alreeds op groeistadium V5 (ongeveer twee tot drie weke na-opkoms) bepaal en behoort dan alreeds geen voedingstekorte te ondervind nie. Die plant groei veral vanaf groeistadium V8 (ongeveer vier weke naopkoms) baie vinnig en het genoeg voedingstowwe vir selverdeling en selgroei nodig.

Op hierdie groeistadium het die wortels, afhangende van die kleipersentasie van die grond, al ongeveer 600 mm sywaarts en ongeveer 800 mm afwaarts ontwikkel, wat meebring dat breed werpige, voor-planttoegediende kunsmis al ‘n bydrae tot die plant se voedingsbehoefte kan maak.

Dit bring mee dat die wortels by ‘n 0,76 m- en 0,91 m-rywydte reeds in die bogrond bymekaargekom het, wat die effektiwiteit van voedingstofopname sal beïnvloed.

Gedurende die blomstadium bereik wortelontwikkeling ‘n hoogtepunt en gedurende hierdie groeistadium is die mielieplant op sy gevoeligste vir stremming – insluitende water- en voedingstremming. Indien oorweeg word om kunsmis vooraf uit te strooi, moet daar seker gemaak word dat moontlike verliese, deur veral loging, só beperk word dat daar genoegsame beskikbare voedingstowwe gedurende die graanvulstadium tot en met fisiologiese volwassenheid is. Die grondtipe waar voor-plant, breedwerpige toediening gebruik word, is daarom krities.

 

Grondeienskappe

Die eienskappe van die grond (tipe grond) bepaal grootliks die tempo en afstand van die beweging van voedingstowwe in die grond. In sandgronde met ‘n lae katioonuitruilkapasiteit (KUK) kan sekere voedingstowwe vinnig beweeg en besit dit die potensiaal om uit die wortelsone te loog.

By sandgronde wat nie ‘n klei-keerlaag het nie, kan meer as een toediening van stikstofbemesting – veral onder baie nat toestande, meer voordelig wees. Mielies word in die westelike verbouingsgebied dikwels op watertafelgronde wat ‘n klei-keerlaag dieper in die grond besit, verbou.

Hoewel die bogrond sand is, is loging van voedingstowwe in hierdie gronde nie so ‘n groot risiko soos sandgronde sonder ‘n keerlaag (oop-profielgronde) nie. Kleigronde (hoë KUK-gronde), hou meer voedingstowwe vas en loging is minder van ‘n risiko met hierdie tipe grond. In hierdie gronde is denitrifikasie weer ‘n groter risiko.

 

Diepte van toediening

 

Kunsmis word al vir ‘n geruime tyd in die westelike verbouingsgebied voor-plant met skeurploeë tot op ‘n diepte van 300 mm geplaas. Hierdie praktyk het tot gevolg dat versuring op hierdie diepte voorkom, wat weer die uitdaging inhou om grondsuurheid op hierdie diepte en dieper reg te stel.

 

‘n Meer onlangse tendens is dat bemesting – veral stikstof – voorplant breedwerpig bo-op die grond toegedien word. Hierdie praktyk hou die gevaar in dat die stikstof wat in die ureum- of ammoniumvorm (KAN) is, selfs voor planttyd alles tot nitraat omgeskakel kan word, wat dan tot loging kan lei indien die grondtipe dit toelaat.

Indien ureum- en ammoniumbevattende kunsmis ná planttyd uitgestrooi word, kan die gewas ammonium- en nitraatstikstof opneem. Indien stikstofkunsmis voor-plant uitgestrooi word en dit word na nitraat omgeskakel voordat dit as ammonium opgeneem word, word die risiko van ondergrondversuring verhoog.

 

Voedingstowwe

Nie alle kunsmis kan voor-plant uitgestrooi word nie en die keuse hang grootliks af van die oplosbaarheid en beweging van elke voedingstof in die grond. In Grafiek 1 kan gesien word dat stikstof wat tussen 20 mm en selfs 50 mm vanaf die wortel in die grond voorkom, wel opgeneem kan word, terwyl fosfaat slegs 1 mm vanaf die wortel opgeneem kan word. Stikstofbemesting is baie oplosbaar en beweeglik in die grond en is daarom ideaal vir breedwerpige oppervlaktoediening.

Breedwerpige voor-planttoediening van kunsmis neem al hoe meer toe

 

Fosfaat is feitlik nie beweeglik nie en moet dus naby aan die wortels geplaas word. Daar is ook groot sukses behaal met fosfaat wat dieper in nat grond geplaas word – veral as die bogrond geneig is om uit te droog. Fosfaat het gewoonlik die beste uitwerking indien dit gebandplaas word omdat bandplaas die oppervlak tussen die fosfaatbemesting en die grond verminder en sodoende fos faatbemesting se doeltreffendheid verhoog.

 

Kalium kan ook voor-plant of na-plant breedwerpig uitgestrooi word, aangesien dit ook veral op sandgronde kan beweeg. Waar gronde wel kalium vaslê, bly dit beter om die kalium op sodanige gronde wel voor-plant of kleiner hoeveelhede met-plant, te bandplaas omdat dit meer as fosfaat, maar minder as stikstof, in die grond beweeg.

Die toediening van ammoniumbevattende kunsmis en ook ureum, kan tot vervlugtiging lei. Vervlugtiging kan beheer word deur ureum te gebruik wat met ‘n beproefde urease-inhibeerder, soos byvoorbeeld Agrotain®, behandel is. Urease-inhibeerders beheer die hidroliseproses van ureum na ammonium en verseker só dat vervlugtiging tot die minimum beperk word. Hierdie tegnologie bring mee dat ‘n produk soos KynoPlus® bo-op die grond toegedien kan word.

Stikstofkunsmis wat geneig is tot vervlugtiging kan ook nadat dit uitgestrooi is, ingewerk word om vervlugtiging te probeer beperk. Nitraatbevattende kunsmis kan maklik loog en ook denitrifiseer as dit voor-plant toegedien word. Denitrifikasie vind tydens langdurige versuiptoestande plaas en maak die stikstof onopneembaar vir die gewas.

Die element swael word in die grond na sulfaat omgeskakel sodat die gewas dit kan opneem. Ongelukkig kan sulfaat, net soos nitrate, baie maklik uit die wortelsone loog en daarom moet die voorplanttoediening van swaelbevattende kunsmis, net soos ni traatbevattende kunsmis, met groot omsigtigheid hanteer word.

 

Klimaat

 

Klimaat het ‘n reuse invloed op hoe die verskillende tipes kunsmis in die grond gaan reageer. Onder hoër reënvaltoestande en veral op sandgronde is die loging van nitraatstikstof die grootste probleem. Waar die kleipersentasie van die grond hoër is en waar die gronde geneig is om te versuip, is denitrifikasie vanaf nitraatstikstof weer ‘n risiko.

 

Die gewas se ontwikkeling en veral wortelontwikkeling word deur water en temperatuur beïnvloed. ‘n Plant se wortels groei baie stadig tydens koue, nat toestande en dan is die bandplasing van veral fosfaat baie belangrik.

 

Opsomming

 

Ten slotte is dit duidelik dat die gewas se wortelontwikkeling, die gewas se voedingsbehoefte, grondeienskappe, diepte van toediening, verskillende voedingstowwe en klimaat alles faktore is wat in berekening gebring moet word by die voor-planttoediening van kunsmis.

 

Indien al hierdie faktore gesamentlik en in kombinasie gesien word, kan die mees kostedoeltreffende toedieningsmetode geïdentifiseer word.

 

Publication: July 2016

Section: Focus on

Search