• Login
  • Search Icon

Bewaring van oesresidu's is van kardinale belang

November 2013

DR JOHANN STRAUSS, WETENSKAPLIKE: VOLHOUBARE PRODUKSIESTELSELS, DIREKTORAAT PLANTWETENSKAPPE, WES-KAAPSE DEPARTEMENT VAN LANDBOU EN SEKRETARIS: BEWARINGSLANDBOU WES-KAAP

Die behoud van oesresidu’s bo-op die grondoppervlak is van kritieke belang binne ‘n bewaringslandbou-omgewing. Selfs indien jy nie glo in die konsep van bewaringslandbou nie, bly dit steeds van belang en hopelik oortuig die inligting wat volg die ongelowiges.

Stoppelinhoud

Produsente streef daarna om hul insetkoste te verlaag en hul oeste te vergroot. Uit navorsing wat oor die afgelope
18 jaar op Langgewens (die navorsingsplaas van die Wes-Kaapse Departement van Landbou) gedoen word, het dit duidelik gewys dat die grootste direkte insetkoste, dié van bemesting is.

Dit beloop ongeveer 30% tot 40% van die totale direkte insetkoste na gelang van die tipe wisselbou produksiestelsel wat gevolg word. Binne die stelselnavorsing is daar beide kontantgewas- en kontantgewas/veestelsels.

Daar is deurentyd gepoog om soveel as moontlik materiaal ná oes te behou, selfs in die stelsels waar vee in die somer op die residu’s gewei het. Baal, brand en selfs die wei van die oesresidu’s het ‘n direkte effek op die voedingstofinhoud van ons gronde wat dan weer ‘n effek het op die hoeveelheid bemesting wat benodig word vir gewasverbouing.

image Tabel 1 (aangepas uit werk wat deur die International Plant Nutrition Institute [IPNI] en AG-PHD [Amerikaanse landbou radio- en TV-besigheid] saamgestel is) toon die hoeveelheid voedingstowwe aan wat deur ‘n 4 ton koringoes verwyder word en watter gedeelte binne die oesresidu’s vasgevang is. Hierdie tabel kan vir ander gewasse ook opgeroep word deur middel van ‘n toepassing (app).

Tabel 1 maak ons opnuut bewus van hoe belangrik ons oesreste is vir die volhoubaarheid van ons produksie. Ons moet oesresidu’s vir ons laat werk. Navorsing wat in Suid-Amerika gedoen is, het getoon dat die baal en verkoop van residu’s in die lang termyn ‘n kleiner inkomste vir die produsent tot gevolg het en dat sy grond ook meer uitgeput word. Indien jy jou residu’s verkoop aan ‘n ander, verarm jy jou eie grond, want al jou voedingstowwe wat in die stoppel vasgevang is, beland nou in die koper se grond.

Die brand van residu’s het dieselfde effek. Die feit dat produsente steeds residu’s brand om onkruid te beveg (meestal oneffektief) en om makliker te kan plant met ‘n tandplanter, is nie die antwoord nie. Dit is in baie gevalle net ‘n verskoning om nie ‘n bietjie te sukkel nie, maar as jy werklik ‘n bewaringslandbouer wil wees, sal jy die kopskuif moet maak en afsien van dié tipe praktyk en soek vir alternatiewe. Daar is genoeg produsente deur die Wes-Kaap wat kan getuig van die waarde daarvan om nie te brand nie.

Koelte en vogbewaring

Suid-Afrika is ‘n land van sonskyn; somertemperature in die Wes-Kaap kan maklik tot in die lae 40°C klim. Sonder bedekking kan die grondtemperature in die bogrond tot 80°C klim, terwyl die temperatuur, onder bedekking val tot onder 40°C (sien Foto 1 en Foto 2). Sodra die temperatuur bo 40°C styg, word die lewe in die grond benadeel en kan die mikro-organismes nie hul werk behoorlik doen nie.

Erosie

Ons verloor jaarliks meer vrugbare grond in Suid-Afrika as wat nuwe grond gevorm kan word, omtrent so 400 miljoen ton per jaar. Hierdie verlies is 60 keer meer as wat grondvorming is. Foto’s 3 tot 5 verklaar hierdie verskynsel. Die drie grondbedekkings is blootgestel aan 60 mm reën in 20 minute.

image

Foto 1 en Foto 2: In Februarie vanjaar tydens 'n besoek aan 'n jong produsent in die Caledon-omgewing was dit ongelooflik om onder die stoppellaag te voel hoe koel die grond is en selfs die mate van vog waaroor dit nog beskik, soveel so dat jy die grond kon saampers in 'n kluit. Dit het weer eens bevestig dat ons in ons waterskaars land nie sonder bedekking kan of moet gaan nie.

Foto's 3 tot 5: Die foto's alleen behoort reeds genoeg oortuiging te wees in belang van residu-bewaring. Die erosie wat met konvensionele grondbewerkingspraktyke veroorsaak word, sluit ook die verlies aan organiese koolstof in. In die Swartland het konvensionele bewerking gelei tot koolstofinhoude van onder 0,5%. Die enigste manier om hierdie inhoud te verhoog, is deur die bewaring van residu's.

Onkruidonderdrukking

Baie van die onkruidspesies waarmee ons probleme ondervind, soos raaigras in die Wes-Kaap, bied weerstand teen verskeie van die chemiese groepe wat beskikbaar is. Ons moet met alternatiewe na vore kom om die onkruid te beveg.

Die gebruik van tandplanters kan die ontkieming van raaigras aanhelp deur die grondversteuring wat dit veroorsaak. Skyfplanters kan ook ‘n oplossing wees vir die grondversteuringsprobleem. Onkruid kan onderdruk word deur genoegsame residuvlakke wat die grondoppervlak bedek. Onkruide kan oorskadu word deur die gebruik van dekgewasse wat vinnig baie materiaal lewer en dit só onderdruk. ‘n Probleemkamp kan deur die onttrekking van produksie baat deur die gevolglike verlaging en selfs vernietiging van die onkruidsaadbank in só ‘n kamp. Ons is egter op hierdie stadium nog maar skugter om so ‘n drastiese stap te neem.

Dis nou of nooit

Die tyd vir die wegbeweeg van konvensionele grondbewerkingspraktyke en hoe ons oor ons oesreste dink, het aangebreek. Die volhoubaarheid van ons landbou is belangrik, want voedselsekerheid is onlosmaaklik deel daarvan vir alle produsente; maak nie saak hoe groot of klein jou boerdery is nie.

Ons het nog ‘n lang pad om te stap met bewaringslandbou en onthou net, daar is geen waarborg dat dit maklik gaan wees nie.

Vir meer inligting, kontak dr Johann Strauss by johannst@elsenburg.comof 082 907 3109.

Publication: November 2013

Section: Input Overview

Search