• Login
  • Search Icon

Bestuur diplodia en die risiko’s só

October 2010

ESTIE DE VILLIERS, ASSISTENT-REDAKTEUR: SA GRAAN/GRAIN

Diplodia het die afgelope produksieseisoen so te sê landswyd by mielies voorgekom en het uitermatige opbrengsverliese en graadprobleme veroorsaak. SA Graan/Grain het met die saadmaatskappye gaan gesels om vir ons produsente antwoorde op hul vrae hieroor te gee.

Dit blyk dat diplodia by van al die saadmaatskappye se kultivars voorgekom het. Dit het regdeur al die areas voorgekom, maar die oostelike produksie-area is die ergste geraak.

Klimaatstoestande en omgewingsfaktore gedurende die seisoen het baie gunstige omstandighede vir die voorkoms van diplodia geskep en al drie aspekte van die siekte driehoek was teenwoordig: ‘n gasheer, die siekte en omgewingstoestande. Monokultuurverbouing en bewerkingspraktyke, soos stoppelbewerking, was ook bydraende faktore tot die probleem gewees.

Speel kultivar ‘n rol?
Dit wil voorkom of sekere kultivars meer verdraagsaam teenoor diplodia is as ander, maar daar is nie kultivars wat totaal weerstand teen die siekte bied nie. Van die basters waarby meer diplodia hierdie seisoen voorgekom het, is veral van die ultravinnige hoë potensiaal opbrengsbasters wat ‘n kort groeiseisoen het en ongunstige toestande het hulle op ‘n sekere stadium net meer beïnvloed.

Dit is ook nie noodwendig dat alle nuwe kultivars meer vatbaar vir diplodia is nie, alhoewel meer klem deesdae op opbrengs eerder as aspekte soos siekteverdraagsaamheid en stabiliteit gelê word.

Wat kan ek doen om diplodia te bekamp?
Volgens die saadmaatskappye kan diplodia nie soseer beheer word nie – dié risiko moet net beter bestuur word.

Diplodia oorleef hoofsaaklik in oesreste en hoe beter die oesreste bestuur word, hoe laer die gevaar van infestasie. Wisselbou met ‘n nie-gras gewas; bewerkingsmetodes wat oesreste onder die grond in werk (soos diep ploeg); en ‘n gebalanseerde bemestingsprogram word aanbeveel.

Bewerings bestaan ook dat sekere nuwe saadbehandelings die weerstand van plante kan verhoog deur skadelike swamme se groei te help beperk. Verder kan ‘n produsent dit oorweeg om, as die inokulum baie hoog is, die lande te brand, maar dit is nie ‘n praktyk wat voorgeskryf word nie, aangesien dit baie van jou noodsaaklike grondorganismes vernietig.

Die belangrikste voorsorgmaatreël wat ‘n produsent egter kan tref, is om ‘n pakket van basters uit verskillende groeiklasse te plant en om siekterisiko sodoende so ver moontlik te versprei. Neem ook basters se siekteweerstand in ag en nie net opbrengs nie.

Soos een van die saadmaatskappye tereg sê: Moenie al jou eiers in een mandjie sit nie.

Kliek op  https://www.grainsa.co.za/documents/SAGraan%20Okt%2010_Bestuur%20diplodia.pdf  vir die volledige artikel.

Publication: October 2010

Section: Wenartikels

Search