• Login
  • Search Icon

Bewaringslandbou vereis ‘n hoër mieliestand

March 2017

ANDRÉ NEL, onafhanklike akkerboukundige en HENDRIK SMITH, bewaringslandboufasiliteerder: Graan SA

Plantestand kan ‘n groot invloed op die opbrengs van ʼn gewas hê. ‘n Té lae stand het tot gevolg dat individuele plante gewoonlik baie goed presteer, maar op landskaal (ruimtelik) word skaars of beperkte hulpbronne en insette soos grond, reënval en bemesting ondoeltreffend benut.

‘n Té hoë plantestand aan die ander kant, veroorsaak kompetisie tussen plante vir hulpbronne en insette wat individuele plante swak laat presteer en op landskaal die opbrengs kan onderdruk.

Die plantestand is redelik beheerbaar en dit is logies dat dit, akkerboukundig gesien, só bestuur moet word dat dit nie die opbrengs beperk nie. Saadkoste kan aansienlik wees en gevolglik is die ekonomiese optimum in die praktyk eerder die aangewese plant populasiemikpunt.

Akkerboukundiges het ‘n omvattende definisie vir die optimale plantestand daargestel: Die optimale plantestand vir enige gegewe opbrengspotensiaal het volwasse plante tot gevolg wat dig genoeg staan om die reënval, voeding en sonlig optimaal te benut, maar ook nie so dig te staan dat sommige plante afsterf of onproduktief bly nie.

Teen dié stand word produksie op die land geoptimaliseer, alhoewel individuele plante minder graan produseer as plante wat geen kompetisie van ander plante het nie.

Die optimale plantestand word dus deur die opbrengspotensiaal van ‘n land bepaal. In die somersaaigebied word die opbrengs potensiaal deur die reënval en die waterhouvermoë van die grond profiel bepaal. Soos ons weet, regverdig ‘n hoër opbrengs potensiaal ʼn hoër plantpopulasie.

Daar is ook ander faktore wat die optimale plantestand op ʼn sinergistiese wyse beïnvloed, wat soos volg gedefinieer kan word:

Kultivar
Verskillende kultivars het elk ‘n bepaalde groeiwyse en vermoë om by sekere omstandighede aan te pas. Selfs die plantdatum van ʼn kultivar beïnvloed die optimale plantestand.

Reënval
In die somersaaigebied speel reënval verreweg die belangrikste rol in die keuse van plantestand. Die reënval wissel egter baie van seisoen tot seisoen en daarom ook die optimale plantestand. ʼn Plantestand wat in die meerderheid van seisoene nie die opbrengs gaan beperk nie, moet gevolglik nagestreef word.

Grondbestuurspraktyke
Een faktor wat ‘n verrassende groot invloed op die optimale plantestand van mielies het, is bewerking of geenbewerking. Alle aanduidings is tans dat ‘n hoër optimale plantestand vir mielies meer haalbaar is met geenbewerking (as deel van bewaringslandbou) as onder konvensionele bewerking – veral wanneer al die faktore meewerk om belangrike omgewingsdienste soos grondgesondheid te maksimaliseer.

In teenstelling met mielies is alle aanduidings dat die optimale plantestand van sonneblom en peulgewasse dieselfde in konvensionele en bewaringslandboustelsels is.

Die hoër optimale stand van mielies het waarskynlik met die relatiewe swak penetreervermoë van sy wortelstelsel te doen, asook die verandering in opbrengspotensiaal.

Met geenbewerking is die penetrasieweerstand van die grond aanvanklik hoër as onder bewerking. Dit vertraag waarskynlik die tempo waarteen die wortelstelsel ontwikkel en die volume grond wat elke mielieplant se wortelstelsel onder geenbewerking kan benut.

Oor tyd sal die verbetering in grondstruktuur, grondbiologie en die teenwoordigheid van wortelkanale (onder andere as gevolg van die integrasie van dekgewasse) onder bewaringslandbou ‘n goeie verspreiding van plantwortels in die grondprofiel verseker.

Peulgewasse en sonneblom, wat penwortelstelsels het, word nie op dieselfde wyse as mielies beïnvloed nie. Die plantestand hoef dus nie vir dié gewasse onder geenbewerking aangepas te word nie.

Rywydte
Die positiewe impak van plantestand op grondgesondheid en gewas opbrengs, veral in bewaringslandboustelsels, word baie nou geassosieer met rywydte. Rywydtes nouer as 0,9 m verbeter en versnel die bedekking van die grond ná plant, verlaag die verlies van grondwater deur verdamping, verbeter die onderdrukking van onkruide en veroorsaak ‘n meer eweredige verspreiding van plante en dus ook wortels in die grondprofiel.

Dit stel plante in staat om die gebruik van sonstrale vir fotosintese te maksimaliseer en die grondwater eerder te gebruik in die groeiproses (sogenaamde “groen water”), as om dit deur verdamping verlore te laat gaan.

Die Argentyne het reeds vasgestel dat die optimale tussenrywydte vir bewaringslandbou 0,5 m of 0,52 m is. Die meeste plaaslike rywydtes is 0,9 m of wyer met enkele produsente wat hul somergewasse in nouer rye plant.

Resultate by Ottosdal
Resultate wat deur die Mielietrust-ondersteunde proefwerk van die Ottosdal No-till klub gedoen is, bevestig bogemelde. In die Ottosdal-omgewing is die optimale stand van konvensioneelbe werkte mielies van 18 000 tot 24 000 plante per hektaar.

Al die plantestandproewe met mielies wat tot dusver gedoen is, dui daarop dat die optimale stand in bewaringslandboustelsels – en dus onder geenbewerking – hoër as 30 000 is – waarskynlik in die omgewing van 35 000 tot 40 000 plante per hektaar.

In een van die geenbewerkingsproewe wat met sonneblom gedoen is, is die opbrengs nie deur die stand wat van 35 000 tot 50 000 plante per hektaar gewissel het, beïnvloed nie. In ‘n tweede proef is die opbrengs wel beïnvloed, met die optimale stand in die omgewing van 35 000 tot 40 000. Dit is tipiese resultate wat met bewerkte grond verwag sou word en dui aan dat die optimale stand vir sonneblom nie deur bewerking van die grond beïnvloed word nie.

Rywydtes is ook een van die aspekte wat deur die Ottosdal Notill- klub ondersoek word. Interessante resultate is ook hiermee behaal. In 50% van die mielieproewe was die opbrengsverskil tussen 0,75 m- of 0,9 m-rye aan die een kant en die 0,5 m-rye aan die ander kant, onbeduidend. In 31% van die proewe het die 0,5 m-gespasieerde rye beduidend beter as die wyer rye gevaar en in slegs 19% van gevalle het die wyer rye die bo-toon gevoer.

By ‘n rywydte van 0,5 m met ‘n 40 000 plantpopulasie is mielies se tussen- en binneryspasiëring dieselfde. Elke plant is ewe ver van sy twee buurplante binne dieselde ry en die buurplante van die twee aanliggende rye. Dit is dus logies dat die ideale spasiëring die tussenplantkompetisie so laag moontlik hou, terwyl die verspreiding van die blaredak en wortels so eweredig moontlik be hoort te wees.

Sonneblom vaar ook beter in die 0,5 m- as die 0,9 m-gespasieerde rye. Vier groot proewe wat tot 9,5 ha elk beslaan het, is reeds met sonneblom gedoen. In dié proewe was die opbrengs van die 0,5 m-rye gemiddeld 159 kg/ha hoër as die opbrengs van die 0,9 m-gespasieerde rye. ‘n Moontlike verklaring vir die resultaat is, soos by mielies, ‘n minimalisering van tussenplantkompetisie en eweredig-verspreide wortels wat die grondprofiel ten beste benut vir water en voedingstowwe.

In al hierdie proewe met nouer rye en hoër stand is gesien dat onkruid gouer deur die gewas oorskadu word as in wyer rye. ʼn Gebrek aan sonlig tussen die mielieplante beteken dat die groei van onkruid beperk word, die kompetisie wat die onkruid op die gewas uitoefen verlaag en onkruidbeheer makliker word. Sommige onkruide skiet glad nie saad nie.

Bevindings van die proefwerk by Ottosdal is nog nie finaal nie. Genoegsame seisoenvariasie moet eers ingebou word voordat finale gevolgtrekkings gemaak kan word. Verder is dit ook belangrik om daarop te let dat heelwat gewasproduksie-aspekte, soos die plantestand, omgewingsafhanklik is.

Bewaringslandbou, waarvan geenbewerking, wisselbou en ‘n deklaag van oesreste die beginsels is, verander die omgewing – veral die grond waarin die gewas verbou word. In Suid Afrika, waar gronde meestal gedegradeerd is as gevolg van dekades se intensiewe bewerkingspraktyke, sal die verwagte positiewe impak op grondgesondheid en opbrengs nie noodwendig onmiddellik realiseer nie en moet ‘n langtermynvisie gehandhaaf word. Resultate sal ook afhang van hoe korrek hierdie bewaringslandboupraktyke toegepas word. Produsente wat dus elders van konvensionele bewerking na bewaringslandbou oorskakel, behoort soortgelyke proefwerk te doen om die optimale plantestand vangewasse in daardie omgewing te bepaal.

Publication: March 2017

Section: Focus on

Search