• Login
  • Search Icon

Bewaringsdag fokus op dekgewasse en vee-integrasie

January 2018

SUZETTE SMALBERGER, VKB en DR HENDRIK SMITH, Graan SA

‘n Bewaringslandbouboeredag is op 24 Augustus verlede jaar by die Ascent Silo naby Vrede gehou, as deel van ‘n projek wat gesamentlik deur Graan SA, die Ascent-studiegroep en VKB geïmplementeer word. Die projek word deur die Mielietrust befonds. 

Die boeredag het gefokus op die rol van dekgewasse en vee-integrasie as deel van bewaringslandbou. 180 mense het die dag bygewoon. Hulle was meestal van die Vrystaat (67%), maar ook van Gauteng, Mpumalanga, Noordwes Provinsie en die res van Suid-Afrika. 

Aanbiedings het ingesluit:

  • Bewaringslandbouvideo’s en -inleiding (dr Hendrik Smith,Graan SA) 
  • Bewaringslandbou in die VSA – toer-ervarings (Izak Dreyer, Vrede) 
  • Oorsig oor Ascent-VKB-Graan SA-bewaringslandbouproewe (dr Robert Steynberg, VKB)
  • Bewaringslandbou in die Ascent-Vrede-omgewing (Izak Dreyer) 
  • Die ekonomie van dekgewasse en vee-integrasie op Vrede (Dewald Vosloo, Saamstaan Voere)
  • Die ekonomie van graanproduksie in die Vrede-omgewing (Jaco Heckroodt, VKB)

Na die formele voorleggings by Ascent Silo was daar ‘n reeks demonstrasies op die plaas Skulpspruit van mnr Izak Dreyer, waar die volgende aspekte aan die besoekers gedemonstreer is: 

  • Dekgewasse; 
  • elektriese heinings (vir weidings); 
  • geenbewerkingsplanters; en 
  • weidingstelsels. 

‘n Meningsopname wat onder die deelnemers gehou is, het ge­t­oon dat produsente wat die dag bygewoon het, die volgende praktyke toepas: Geenbewerking (19%), konvensioneel – ploeg en skeurploeg (18%), bewaringslandbou (18%), veeboerdery (18%), strookbewerking (15%), terwyl 11% uit ander bedrywe kom. 95% van die produsente stel belang om bewaringslandbou toe te pas. 

Die opname het ook uitgewys dat die faktor wat produsente die meeste daarvan weerhou om bewaringslandbou toe te pas, ‘n tekort aan kennis is – 36% van die produsente het dit so aangedui. Ander redes sluit in: ‘n Tekort aan die regte implemente (23%), finansies (13%), verkeerde en gedegradeerde grond (9%) en onge­definieerde redes (19%). 


 

Publication: January 2018

Section: Relevant

Search