• Login
  • Search Icon

Besinning oor die toekoms

May 2013

— 'n paar gedagtes oor boedelbeplanning in die boerderysektor
 

image

DR STEFAN STRYDOM, PRICEWATERHOUSECOOPERS

Die opmerking dat dit goed gaan met ‘n land wat se landbousektor sterk en gesond is, word gereeld gehoor en word allerweë as korrek aanvaar. Dit is egter waar dat vandag se produsente onder massiewe politiese, sosiale en finansiële druk verkeer.

Baie van hierdie faktore kan kwalik deur hulle beheer word en ons weet almal dat dit wat buite jou beheer is, die meeste druk en spanning veroorsaak. Politieke onstabiliteit, gedurige veranderinge in die arbeidswetgewing, swart ekonomiese bemagtiging (SEB) en die weersomstandighede speel alles ‘n rol hierin.

Voeg hierby die kwessie oor die vererwing van die produsent se nalatenskap en die kontinuïteit van sy boerderybesigheid en ‘n mens besef terdeë dat die tyd lank reeds verby is dat produsente net bekommerd is oor môre se reën.

Oorwegings aangaande die vererwing van sy nalatenskap en die kontinuïteit van sy boerdery na sy afsterwe is die onderwerp van hierdie artikel.

Dit is baie belangrik dat produsente deeglike opvolg- en boedelbeplanning doen. Dit behels ‘n proses waar sy huidige finansiële en boedelposisie in oënskou geneem word, die risiko’s geïdentifiseer word met sy afsterwe in gedagte en planne beraam word om hierdie risiko’s behoorlik aan te spreek. Die produsent se aftredebeplanning kan natuurlik ook hieronder sorteer, maar dit is ‘n onderwerp vir ‘n ander dag.

Dit wat ons hier van praat, sluit onder andere in ‘n proefbereddering van sy boedel, belastingbeplanning, likiditeitsbeplanning en beplanning om ‘n suksesvolle oorgang aan nasate te verseker. Só ‘n beplanning verg dikwels ‘n spanpoging en insette deur die produsent self, sy familie, ‘n persoon in ‘n finansiële outoriteitsposisie, soos ‘n ouditeur, rekenmeester of makelaar asook die prokureur, kan in die proses benodig word.

Kontinuïteit

Dit verg dikwels van die produsent om eerlik met homself te wees en te vra of sy kind/ers die boerderybesigheid met die dieselfde passie, deernis en dryf sal bestuur ná sy afsterwe. Is hulle bevoeg en bekwaam om dit te kan doen en/of beoefen hulle ander beroepe wat ‘n voltydse boerdery onmoontlik sal maak?

Indien een van die seuns byvoorbeeld die boerdery wil oorneem, wat laat die produsent aan sy ander kinders na om ‘n billike nalatenskap te bewerkstellig? Hoe sorg hy byvoorbeeld vir dogters? En hoe gemaak met die voorsiening vir die langslewende eggenoot?

Produsente hou gewoonlik niks van die moontlikheid dat sy eggenote in die oë van die kinders moet kyk vir haar toekomstige onderhoud en voorsiening ná sy afsterwe nie, maar dit is dikwels wat gebeur.

Tipes belastings by afsterwe

Belasting is ‘n uiters belangrike aspek wat in ag geneem moet word om ‘n behoorlike boedelplan daar te stel. Die produsent moet weet welke belastings by sy afsterwe die likiditeitsposisie van sy boedel kan erodeer. Gebrekkige likiditeit kan natuurlik daartoe lei dat van die boedelbates verkoop sal moet word.

By die afsterwe van ‘n natuurlike persoon, word hy/sy geag al sy/haar bates teen markwaarde te vervreem het, met die nodige kapitaalwinsbelasting wat gehef word op die groei van die bate sedert aankoop. Gevolglik sal alle groeibates in die produsent se eie naam aan kapitaalwins belasting by sy afsterwe onderwerp word.

Hiervan word uitgesluit alle groeibates wat aan sy gade bemaak word. Indien die produsent lewende hawe in sy eie naam besit het, sal die verskil tussen die markwaardes en die standaardwaardes daarvan by sy afsterwe aan kapitaalwinsbelasting onderhewig wees.

Daarbenewens sal daar by die afsterwe van enige natuurlike persoon ook op die netto batewaarde van sy/haar boedel, boedelbelasting gehef word in sover dit R3,5 miljoen te bowe gaan. Weer eens kan die waarde van bates wat na die langslewende gade vererf, afgetrek word.

Hierdie rabat van R3,5 miljoen kan verhoog word na R7 miljoen by die langslewende gade se afsterwe waar die
R3,5 miljoen rabat glad nie in die vooroorlede gade se boedel benut is nie. Dit is duidelik dat as gevolg van die aftrekking wat geld vir vererwing aan langslewende gades, die versoeking soms baie groot is om alle bates aan hom of haar na
te laat.

Die belastingimplikasies moet egter soms die knie buig voor die praktiese. Wil die produsent sy vrou met die besluite laat oor wie eendag na haar afsterwe wat moet kry? Wil hy rêrig die risiko loop dat as sy weer trou, sy nalatenskap aan haar dalk nooit by die kinders kan eindig nie? Daar word tans bespiegel dat of die een of die ander tipe belasting by afsterwe afgeskaf gaan word. Welke een sal ons maar moet sien.

BTW is natuurlik ook ‘n moontlike belasting wat ter sprake kan kom waar die produsent as ‘n BTW ondernemer geboer het en besigheidsbates nalaat aan iemand wat glad nie die bates vir besigheiddoeleindes sal gebruik nie.

Dit is gewoonlik nodig om sodanige erfgename vir BTW te registreer, maar met die huidige probleme wat ervaar word om iemand met geen bestaande besigheid as BTW ondernemer te registreer, ontaard dit dikwels in ‘n nagmerrie.

Die trust en die voordele daarvan

Die voordele van ‘n trust sluit in die skeiding tussen die beheer en eiendomsreg van trustbates, wat onder andere ook die bates kan beskerm teen moontlike krediteure.

Kom ons verduidelik die situasie soos volg: Die produsent doen regtens afstand van die eiendomsreg oor sy bates ten gunste van die trust. Die trustees van die trust sal dan eiendomsreg oorneem en sal dan die bates in die trust bestuur volgens die bepalings van die trustakte. Gevolglik word die bates by die produsent se afsterwe nie vir boedelbelastingdoeleindes as syne geag nie, maar hy behou steeds ‘n mate van beheer daaroor uit hoofde van sy trusteeskap gedurende sy lewe.

Die bates wat by die produsent se afsterwe in die trust setel, is ook nie onderhewig aan die beredderingsproses nie en dus geskied erfopvolging op ‘n eenvoudiger wyse. Daar bestaan egter deesdae die moontlikheid dat die bates van die trust ook ingesluit kan word by die boedelbelastingberekening van die natuurlike persoon.

Daar is ‘n wetsartikel in die Boedelbelastingwet wat dit moontlik maak vir die SAID om dit só toe te pas waar die oorledene bevind was gedurende sy lewe bevoeg was om oor die bates van die trust te kon beskik vir sy voordeel of vir dié van sy boedel.

In kort kom dit daarop neer dat hy nie te veel beheer oor die trustbates uit hoofde van die trustakte moes gehad het nie. Daarom is dit so belangrik om te verseker dat die trustakte korrek opgestel word, dat die trustees die korrekte magte en bevoegdhede moet hê en dat die boedeleienaar se beheer beperk word.

In die Begrotings rede gelewer in Februarie vanjaar is heelwat gesê oor die moontlikheid dat die eienskappe van ‘n trust waardeur inkomste- en boedel belastingbesparing teweeggebring kan word, deur latere wetgewing aangespreek gaan word.

Die uitsprake in die Begrotingsrede in hierdie verband was egter so openlik kontrasterend dat ‘n mens wonder of Tesourie dit met opset doen om sy voornemende aanvalsmetodiek te verdwerg. Ons kan net wag en kyk wat in hierdie verband sal gebeur, maar dit verdien om vermeld te word dat ons al soveel male hierdie dreigement gehoor het en dat niks nuut is vir ons nie.

Die belang van ‘n testament

Dit is nie moontlik om die belangrikheid van ‘n behoorlik opgestelde testament te oorbeklemtoon nie. Hierdie dokument is ‘n kritieke deel van enige behoorlike boedelbeplanning. Sonder ‘n testament sal die bereddering van die boedel ingevolge die Wet op Intestate Erfopvolging geskied, wat dikwels kan lei tot omstandighede wat die produsent nie wou gehad het nie, wat natuurlik ook tot negatiewe belastingimplikasies aanleiding kan gee.

Daar moet onthou word dat net daardie bates wat aan die produsent self behoort het, by wyse van die testament aangespreek en vererf kan word. Bates in trust moet natuurlik op ander wyses nagelaat word. Dit gebeur egter gewoonlik dat die produsent bates aan die trust oorgedra het teen ‘n leningsrekening. Daardie leningsrekening is aan hom verskuldig en dit vorm natuurlik ‘n bate in sy boedel wat hy in terme van sy testament sal moet vererf. Nuwe wetgewing maak dit nou moontlik om, sonder nadelige kapitaalwins belastingimplikasies, daardie lening wat die trust aan die produsent verskuldig is, terug te vererf aan die trust sodat die lening uitgewis kan word.

Om op te som

Alhoewel hierdie artikel net ‘n vlugtige oorsig verskaf van sekere van die oorwegings in die proses van boedelbeplanning, is daar nog vele ander wat in ag geneem moet word deur enige produsent om seker te maak dat sy bates en familie ná sy afsterwe beskerm is. Boedelbeplanning is duidelik ‘n geïntegreerde proses waarby kundige persone betrek moet word en waaroor advies ingewin behoort te word.

Dr Stefan Strydom is tans assosiaat-direkteur by PricewaterhouseCoopers en hoof van die Trust- en Boedel-afdeling in Gauteng. Hy het sy doktoraal in die Trustreg in 2000 by die Noordwes-Universiteit verwerf. Kontak hom by stefan.strydom@za.pwc.com.

Publication: May 2013

Section: Input Overview

Search