• Login
  • Search Icon

Blaarskade op mielies in die 2011/2012-seisoen. hoeveel daarvan was werklik siektes?

September 2012

DR MARYKE CRAVEN, LNR-INSTITUUT VIR GRAANGEWASSE EN DR RIKUS KLOPPERS, PANNAR SAAD

 

Meeste produsente sal saamstem dat die 2011/2012-seisoen gekenmerk is deur ondergemiddelde reënval wat veral prominent was gedurende die tweede helfte van die seisoen. Alhoewel dit slegte nuus ingehou het vir produsente rakende die verwagte opbrengs, het die algemeen droër toestande tog daartoe bygedra dat die voorkoms van blaarsiektes betreklik laag was.

Weens ‘n gunstige mikroklimaat wat deur besproeiing vir siekteontwikkeling geskep word, was dit dus meestal die besproeiingsgebiede wat die hoër vlakke van infeksies ervaar het. In KwaZulu-Natal het blaarsiektes aanvanklik begin kop uitsteek, maar soos die seisoen droër geword het, het die siektevoorkoms begin kwyn.

Blaarsiektes wat prominent was, sluit in noordelike mielieblaarskroei, grysblaarvlek, bruinroes asook bakteriese streep.

Die afgelope seisoen is egter gekenmerk deur die voorkoms van ongekende chlorose (plantweefsel wat geel verkleur) gevolg deur nekrose (bruin, dooie plantweefsel) wat op blare gemanifesteer het. In sommige gevalle het die letsels selfs bandvormig oor die breedte van die blaar gevorm.

Produsente wat probeer het om chemiese beheer toe te pas om verdere skade te beperk, het egter geen verbetering in die plante waargeneem nie. Die hoofrede hiervoor is dat die waargenome simptome in werklikheid min te doen het met beheerbare swamme of selfs met een of ander vorm van bakteriese siekte, maar wel met die son en/of droogtestremming.

Dit word van al hoe groter belang dat produsente die korrekte diagnose maak of kundigheid raadpleeg as dit by hierdie tipe simptome kom. Die afgelope twee tot drie jaar was dit veral grysblaarvlek en bakteriese streep wat tot groot verwarring gelei het weens die ooreenkomste wat bestaan tussen die twee siektes se letsels.

Gedurende die 2011/2012-seisoen was daar ook nog sonbrandskade wat met grysblaarvlek verwar is, wat dit verder gekompliseer het. Met beide bakteriese blaarstreep en sonbrandskade, het die gebruik van duur swamdoders nie die “siektes” beheer nie, maar in werklikheid verder bygedra tot die verliese wat die produsent gelei het aangesien hierdie insette onnodig of verkeerdelik aangegaan is.

Kundigheid rondom die korrekte identifikasie van blaarsiektes kan dus bydra tot die beperking van onnodige uitgawes. Foto 1A tot D (kloksgewys) bevat tipiese letsels wat met elk van die onderskeie prominente blaarsiektes geassosieer word.

image

Noordelike mielieblaarskroei

Noordelike mielieblaarskroei kan onderskei word van die ander blaarsiektes deur sy lang, ovaalvormige, grys-groen letsels wat later verbruin. Die letsels kan tussen 2,5 cm en 15 cm in lengte wees en vorm gewoonlik eerste op die onderste blare, vanwaar dit teen die plant opbeweeg (Foto 1A).

Die fungus, Exserohilum turcicum, veroorsaak noordelike mielieblaarskroei wat oesverliese van tussen 25% en 50% tot gevolg kan hê. Gesien dat noordelike mielieblaarskroei oor die algemeen ‘n groter probleem is onder koeler, vogtige toestande en veral onder besproeiing, is dit belangrik dat produsente moet besef dat daar wel mieliebasters beskikbaar is met weerstand teen noordelike mielieblaarskroei en dat sulke basters oorweeg moet word waar effektiewe beheer nie verkry kan word met swamdoderbespuitings nie.

Noordelike mielieblaarskroei is waarskynlik ook een van die moeiliker swamsiektes op mielies om chemies te beheer as dit eers gevestig het en daarom is voorkomende beheer in hoë-risiko areas ‘n sterk aanbeveling. Die kortgroeiers is vir hul weerstandbiedendheid teen noordelike mielieblaar skroei in die Greytown-omgewing gedurende die 2011/2012-seisoen geëvalueer.

Tabel 1 vervat die basterreaksie op natuurlike infeksie deur die plaaslike noordelike mielieblaarskroei- asook bruinroes-patogene. Hierdie data verteenwoordig eenmalige lesings en word dus slegs ingesluit as ‘n demonstrasie van die relatiewe verskille (d.i. die terme van die risiko) wat hierdie basters in die betrokke omgewing en seisoen getoon het.

Geen statistiese verskille tussen die basters word daarom in hierdie artikel hanteer nie. Verder is dit belangrik om te noem dat studies wat tans by die LNR-Instituut vir Graangewasse gedoen word rondom noordelike mielieblaarskroei en die rasse wat in Suid-Afrika voorkom, toon dat basters in een omgewing weerstand teen die siekte sal kan hê, maar nie in ‘n ander nie.

Die rede hiervoor is dat verskillende omgewings moontlik verskillende “variasies” (of rasse) van dieselfde patogeen bevat, wat daartoe aanleiding kan gee dat die weerstand van basters dalk nie so effektief sal wees in alle omgewings nie. Hopelik sal meer inligting rondom noordelike mielieblaarskroei-rasse binnekort beskikbaar wees. Voorlopig moet produsente die betrokke saadmaatskappye nader vir meer inligting rondom hierdie saak.

image

Bruinroes van mielies

Oesverliese wat geassosieer word met dié siekte is dikwels groter as wat die visuele simptome sou veronderstel en kan afhangende van die kommersiële mieliebaster tot so hoog as 25% wees (Foto 1B).

Die ronde tot langwerpige donkerbruin roespuisies wat kenmerkend is van die siekte, vorm gewoonlik in ‘n tipiese bandpatroon oor die basis van die blaar en kan by baie vatbare basters veroorsaak dat die infeksie die hele blaar kan afsny.

Soos die seisoen vorder en die siekte oorgaan in ‘n rustoestand, word die roespuisies later swart as die russpore vorm. Daar is ook groot verskille tussen kommersiële mieliebasters wat die weerstand teen bruinroes betref. Soos in die geval van noordelike mielieblaarskroei, dui die verskille tussen die basters in Tabel 1 aan dat die risiko van die betrokke basters om siekte te kry, relatief is tot mekaar. Dit kan ook verskil van omgewing tot omgewing aangesien daar ook verskillende rasse van die patogeen voorkom.

Grysblaarvlek

Grysblaarvlek kan onder die regte toestande seker een van die mees destruktiewe blaarsiektes op mielies wees en is lankal nie meer beperk tot slegs KwaZulu-Natal nie. Grysblaarvlekletsels (0,5 cm tot 5 cm) loop in parallelle lyne al tussen die are af, anders as die noordelike mielieblaarskroei-letsels wat geneig is om groter asook ovaalvormig te wees
(Foto 1C).

Hierdie simptome kan soms verwar word met dié van bakteriese blaarstreep en die korrekte diagnose is veral hier van belang aangesien bakteriese siektes nie deur swamdoders beheer word nie. Onder hoëproduksiepotensiaalgebiede, is oesverliese as gevolg van grysblaarvlek van so hoog as 60% al aangeteken.

Bakteriese blaarstreep

Die bakterium Xanthomonas campestris pv. zeae is die siekteveroorsakende organisme en buiten vir die feit dat die siekte endemies tot Suid-Afrika is en dat daar moontlike verskille tussen basters is, is daar bitter min oor die organisme, sy siektesiklus, epidemiologie en die oesverliese wat dit kan veroorsaak, bekend (Foto 1D).

Gedurende die 2011/2012-seisoen was die siekte meer prominent in die Noordwes Provinsie en die noordelike Vrystaat. Bakteriese blaarstreep-letsels word dikwels verwar met dié van grysblaarvlek omdat die letsels ook beperk word tot parallelle strepe tussen die are.

Die verskil is egter dat die bakteriese blaarstreep ‘n meer onreëlmatige, golwende letsel maak teenoor die meer reguit, rigiede letsel van grysblaarvlek. Wanneer ‘n bakteriese blaarstreep-letsel oor die letsel geknip word en van nader onder ‘n mikroskoop beskou word, kan die bakteriese uitvloei vanuit die letsel waargeneem word, wat nie die geval is met grysblaarvlek of noordelike mielieblaarskroei nie.

Dit is baie belangrik om kennis te neem dat geen swamdoder of alternatiewe middel geregistreer is wat dit effektief kan beheer nie.

Sonbrandskade

Vroeë simptome wat met sonbrand en gepaardgaande droogtestremming geassosieer word kan aanvanklik op die oog af baie soos grysblaarvlek lyk (Foto 2A en 2B). Met tyd versmelt die beskadigde weefsel tot so ‘n mate dat dit nie meer die tipiese voorkoms van grysblaarvlek het nie (Foto 2C en 2D).

image

Dit was ook kenmerkend binne die LNR-kultivarevaluasieproef (medium tot lang groeiers) dat daar groot basterverskille voorgekom het. In sommige mieliebasters was die blaarskade so ernstig dat dit ook die opbrengs van die basters nadelig beïnvloed het. Uit hierdie baie basiese evaluering is dit duidelik dat daar tog meriete vir verdere navorsing oor die onderwerp is.

Vanuit ‘n patologiese oogpunt sal die 2011/2012-seisoen in die droër, warmer areas nie onthou word as die jaar van blaarsiektes nie, maar eerder vir die droogte en sonbrandskade wat voorgekom het en die verwarring wat daartoe gelui het dat produsente onnodig uitgawes aangegaan het om die “siekte” te beheer.

Die abnormale hoë temperature wat in ‘n tipiese midsomersdroogtetoestand gemanifesteer het, verklaar die skade wat waargeneem is. Die groeistadium van die mieliebaster onder hierdie abnormale ongunstige toestande asook die kwesbaarheid van die betrokke baster moet sinkroniseer om hierdie skade mooi te wys. Hierdie seisoen het dit moontlik gemaak om die relatiewe kwesbaarheid van sekere basters waar te neem en die tendens sal fyn dopgehou moet word in die toekoms.

Die verantwoordelikheid lê egter steeds by die produsent om die probleem korrek te laat identifiseer indien daar onsekerheid is, voordat stappe geneem word om groot uitgawes aan te gaan en onnodige chemiese beheer toe te pas.

In hierdie verband is produsente baie welkom om die plantpatoloë by die LNR-Instituut vir Graangewasse te kontak vir hulp asook om die webblad www.pannar.com te besoek waar feiteblaaie van al die genoemde mieliesiektes beskikbaar is asook addisionele foto’s van simptome.

Publication: September 2012

Section: Input Overview

Search