• Login
  • Search Icon

Benuttingswaarde van sojareste deur vee onder die soeklig

October 2011

image

JOHAN MOUTON, TEGNIESE BESTUURDER: PRO DUK ONTWIKKELING, MOLATEK

‘n Uitbreiding in sojaboonverbouing vanaf die meer oostelike gebiede van Suid-Afrika na die meer westelikes word in die somersaaigebiede waargeneem. Dit neem gronde in beslag wat tradisioneel onder mielieverbouing was.

Mielies as kontantgewas was nog altyd ‘n belangrike skakel in ondernemings se veevertakking in terme van die oesreste uit ‘n oorwinteringsoogpunt. Kan ‘n soja-oesres ‘n mielie-oesres vervang?

Volgens Esterhuyse (1990), wat drie jaar se data weergee, het ‘n oesopbrengs van 1,5 ton sojabone per hektaar gemiddeld 3,51 ton materiaal op die land agtergelaat waarvan 170 kg sojapitte was.

Hierteenoor het ‘n mielie-opbrengs van 4,6 ton, 4,43 ton materiaal gegee waarvan 200 kg pitte was.

Oesreste is deur skape benut en 59% van die sojareste se materiaal is verwyder teenoor mielies se 38% voordat die diere onder hul beginmassa begin inbeweeg het. Hierdie is waarskynlik toe te skryf aan sojareste wat fyner is as mieliereste.

By beide gewasse het groot variasie tussen seisoene voorgekom wat direk toegeskryf kan word aan die opbrengs van die graan vir die spesifieke seisoen. Die enkel bestuurbare faktor wat die hoeveelheid benutbare materiaal beïnvloed het, was die tyd ná stroop.

Wesenlike verwering kom voor met veral voëls wat die grootste gedeelte van die graankomponent verwyder en weidae ooreenkomstig drasties verlaag. Vir maksimum waarde uit oesreste, moet dit direk ná stroop bewei word.

Hoe lyk sojareste se diereprestasie?

Soos reeds genoem, is diereprestasie direk afhanklik van die oesopbrengs. Oor drie seisoene het hamels ‘n gemiddelde daaglikse massatoename van 48 g per dag op sojareste gehad.

Die hoë benuttingspersentasie van die oesreste dui moontlik op ‘n wanbalans. Tydens verdere werk is hooi (oulandsgras) addisioneel op die oesreste voorsien, wat die GDT na 149 g verhoog het.

Dit wil dus voorkom of daar ‘n tekort van ruvoer ontstaan het voordat die kwaliteit-gedeelte van die oesreste klaar ontgin was. Geen verskille kon tussen kultivars waargeneem word nie. Dit kan wees dat nuwer kultivars ‘n groter ruvoerkomponent agterlaat en beter prestasie lewer. Onthou, hierdie syfers is die waarde van die soja-oesres sonder enige aanvulling.

Aangesien daar ‘n gegewe hoeveelheid materiaal beskikbaar is, kan veebelading gemanipuleer word: baie diere vir ‘n kort tyd versus minder diere vir ‘n langer tyd. Produsente moet ook net die verweringsfaktor in gedagte hou.

‘n Riglyn om te gebruik is om en by tien droë skape per hektaar vir handhawing van massa-onderhoud. Dit beteken dat diere die oesres met dieselfde massa verlaat as toe hulle geplaas is.

Normaalweg neem diere toe in massa tot ongeveer week agt, waarna massaverlies begin voorkom. Uit ‘n boerderyoogpunt om in kuddeprestasie te voldoen en goeie ekonomiese prestasie te behaal in die voervloei van ‘n kudde, sal ‘n syfer van ongeveer sewe tot agt ooie vir ‘n periode van twee maande per hektaar, ‘n goeie gebruiksyfer wees; oftewel een bees vir twee maande. Die veronderstelling is dat diere die reste direk ná stroop begin benut.

Die baal van sojareste wat as ruvoer in byvoorbeeld volvoerrantsoene gebruik word, waarna beweiding plaasvind, kan ook oorweeg word om die maksimum uit die sojaverbouingsaksie te haal. Die kwaliteit van gebaalde sojareste is oor die algemeen beter as dié van gebaalde mieliereste.

Wat is die gevare?

‘n Sojaboon is goeie kos; met ‘n ontleding van 38% proteïen en ‘n energiewaarde van bo 80% totale verteerbare voedingstowwe (TVV). Mielies het ‘n 8,5% proteïeninhoud met ‘n ooreenstemmende TVV-waarde. Die aanpassing van ‘n rumendier vir die benutting van soja-oesreste is presies dieselfde as vir mielie-oesreste behalwe vir een aspek.

Eerstens by kleinvee: Asidose, of meer algemeen bekend as suurpens, is net so, indien nie meer nie pertinent by sojareste as by mieliereste.

Die geleidelike aanpassing van diere op sojapitte is die beste raad. Aanpassing kan reeds op die veld begin. Begin op dag een met 100 g per dier per dag waarna dit geleidelik aangepas word tot op dag sewe met 500 g per dag. Dit is belangrik om vir ten minste nog ‘n paar dae die pitte aan te hou gooi as die diere op die sojareste gaan om sodoende seker te maak hulle benut die pitte op die land.

Alternatiewelik kan aangepas word deur wei op lande te beperk, wat met 30 minute begin en oor ‘n week verleng word totdat ad lib beweiding gedoen kan word.

Skape wat wel asidose opdoen, word gekenmerk deur opgeblaasde diere wat styf loop en diarree toon. Hierdie diere kan behandel word met 20 g - 30 g koeksoda. Hou die diere ‘n paar dae fyn dop aangesien hulle neig tot longontsteking na asidose.

Vir die voorkoming van asidose, kan koeksoda rondom die aanpassingstyd in die lek ingemeng word, 10 g - 15 g koeksoda/dier/dag. Dit is tipies rondom 5% insluiting in ‘n lek waarvan skape 250 g per dag vreet.

Sojareste is geneig om meer breekwol te gee, maar kan grootliks voorkom word deur reg aan te pas. By beeste is die probleem baie kleiner en diere kan oor ‘n paar dae geleidelik blootgestel word aan die land, waarna hulle maar kan wei. Maak net seker genoeg ruvoer is beskikbaar.

Die uitsondering met sojabone, is dat diere wat ‘n ureumbevattende lek tesame met rou sojabone ontvang weens ‘n ensiematiese reaksie, potensieel meer geneig kan wees tot ureumvergiftiging.

Probeer hoë ureumbevattende lekke vermy, veral tydens die aanpassingsfase op sojareste. Binne konteks gesien, is ‘n skoon, rou sojaboondieet met ‘n ureumlek ‘n definitiewe nee! Sojabone bevat ook ‘n chemiese stof met die naam tripsien-inhibeerder, wat die werking van die verteringsensiem, tripsien, in die spysverteringskanaal belemmer. Hierdie is egter van akademiese belang op veral oesreste en by rumendiere.

Opgesom

‘n Sojares lewer ‘n waardevolle bydrae tot ‘n voervloeibeplanning. Die beste waarde word verkry deur dit so vinnig moontlik ná stroop te benut, met asidose as die grootste gevaar wat aktief bestuur moet word. Die aanvulling van ruvoer blyk sojareswaarde veral by skape, beter te ontsluit.

Wees versigtig vir ureumbevattende lekke op sojareste met veral baie graan. ‘n Sojares se kwaliteit neem vinniger af as dié van ‘n mielieres en vergelykbaar het dit in die orde van 70% - 80% die aanwendingswaarde van ‘n mielie-oesres in ‘n voervloei.

Kontak Johan Mouton by moutonj@tsb.co.za of 083 278 7746 vir meer inligting.

Verwysings

Esterhuyse, C.D. 1990. Die voedingspotensiaal van somergraanoesreste vir wolskape op die Oos-Transvaalse Hoëveld. MSc. (Agric) – verhandeling, Universiteit van Pretoria.
Esterhuyse, C.D. 1990. Die voedingspotensiaal van geoeste lande van somergraangewasse vir die somerreënsaaigebied. Finale verslag. Faset T5312/05/2/8. Departement van Landbou, Nooitgedacht.

Publication: October 2011

Section: Input Overview

Search