• Login
  • Search Icon

Bedryf ek die regte beesproduksiestelsel?

October 2016

PIETMAN BOTHA, SA Graan/Grain medewerker

Lae winste is ook vir die veebedryf 'n realiteit. Dit laat 'n mens anders na sake kyk. Menige produsent wonder of ander veeproduksiestelsels nie dalk beter vaar nie, by voorbeeld: Is oom Gert wat met osse boer nie beter af nie?

Om stelsels met mekaar te vergelyk, is gewoonlik nie so eenvoudig nie en onvolledige inligting kan tot foutiewe afleidings aanleiding gee. Die beesstelsels wat vergelykbaar is, is die tipiese speenkalfstelsel, die 18 maande-bemarkingstelsel, die 36 maandeosstelsel en die nuwe speenkalfstelsel – waar die tipiese Aprilspeen kalwers oorwinter en net ná die winter verkoop word om vir die Kersfeesmark afgerond te word.

Elke stelsel is uniek en het ander reëls, verskillende kuddesamestellings, bemarkingstye en risiko's.

Uiteindelik maak dit nie saak watter stelsel gebruik word nie – die basiese aspekte van veeboerdery moet in plek wees. Dit sluit in:

  • Voldoende ruvoer moet ten alle tye beskikbaar wees – met ander woorde daar moet genoeg kos reg deur die jaar wees.
  • Regte byvoeding om die diere se behoeftes en die voedingswaarde van die voer te balanseer.
  • Om in siklus met hulpbronne te produseer.
  • Voldoende skoon water.
  • Tydige en voorkomende siekte- en parasietbeheer.

Elke stelsel hanteer dieselfde klimaatsrisiko's verskillend – en so sal die effek van droogte die stelsels verskillend beïnvloed. In 'n droogtejaar sal 'n gedeelte van die koeie van die speenkalfstelsel verkoop moet word, terwyl 'n gedeelte van die kalwers in die ander stelsels verkoop kan word.

Die diere wat verkoop sal moet word, se pryse en beskikbare kopers sal ook verskil. Dit is algemene kennis dat dit 'n uitdaging sal wees om die koeie in die speenkalfstelsel te verkoop en dat hulle boonop lae pryse sal behaal.

Met die ander stelsels kan die kalwers met redelike gemak van die veld verwyder word en gevoer of aan voerkrale verkoop word. As die droogte verby is, sal die speenkalfstelsel met die volgende uitdaging gekonfronteer word: Ten einde die plaas weer op vol produksie te kry, sal koeie gekoop moet word of verse sal teruggehou moet word. Dit is weer eens 'n onbeplande uitgawe en boonop sal die diere teen duurder gekoop word as waarteen hulle verkoop is.

Effektiwiteit en produksierisiko's

Die effektiwiteit van die stelsels verskil ook beduidend. In die speenkalfstelsel is die koeie die fabriek wat die kalwers produseer. As die koeie oor welke rede ook al 'n lae kalfpersentasie het, sal die winsgewendheid drasties beïnvloed word.

'n Hoë kalf- en speenpersentasie is ten alle tye 'n voorvereiste. Dit bly 'n uitdaging, maar dit is tog moontlik om 'n kalfpersentasie van bo die 90% oor tyd te handhaaf.

Die ander stelsels se fabriek is die kalwers wat reeds geproduseer is. Hierdie kalwers moet net groei, maar mortaliteit moet tot die minimum beperk word. Aangesien hierdie kalwers op die plaas gebore is en grootgeword het, behoort hul mortaliteit oor die algemeen laag te wees.

In hierdie stelsels is die produksierisiko's heelwat minder as in 'n speenkalfstelsel. Dit het 'n definitiewe effek op die winsgewendheid van die stelsel. Die speenkalwers in die speenkalfstelsel moet op 'n sekere tyd verkoop word, anders is daar pryspenalisasie, terwyl die ander stelsels tot 'n mate meer vryheid het wat bemarking betref.

Alhoewel die stelsels verskil, bly die kritiese suksesfaktore van die verskillende stelsels dieselfde. Koeie moet produseer en die kalf- en speenpersentasie moet ten alle tye beskerm word.

Voervloeibeplanning

Veegetalle moet nie die drakrag van die weiding oorskry nie en daar moet ten alle tye genoeg kos vir die vee wees.

Lekke wat verskaf word, moet by die behoefte van die diere aanpas en moet ook die beskikbaarheid van weiding weerspieël. Maak seker dat lekke wel gevreet word en dat dit aan die behoeftes van die vee voldoen, maar dit moet ook die winsgewendheid van die stelsel verbeter, anders maak dit nie sin om dit te gebruik nie.

Die diere se gesondheid moet altyd op 'n aanvaarbare vlak wees en beide inwendige en uitwendige parasiete moet tydig en verkieslik voorkomend beheer word.

Kuddesamestellings

Verskillende veestelsels se kuddesamestelling verskil beduidend. Vir 'n plaas wat ongeveer 100 grootvee-eenhede (GVE) kan dra, sal daar in 'n speenkalfstelsel ongeveer 60 koeie wees, terwyl 'n 18 maande-bemarkingstelsel ongeveer 44 koeie en 'n 36 maandebemarkingstelsel net 32 koeie kan akkommodeer. Die res van die drakrag sal deur vervangingsdiere, kalwers of groeiende diere opgeneem word.

Bemarking

Die verskillende stelsels sal ook hul eie bemarkingstye hê en verskillende tipes diere sal bemark word. Lentespeenkalfstelsels sal hoofsaaklik speenkalwers en ou diere tydens April bemark, terwyl die 18 maande-stelsel hoofsaaklik afgeronde 400 kg beeste gedurende Maart tot Mei aan die mark sal kan lewer.

In die 36 maande-bemarkingstelsel sal volgroeide, afgeronde osse gedurende Oktober tot Desember aan die mark gelewer word. Vir hierdie tye geld daar ander pryse en dit is belangrik om die vraag en aanbod in die mark in ag te neem.

In Grafiek 1 word die langtermyntendense van produsente beesvleispryse van A-, B- en C-grade aangetoon.

Bedryf ek die regte beesproduksiestelsel?

Veepryse is uit die aard van die saak gedurende April laag en rondom Desember hoog. Die hoofdrywer hiervan is die aanbod en vraag van vleis. As die speenkalfprys in Grafiek 2 bestudeer word, is daar heelwat ooreenkomste tussen die algemene vleisprystendens en dié van speenkalfpryse.

Bedryf ek die regte beesproduksiestelsel?

Soos in Grafiek 2 aangedui, is die algemene speenkalfpryse van Maart tot met Junie laag en begin die pryse dan weer na Desember se kant toe styg. Hierdie prystendense – veral in die prys van speenkalwers – reflekteer die aanbod en dit het 'n invloed op die primêre produsent omdat hy gewoonlik binne hierdie tye sy speenkalwers moet bemark.

Dit is egter nie net vraag en aanbod wat die pryse van vee bepaal nie, maar ook ander aspekte soos die algemene stand van die ekonomie, die mielieprys en die prys van hoendervleis om maar net 'n paar te noem.

Uit die begrotings in Tabel 1 kan afgelei word dat die tradisionele speenkalfstelsels – waar die speenkalwers gedurende April verkoop word – die laagste bruto marge per GVE sal lewer, maar dit is nie noodwendig waar nie. Dit lyk asof die 18 maande-bemarkingstelsel, waar die diere as markklaardiere bemark word, die beste stelsel kan wees om aan te wend.

Bedryf ek die regte beesproduksiestelsel?

Indien die 18 maande-bemarkingstelsel nagevolg word, sal dit belangrik wees om seker te maak dat daar 'n mark vir jou afgeronde diere sal wees. Onthou net dat jy sal moet meeding met ander vleisprodusente wat maandeliks vee aan die slagters en verbruikers kan lewer. Dit sal goeie praktyk wees om vooraf met 'n vleiskoper ooreen te kom om jou markklaar diere te koop.

Wat die produksie in die stelsel betref, sal die vee waarmee geboer word die vermoë moet hê om afgeronde diere te produseer voor die diere begin wissel. Indien die diere reeds wissel en dan eers afrond, sal dit die prys van die vleis benadeel en só ook die winsgewendheid van die stelsel.

Sodra die speenkalwers ná die winter verkoop word, is dit belangrik om seker te maak dat die verwagte prysverhoging en massatoename die ekstra voerrekening sal kan diens. Maak dus seker hiervan vóór jy die besluit neem om die speenkalwers terug te hou vir bemarking later.

Slotsom

Alles in ag genome, sal die stelsel nie regtig die winsgewendheid van die veeboerdery beïnvloed nie, maar eerder die effektiwiteit en produksie van die huidige stelsel waarin jy jouself bevind. Deur die effektiwiteit en produksie van jou huidige stelsel te verhoog en dalk klein bemarkingsaanpassings te maak, kan die winsgewendheid dramaties verhoog word.

Kontak Pietman Botha by 082 759 2991 vir meer inligting rakende die verskillende produksiestelsels.

Publication: October 2016

Section: Focus on

Search