• Login
  • Search Icon

Beheer só lewerslak effektief

March 2012

DR JOHAN VAN RENSBURG, AFRIVET

Dit is algemene kennis dat wurms of interne parasiete produksieverliese en selfs vrektes by beeste en skape veroorsaak.

Onlangse navorsing het bewys dat wurms, soos lewerslak, tussen 0,1 kg en 1 kg gewigs verlies per week kan veroorsaak afhangende van die besmettingsgraad. Verder kan hierdie parasiete ook ’n proteïenverlies veroorsaak wat ’n dramatiese impak op die immuunstelsel en vrugbaarheid van die diere het. Diere met ’n beperkte proteïenvlak kan nie ’n voldoende immuunreaksie lewer op ent stowwe nie en dus sal hierdie diere meer toeganklik wees vir erge siektes en infeksies. Die verskuilde impak is net so erg op reproduksie waar interkalfperiodes verleng word en die verliese nie so opsigtelik is soos kliniese siektes nie.

Lewensiklus

Volwasse lewerslak het ‘n afgeplatte, blaar agtige voorkoms. Twee spesies kom in Suid-Afrika voor en daar kan onderskei word tussen die gewone en reuse lewerslak. Fasciola hepatica of die gewone lewerslak, groei tot 30 mm in lengte en Fasciola gigantica (reuse lewerslak) bereik 75 mm in lengte. Lewerslak benodig nat toestande om hul lewensiklus te voltooi omdat die tussengasheer klein varswaterslakke (Lymnaea spp.) is. Hierdie slakke leef in permanente of semi-permanente waterbronne, soos vleie, damme of lekkende watertrôe.

Die lewensiklus neem drie weke om te voltooi, maar kan weens ander faktore langer wees. Volwasse lewerslakparasiete beperk hulself tot die galbuise in die lewer waar hulle van bloed en proteïene leef. Die volwasse wyfie lê daar eiers wat saam met die gal in die dermkanaal in die mis uitgeskei word. Die eiers broei uit op die weiding waar dit  varswaterslakke besmet. ‘n Gedeelte van die ontwikkeling van die lewerslak vind plaas in die waterslak waarna dit dan weer op die weiding uitgeskei word.

Op hierdie stadium is die lewerslak nog nie volwasse nie. Diere neem hierdie onvolwasse stadium vanaf die weiding op waar dit dan deur die dermkanaal boor om sodoende na die lewer te migreer. In die onvolwasse stadium boor die lewerslak deur die lewer van die dier tot dit die galbuise bereik waarna hulle dan volwasse word.

Optimale behandelingstyd

Kennis van die lewensiklus is belangrik vir optimale en effektiewe beheer van lewerslak. Diere word besmet met onvolwasse lewerslakparasiete wanneer hierdie klein stadiums die waterslakke verlaat en die weiding besoedel.

Die onvolwasse lewerslakparasiete word uit die waterslakke geskei vanaf laat lente tot vroeg herfs. Die meeste infestasies by beeste en skape vind plaas vanaf Februarie tot April. Wanneer die omgewingstemperatuur onder 10°C daal, kruip die varswaterslakke in die modder weg en staak die uitskeiding van onvolwasse lewerslakparasiete. Dus word die weiding tydens die laat lente tot vroeg herfs besmet as gevolg van die varswaterslakaktiwiteite. Styg die temperatuur weer en die reënseisoen begin, verskyn die varswaterslakke weer. Hierdie waterslak word dan met onvolwasse lewerslakparasiete besmet wat afkomstig is vanaf besmette beeste en skape wat die parasiete in hul mis uitskei.

Om dus die lewensiklus te breek en die dramatiese besmettings in die somer te verhoed, is dit krities om diere te behandel wanneer die waterslak onaktief is. Daar is twee spesifieke tye vir strategiese behandeling. Herfs of vroeë winter – twee weke nadat die minimum temperatuur laer as 10°C gedaal het, of laat winter/vroeg somer, net voor of net na die eerste reëns geval het. Die keuse van ’n geskikte wurmmiddel met die korrekte beheerspektrum is van kardinale belang. Die meeste slakmiddels beheer slegs die volwasse stadiums van die parasiet. Soos gesien kan word in Figuur 1 kom daar verskeie stadiums van die parasiet op verskeie tye van die jaar in die diere voor. Vir die laat winterbehandeling sal die gebruik van ’n volwasse lewerslakmiddel voldoende wees. Vir die behandeling in die herfs en of midsomer sal die gebruik van ’n middel wat beide volwasse en onvolwasse stadiums van die lewerslak beheer, aangewese wees.

image

Triclabendazole is ‘n middel wat beide volwasse en onvolwasse lewerslak dood. Die mees optimale tyd vir die gebruik van hierdie middel sal tydens die herfstyd wees (April). Dit kan weer herhaal word in die lente vir totale beheer. Middels wat closantel, rafoxanide en oxyclosanide bevat, sal volwasse lewerslak dood. Die optimale tyd vir die gebruik van hierdie middels is Junie, Augustus en Januarie. Die voordeel van hierdie middels is dat hulle ook ander parasiete soos rondewurms en neuswurm kan beheer.

Onlangse serologiese opnames het getoon dat lewerslak wel teenwoordig is in baie areas van Suid-Afrika. Alle bloedmonsters is nog nie geanaliseer nie, maar tot dusver is daar ongeveer 37% diere positief getoets vir die parasiet. Die resultate moet natuurlik in die wese van die toets gesien word. Hierdie bloedtoets toon wel dat diere aan lewer slak blootgestel was, maar sal nie enige skade of lewerpatologie bevestig nie. Vir ons doeleindes, net om te sien of die parasiet teenwoordig is al dan nie, is hierdie toetsmetodiek in alle opsigte aanvaarbaar en akkuraat.

Produsente moet dus kennis dra van die moontlike gevolge van lewerslak en poog om die mees optimale behandeling toe te pas. Vir meer inligting, kontak gerus jou naaste veearts.

SA Graan/Grain gee graag erkenning aan die volgende instellings vir hul deelname aan die Fokus op dieregesondheid:

  • Afrivet
  • Universiteit van Pretoria
  • V-Plan

Publication: March 2012

Section: Input Overview

Search