• Login
  • Search Icon

Bepaal self die effektiwiteit van chemiese onkruid- en plaagdoders – doen dit reg en spaar

September 2016

PIETMAN BOTHA, SA Graan/Grain medewerker

Onkruid is een van ‘n graanprodusent se grootste vyande. Soms lyk dit of hierdie vyand die oorhand kry, met die gevolg dat produsente produksie en geld inboet. In baie gevalle is vuil lande wel gespuit, maar as gevolg van een of ander fout, het die onkruid oorleef.

Wat het veroorsaak dat die onkruiddoder nie gewerk het nie? Was die onkruiddoder foutief, was daar ‘n toedieningsfout, was dit as gevolg van toerustingfoute of weens klimaat? Dink mooi. As jy as produsent die effektiwiteit en doeltreffendheid van die werking van die chemiese middels kan verhoog, sal jy die voordele in jou sak voel.

Ek deel graag ‘n paar praktiese probleme wat ek by produsente waargeneem het met ons lesers.

Bepaal self die effektiwiteit van chemiese onkruid- en plaagdoders – doen dit reg en spaar

Skerp jouself op

Ons is nou aan die begin van die nuwe seisoen. Skerp jouself op oor wat, wanneer, waar en hoe gespuit moet word. Verseker dat jy weet hoe om die toerusting in te stel en te gebruik. Onthou ook om die arbeiders op te skerp.

Diens die spuittoerusting

Indien spuittoerusting nie voor die seisoen gediens word nie is daar probleme wat soms opgetel word en soms nie. Diens jou toerusting volledig en sorteer probleme uit vóór die werkseisoen begin. Onthou: Die effek van toerusting wat nie behoorlik werk nie, sal eers later opgemerk word en dan is die skade gedaan.

Dit is belangrik dat die spuittoerusting binne sowel as buite deeglik skoongemaak moet word – wat spuitpunte, pype en alle filters insluit. Van die chemiese middels veroorsaak ‘n aanpaksel in die pype en sodra die spuit weer begin werk, kom dit los en blokkeer dan die filters en spuitpunte.

Daar is verskeie metodes en middels beskikbaar om die spuittenk en die -pype mee skoon te maak. Praat gerus met jou chemiese verteenwoordiger om die beste middel te identifiseer. Dit is veral raadsaam om ‘n addisionele stel filters te laat installeer om die spuitpunte te beskerm.

Vernaamlik met die groot, selfaangedrewe spuite is dit noodsaaklik om een maal per jaar ‘n sorgvuldige vloeiratiotoets te doen om te verseker dat spesifieke spuitpunte se lewering (liter/ha) en die druk waarteen gespuit word, korrek is. Sodra die spuit begin werk en die spoed varieer, moet die druk ook kan varieer om die lewering per hektaar konstant te hou. Maak seker dat jou toerusting so doeltreffend moontlik werk.

Die spuitpunte is ook ‘n aspek wat aandag moet kry. Dit doen slytasie op en moet soms vervang word. Gaan veral die leweringsasook spuitpatrone na en vervang dit indien dit van die spesifikasies afwyk. As die spuit oor meer as een seksie beskik wat afsonderlik beheer en deur verskillende pype gevoer word, moet elke seksie apart nagegaan word.

Sommige spuitpunte, soos luginduksiespuitpunte, het die vermoë om groter luggevulde druppels te vorm, wat minder spuitdrif veroorsaak en teen hoër druk kan spuit. Maak seker of die spuitpunte wat jy gebruik geskik is vir die taak wat jy wil verrig.

Die spuitpomp is die kerngedeelte van die spuit. Kontroleer die lewering daarvan. Gaan die olievlak asook die olie se kleur na. Verseker dat die spuitpomp die regte druk, soos vereis, kan lewer. Indien die druk te laag is, sal die chemiese middels nie die teikenarea kan bereik nie en ‘n te hoë spuitdruk sal te veel spuitdrif veroorsaak – met dieselfde effek.

Beperk spuitdrif

Spuitstof wat weggespuit word as gevolg van te hoë drif, is verlore. Dit veroorsaak dat die spuitstof wat op die plant land, te min is en verhoed effektiewe werking. Spuitdrif word deur ‘n verskeidenheid aspekte beïnvloed, naamlik:

  1. Druppelgrootte
  2. Spuithoogte
  3. Spuitspoed
  4. Windspoed
  5. Lugtemperatuur en humiditeit
  6. Spuitvolumes

As daar gespuit word, is druppelgrootte die faktor wat spuitstofdrif die meeste beïnvloed. Lae spuitvolumes wat teen ‘n té hoë druk gespuit word, lei tot klein druppels wat maklik wegwaai en drif veroorsaak. Maak seker dat die regte spuitpunte en die regte druk gebruik word en kontroleer dat die spuitpunte die gewenste druppelgrootte, wat die minste drif sal veroorsaak en die meeste plantbedekking sal verseker, vorm.

Teen ‘n windspoed van 5 m/s mag daar nie gespuit word nie. As teen ‘n laer windspoed van ongeveer 3 m/s gespuit word, sal dit nodig wees om die druppelgrootte aan te pas. Teen ‘n windspoed van 3 m/s sal die druppelgrootte vergroot moet word deur die spuitdruk te verlaag.

Oor die algemeen veroorsaak luginduksiespuitpunte minder drif en kan dit tot langer spuiture bydra. Onthou: Wind beïnvloed ook hierdie spuitpunte.

Spuithoogte bepaal die spuitdrifhoeveelheid. Hoe hoër die spuithoogte van die grond, hoe hoër die spuitdrif. Pas die spuitpunte aan as daar hoog gespuit moet word. Windspoed, temperatuur én humiditeit sal die hoeveelheid spuitdrif beïnvloed.

Moenie op die warmste tyd van die dag spuit nie. Dit het ‘n effek op die spuitdrif én op die werking van die chemiese middels. Probeer eerder teen laer temperature en in windstil tye te spuit en bly binne die spesifikasies van die spuitpuntvervaardiger.

Die spuitvolume kan ook tot spuitdrif aanleiding gee. Té lae spuitvolumes kan veroorsaak dat die druk te hoog raak en dat die druppels te klein raak – wat tot meer spuitdrif aanleiding gee. Probeer om ‘n balans tussen spuitvolume en -drif te vind. Neem die chemiese middels wat gespuit moet word se waterbehoeftes ook in ag as die besluit geneem word.

As dit moontlik is, voeg ook ‘n antiverdampingstof by. Dit werk mee dat die spuitstof op die plant langer kans kry om opgeneem te word en verhoog derhalwe die effektiwiteit van die spuitstof.

Ander praktiese probleme wat voorkom

Produsente moet seker maak dat die filters en die spuitpunte op ‘n gereelde basis skoongemaak word. As daar iets in die spuitpunt is, sal dit die lewering en spuitpatroon beïnvloed.

Spuite se kalibrasie moet gereeld gekontroleer word. Dit is belangrik dat die kalibrasie reg is en dat die operateur weet teen watter spoed en enjinomwentelinge gery moet word. Heelwat operateurs bly nie binne die riglyne nie en dan werk die middels nie soos dit moet nie.

Die mengvolgorde van chemiese middels is uiters belangrik. Verseker dat die middels in die regte volgorde in die spuit gegooi word en dat die operateur weet hoe om die middels te meng. Kontroleer ook dat dit korrek gedoen word. ‘n Mens hoor gereeld dat die spuitstof te min was. Sien toe dat die operateur die regte hoeveelheid middels oor die regte oppervlakte uitgespuit het.

Stof is nadelig vir die chemiese middels wat gespuit word. Die masjiene beweeg vinnig en daar word stof deur die wiele opgeskop. Let veral op die spuitpunte naby die wiele. Bespreek maniere om die effek van die stof te beperk met jou verteenwoordiger.

Voorsiening van kwaliteit water vir ‘n spuit is ‘n groot uitdaging – dit is duur en gewoonlik word groot volumes vereis. ‘n Moontlike manier om dit te omseil, is om die spuitvolumes te verminder. Wees versigtig hiervoor, want die meeste spuitmiddels word by baie hoë watervolumes getoets en aanbeveel.

Praat met jou verteenwoordiger en vind uit wat die minste watervolume per hektaar kan wees.

Water wat gebruik word, verskil ook beduidend in terme van kwaliteit en suiwerheid. Soms is die water mooi skoon en ander kere is daar soveel besoedeling in die water dat die chemiese middels nie effektief kan werk nie. Verseker dat skoon water ten alle tye gebruik word en dat die nodige middels bygevoeg word om die pH en ander kwaliteite van die water reg te stel. Onsuiwer water veroorsaak ook dat die filter en spuitpunte op die spuite gereeld (ten minste daagliks) skoongemaak moet word. Dit lewer klaar ‘n groot bydrae om die water deur ‘n filtersisteem te pomp voordat dit in die spuit gegooi word.

Gestel daar is te min spuitkapasiteit om die werk tydig en doeltreffend gedoen te kry. ‘n Paar ongunstige spuitdae kan alles omkeer en dan is surplus spuitkapasiteit noodsaaklik. Hou ‘n surplus spuit, al is dit ‘n laer spesifikasie spuit, in plek om in sulke tye te kan uithelp.

Tydigheid is krities as dit by spuit kom. Dit is belangrik dat onkruid so klein as moontlik gespuit word en dat die onkruid nie onder stremming is nie. Pas veral op vir winteronkruid. Dit lyk asof die winteronkruid nie groei nie, maar intussen is hul wortels besig om diep en sterk te ontwikkel.

Waar daar onkruid is, moet seker gemaak word dat die dosis sterk genoeg is om die onkruid te dood en nie net te skroei nie. As die onkruid eers begin groei, is dit uiters moeilik om dit dood te spuit. As onkruid onder stres is, kan dit die werking van die onkruiddoder beïnvloed. Bespreek dit met jou verteenwoordiger om seker te maak dat daar in die spesifieke omstandighede gespuit kan word.

Talle produsente is nie heeltemal bewus van hul onkruidspektrum op die plaas nie. In sommige gevalle word die dosis van die spuitstowwe dan verkeerd bereken en word daar tot ‘n sekere mate vir onkruiddoderweerstandigheid geteel. Die gereelde wisseling van die aktiewe bestanddele van die onkruiddoder maak ook ‘n bydrae om dit te bekamp.

Indien jy nog nie van satelliettegnologie gebruik maak om rybane uit te wys nie, moet jy behoorlik vir die drywer aandui presies waar om te ry en watter gewasrye gebruik moet word om dubbelspuit te voorkom. Die dubbele spuit van stroke is net so oneffektief as om stroke nie te spuit nie.

As jy innoverend is en jou eie chemiese middels meng (wat in die meeste gevalle buite spesifikasies en aanwendingriglyne is), wees versigtig: Dit kan dalk goedkoop wees wat duur koop raak. Lees die pamflette en bly by die chemiese middels se aanwendingsriglyne.

Hierdie is net ‘n paar gedagtes. Praat met jou eie, sowel as ander chemiese verteenwoordigers om die beste oplossing vir jou plaas se probleme te identifiseer. Pas die aanbevelings nougeset toe en as omstandighede verander, praat weer met jou chemiese verteenwoordiger om aanpassings te maak.

Vir meer inligting oor hierdie tema kan Pietman Botha by 082 759 2991 gekontak word.

Publication: September 2016

Section: Focus on

Search