• Login
  • Search Icon

Beheermetodes vir die bekamping van aalwurms - voor- en nadele

October 2014

SONIA STEENKAMP, LNR-Instituut vir Graangewasse

Ernstige aalwurmprobleme begin al hoe meer kop uitsteek by die meerderheid van eenjarige gewasse. Dit is dus van kardinale belang dat produsente betyds aalwurmbeheer toepas.

Verskeie strategieë is beskikbaar vir die produsent om aalwurms op sy lande te kan beheer. Die vernaamste hiervan is chemiese beheer, biologiese beheer, wisselbou en die gebruik van kultivars met aalwurmweerstand.

Die voor- en nadele van elk van hierdie strategieë sal bespreek word sodat produsente ingeligte besluite kan neem en beheerstrategieë kies wat vir hom en sy grond die beste kan werk. Kombineer twee of meer van hierdie strategieë sodat daar altyd ‘n agterdeur oop is as die een faal. Hoe meer strategieë gekombineer word, hoe groter is die produsent se kans op sukses en ‘n goeie oes.

Chemiese beheer

Chemiese beheer sluit die gebruik van aalwurmdoders in. Die voordeel van aalwurmdoders is dat hulle nie spesiespesifiek is nie en dus al die plantparasiete kan doodmaak. Indien dit reg gebruik word, kan aalwurmdoders baie effektief wees en dit het al menigte produsent van misoeste gered.

Die nadeel van chemiese beheer is dat feitlik alle aalwurmdoders wat tans op die mark is, rooibandprodukte is. Dit beteken dat hulle hoogs toksies is en skade aan mens, dier en die omgewing kan aanrig as dit nie reg gebruik word nie. Ons onvoorspelbare omgewingstoestande kan ook die werking van chemiese aal wurmdoders kortwiek. Te veel reën direk ná toediening kan byvoorbeeld die produk afwas of loog selfs voordat dit kans gekry het om te werk.

As chemiese beheer wel gebruik word, is dit belangrik om die volgende in ag te neem: Die belangrikste is om seker te maak dat die gekose produk wel op die teikengewas geregistreer is. Die toediening van só ‘n produk moet tot op die letter uitgevoer word, soos wat dit op die etiket aangedui is.

Moenie oor- of onderdoseer nie. As die produsent nie al die reëls nakom nie, sal potensiële eise nie uitbetaal word nie. Moet ook nie dieselfde produk of produkte in dieselfde chemiese klas herhaaldelik gebruik nie. Dit kan lei tot biologiese afbraak waar mikro-organismes in die grond die produk baie vinniger begin afbreek sodat dit nie die normale ses tot agt weke aktief kan wees nie.

Chemiese beheer kan sonder probleme met wisselbou en weerstandbiedende kultivars gebruik word. As biologiese beheer ook by ‘n program met chemiese beheer betrek word, moet die spuitprogram deeglik uitgewerk word om sodoende nie die biologiese produkte uit te kanselleer nie.

Biologiese beheer

Biologiese beheer is die gebruik van lewendige organismes om die aalwurms mee hok te slaan. Die voordeel verbonde aan die gebruik van biologiese beheer is dat dit omgewingsvriendelik is en meestal nie toksies vir mens en dier behoort te wees nie.

Die nadeel verbonde aan biologiese beheer is dat dit minstens vyf jaar neem voordat daar beduidende resultate is. Die rede hiervoor is dat die organismes in die produk eers kans moet kry om in die grond te vestig en aan te teel. Indien die omstandighede nie vir die organismes optimaal is nie, sal die biologiese produk nie effektief werk nie.

As biologiese beheer in ‘n aalwurmbeheerprogram ingesluit word, moet daar op die volgende gelet word: Die produk bevat lewendige organismes. Hulle moet dus op 'n spesifieke manier gestoor word en moenie in die son lê nie. Maak seker dat al die vereistes vir die storing en gebruik van die produk nagekom word.

Biologiese beheer kan baie maklik met wisselbou en weerstandbiedende kultivars gekombineer word. Indien chemiese beheer ook saam met biologiese beheer gebruik word, maak seker watter organisme in die produk is. Indien die biologiese produk byvoorbeeld 'n fungus bevat, kan daar nie ‘n fungisied gespuit word nie aangesien dit die organisme sal doodmaak. Werk net die chemiese spuitprogram baie deeglik uit as dit wel met die biologiese beheer gekombineer word.

Wisselbou

Wisselbou is en bly een van die belangrikste praktyke wat 'n produsent kan toepas as dit in sy gebied haalbaar is. Nie net beheer dit siektes en plae nie, maar party gewasse kan 'n opvolggewas bevoordeel in terme van opbrengste en dies meer. Wisselbou is dus altyd voordelig.

Die enigste nadeel aan wisselbou verbonde is dat as dit spesifiek gebruik word om byvoorbeeld aalwurms te beheer, gaan dit oor die kultivar, nie die gewas nie. Kultivars binne-in ‘n gewas het verskeie vlakke van weerstand teen spesifieke aalwurms. As wisselbou dus spesifiek ingespan word om aalwurms te beheer, moet die regte kultivar aangewend word om ‘n spesifieke aalwurm onder beheer te kan kry. Wisselbou kan met enigeen van die strategieë gekombineer word.

Weerstandbiedende kultivars

As daar weerstandbiedende kultivars beskikbaar is, is dit een van die effektiefste maniere waarop aalwurms beheer kan word. Die prys van so ‘n kultivar verskil nie veel van dié van ander kultivars nie. Met weerstandbiedende kultivars kan ‘n produsent dus die aalwurmpopulasie beheer sonder veel addisionele koste.

Die nadeel van weerstandbiedende kultivars is dat dit nie altyd beskikbaar is nie. Indien daar wel ‘n weerstandbiedende kultivar beskikbaar is, is dit meestal net vir ‘n spesifieke aalwurmspesie weerstandbiedend. As ‘n produsent hierdie strategie wil insluit, is dit belangrik dat hy presies moet weet wat in sy lande aangaan en watter aalwurmspesie by hom die sondebok is.

Weerstandbiedende kultivars loop hand aan hand met wisselbou en kan ook sonder probleme met biologiese en chemiese beheer gekombineer word.

Vir enige navrae, kontak gerus dr Sonia Steenkamp by 083 452 5926 of SteenkampS@arc.agric.za.

Publication: October 2014

Section: On farm level

Search