• Login
  • Search Icon

Bekalking van grond onder die loep

July 2012

CARL TALJAARD, BESTURENDE DIREKTEUR, SA KALK EN GIPS

SA Kalk en Gips is Suid-Afrika se leier op die gebied van kalk en gips en kan met sy landswye kalk- en gipsbronne aan ál jou kalk- en gipsbehoeftes voorsien om die toenemende grondsuurheid, wat lei tot oesverliese, te voorkom.

Deur nie kalk toe te dien nie, indien die grond se pH(KCI)-waardes onder 5,0 daal, kan die produsent oesverliese verwag wat baie groter geldelike verliese kan meebring as die “besparing” wat hy verkry het deur nie te bekalk nie. By pHwaardes van 6,5 (water) of 5,5 (KCl), is die toeganklikheid van voedingselemente optimaal en funksioneer die grondmikrobes ook op hul beste.

Die toediening van kalk vorm die grondslag vir gesonde gewasverbouing en dus ook vir ekonomies doeltreffende voedselproduksie en gevolglik word ‘n doelgerigte en dinamiese program van kalktoediening jaarliks van elke produsent verwag.

image

Aangesien kalsium en magnesium ‘n integrale deel van ‘n gewas se voedingsbehoeftes uitmaak, is dit van kardinale belang dat plante nie aan hierdie elementtekorte onderwerp word nie en is bekalking voor planttyd ongetwyfeld die enigste manier om die probleem van kalsium- en magnesiumtekorte op te los. Hierdie tekorte sal egter slegs met die regte soort kalk en die regte bekalkingsprogram, voor-plant, reggestel kan word.

Om die gewenste resultaat in die grond asook die gewenste plantreaksie te verkry, is die doeltreffende reaksie van kalk in die grond baie belangrik en gevolglik is dit van belang dat die neutralisasievermoë en reaktiwiteit van die beskikbare kalkprodukte asook die ligging van kalkbronne, vooraf bekend moet wees sodat die verlangde produk vanaf die regte bron afgelewer word.

Die neutralisasiewaarde van kalsiumoksied en kalsiumhidroksied is byvoorbeeld heelwat hoër as kalsiumkarbonaat. Só ook het die oksiede en hidroksiede van magnesium heelwat hoër neutralisasiewaardes as magnesiumkarbonaat. Na gelang van die karbonate, oksiede en hidroksiede wat kalk bevat, is dit ook moontlik dat die KKE (HCI) van ‘n landboukalkproduk meer as 100% kan wees.

Die reaktiwiteit van alle kalksoorte is verder ook afhanklik van die fynheid, sodat die grootste moontlike oppervlakte in kontak met die grond en grondwater kan kom om die grondsuurheid te neutraliseer. Daarom is die reaktiwiteit van mikrofyn landboukalk (90% fyner as 0,25 mm) aansienlik hoër as landboukalk wat slegs voldoen aan minimum wetlike vereistes vir “gewone” landboukalk (50% fyner as 0,25 mm).

Om vas te stel of dolomitiese en/of kalsitiese kalk toegedien moet word, is die pH asook ‘n magnesium- en kalsiumontleding van die grond noodsaaklik. Die professionele aanbeveling van ‘n landboukundige sal maksimum gewasproduksie verseker, indien dit toegepas word.

Sit vandag ‘n groeivonk terug in jou boerdery en word ‘n SA Kalk en Gips-winsvennoot.

Vir flinke diens en spoedige aflewering vanuit ‘n wye keuse van puik kalkbronne, plaas jou waardevolle kalkbestelling betyds by SA Kalk en Gips om teleurstelling te voorkom.

Publication: July 2012

Section: Input Overview

Search