• Login
  • Search Icon

Bewaringslandboukonferensie op Ottosdal gehou

May 2014

DIRK KOTZÉ, ledebeampte en kommunikasiebeampte, Graan SA

Die Ottosdal No Till klub het op 13 en 14 Maart vanjaar, in samewerking met Graan SA en die Mielietrust, ‘n baie geslaagde bewaringslandboukonferensie aangebied. Die konferensie is deur ongeveer 300 produsente en ander belangstellendes bygewoon.

Die geleentheid het ook ‘n internasionale geur gehad met bywoning deur die adjunk-ambassadeur van Argentinië, mnr Juan Miguel Cassissa, tesame met ‘n afvaardiging van die National Institute of Agricultural Technology (INTA) in Argentinië.

Nadat konferensiegangers verwelkom is deur mnr Hannes Otto (produsent van Ottosdal), is die konferensie geopen deur mnr Jannie de Villiers (uitvoerende hoofbestuurder van Graan SA), waarna aanbiedings gelewer is deur mnr Carlos Galarza van INTA oor suksesvolle bewaringslandbou in Argentinië asook deur dr Tim LaSalle (bewaringslandbounavorsingskoördineerder van die Howard Buffet Foundation se plaas Ukulima in Limpopo).

Nadat mnre Jack Human (pionierbewaringsprodusent van die Wes-Kaap), George Steyn bewaringsprodusent van Ottosdal) en dr Andre Nel (senior navorser van die LNR-Instituut vir Graangewasse) die produsente toegespreek het, is veldbesoeke gebring aan verskeie proefpersele wat deur Graan SA en die Mielietrust befonds is en in samewerking met die Ottosdal No Till klub geïmplementeer is.

Die tweede dag is ingelei deur mnr Karabo Peele (voorsitter van die Mielietrust) en is gevolg deur verskeie bewaringsprodusente, onder andere uit die Vrystaat en Noordwes Provinsie, wat hulle suksesse en probleme met betrekking tot bewaringslandbou met die konferensie gedeel het.

Na afloop van die groepbespreking aan die einde van die dag is die Landbouweekblad-prys vir die beste spreker toegeken aan mnr Adriaan Dreyer van SGS/NVIRO CROP vir sy aanbieding oor grondverdigting in die Ottosdal-omgewing.

Die konferensie blyk baie geslaagd te wees gesien dat daar reeds van die produsente navraag gedoen het oor ‘n opvolgkonferensie tydens ‘n gesprek met dr Hendrik Smith (bewaringslandboufasiliteerder by Graan SA). Duidelik is daar ‘n groot behoefte by die produsente dat so ‘n konferensie jaarliks aangebied word.

image

Publication: May 2014

Section: Input Overview

Author: DIRK KOTZÉ, ledebeampte en kommunikasiebeampte, Graan SA

Search