• Login
  • Search Icon

Belangrike ekonomiese aanwysers en insetprystendense van 2017

December 2017


CORNÉ LOUW, senior ekonoom, Graan SA 

In 2017 het die wisselkoers weer eens wipplank gery en omdat dit plaaslike pryse op ‘n daaglikse basis beïnvloed, het dit besluitneming ten opsigte van insetaankope asook graanbemarking, ‘n groot uitdaging gemaak. 

Die wisselkoers het sedert Oktober verlede jaar tot Oktober vanjaar tussen ‘n sterkste vlak van R12,40 en ‘n swakste vlak van R14,47, gewissel. Die ruolieprys het ook in September en Oktober vanjaar begin kop optel – wat plaaslike brandstofpryse laat klim het. Tabel 1 illustreer die prysbewe­gings van die belangrikste ekonomiese- en inset­prysaanwysers in 2017. 
 
Produksieprysindeks
Die produksieprysindeks (PPI) toon die prys­stygings van goedere en dienste op die groothandel- of vervaardigingsvlak in die ekonomie. Op ‘n jaargrondslag het die PPI tot September vanjaar met 5,2% gestyg. Die PPI vir landbou het jaar-op-jaar met 2% toegeneem, terwyl die PPI vir graan­produkte met 13,7% gedaal het. 

Verbruikersprysindeks 
Die amptelike inflasiekoers word op die basis van veranderings in die verbruikers­prysindeks (VPI) bereken en dui koste­­-veranderings op die kleinhandels- of verbruikersvlak aan. Die inflasiekoers het in September vanjaar op ‘n jaargrondslag met 5,1% gestyg. Voedselinflasie het oor dieselfde periode met 5,4% gestyg. In hierdie mandjie van voedsel het brood en grane met 2,8% gedaal, terwyl vleis met 15,6% gestyg het. Olies en vette het met 3,3% gedaal, terwyl groente en vrugte oor dieselfde tydperk met 4,4% en 0,5% onderskeidelik afgeneem het.

Wisselkoerse
In Tabel 1 word ‘n verstewiging in die waar­de van die rand teenoor ander geldeen­hede as ‘n positiewe verandering aange­dui, terwyl ‘n verswakking as ‘n negatiewe persentasieverandering aangetoon word. Die rand het op ‘n jaargrondslag tot Oktober vanjaar met 1,7% teenoor die dollar versterk, terwyl die rand met 5,4% en 5% teenoor die pond en die euro onderskeidelik, verswak het.

Rentekoerse
Op ‘n jaargrondslag tot Oktober vanjaar het die Reserwebank die bankkoers met 25 basispunte of 0,25 persentasiepunte na 6,75% verlaag. Handelsbanke het die prima uitleenkoers ook met 0,25 basispunte na 10,25% verlaag. 

Internasionale ruoliepryse
Die gemiddelde Brent-ruolieprys het vanaf Oktober verlede jaar tot Oktober vanjaar met 12,2% – vanaf ,40 per vat na ,68 per vat – toegeneem. In randterme het die ruolieprys op ‘n jaar­grondslag tot en met Oktober vanjaar met 10,4% tot R790 per vat gestyg.

Brandstofpryse
Die plaaslike groothandelprys van diesel in Gauteng het met 13,1% vanaf R10,72/liter in Oktober verlede jaar tot R12,13/liter in Oktober vanjaar gestyg. Die werklike brandstofkoste het in Oktober slegs 49,5% van die finale groothandelsprys van diesel uitgemaak. Dit wil sê 50,5% is opgemaak deur heffings en belasting. 

Oor ‘n jaartydperk het die gelande koste van diesel met 18,8% gestyg, terwyl belas­ting met 11,1% toegeneem het en die groothandelsmarge met 4,6% gestyg het. Die dieselkorting is tans 283 c/liter, terwyl dit 262 c/liter verlede jaar was. Die diesel­korting bestaan uit die 163 c/liter van die Padongeluksfondsheffing en 120 c/liter van die belastingskomponent. 

Internasionale kunmispryse
Alle internasionale pryse van kunsmis­grondstowwe het vanaf Oktober verlede jaar tot Oktober vanjaar toegeneem. Dit is veral die pryse van stikstof wat skerp gestyg het. Die pryse van DAP, ureum, ammoniak en kaliumchloried het met 4,5%, 30,2%, 63% en 8,3% onderskeidelik gestyg. 

Plaaslike kunsmispryse
Omdat Suid-Afrika meer as 80% van sy behoefte aan kunsmis moet invoer, is plaaslike kunsmispryse blootgestel aan die­selfde faktore as in die internasionale mark. 

Die gemiddelde pryse van ureum, KAN en kaliumchloried het oor ‘n periode van ‘n jaar tot en met Oktober vanjaar met 8,9%, 3,5%, 0,1% onderskeidelik gestyg. Die prys van MAP het oor dieselfde tydperk met 6,7% gedaal. 

Saadpryse
Saad maak ongeveer 12% van ‘n graan- en oliesadeprodusent se lopende produksie­-kosterekening uit. Vir die 2017/2018-produksieseisoen het mieliesaad met gemiddeld 9,1%, graansorghumsaad met 7,8%, sonne­blom­saad met 4% en sojaboonsaad met 4,5% gestyg.

Trekkerpryse
In Oktober vanjaar was die pryse van trekkers 3,6% laer as die oorstemmende tydperk twaalf maande gelede. 

Trekkerverkope
Vir 2017 het trekkerverkope tot en met Oktober met 6,5% in vergelyking met dieselfde periode in 2016, gestyg. Verlede jaar is 5 053 eenhede in hierdie tien maande-tydperk verkoop, terwyl trekkerverkope vir 2017 op 5 379 eenhede staan.
 

Publication: December 2017

Section: On farm level

Search