• Login
  • Search Icon

Aprilmaand in die grondboonlande

April 2013

LOUREINE SALOMON, LNR-INSTITUUT VIR GRAANGEWASSE

Die jaar het verbygevlieg en daar was baie struikelblokke om te oorkom. Reën was weer eens ‘n faktor in die produksie van grondbone. Daar was wel lig aan die einde van die tonnel, aangesien grondbone goed gereageer het op kleiner buie reën.

Siektes was skaars in die begin van die seisoen, maar het wel begin kop uitsteek teen Februariemaand. Vroeë blaarvlek is plek-plek opgemerk, terwyl spatselvlek redelik verspreid voorgekom het, aangesien die hoë humiditeit en vroegoggend dou die siekte bevoordeel het. Daar is selfs roes (Puccinia arachidicola) in die Bothaville- en Hartbeesfontein-areas op droëland-aanplantings opgemerk, wat buitengewoon is. Daar kan wel gesê word dat geen grondboonjaar ooit vervelig is nie.

Aprilmaand beteken oestyd. Die eerste aanplantings is nou wel gereed om uitgehaal te word. Daar moet egter opgelet word dat daar op die regte stadium van rypheid geoes word om die beste gradering vir die oes te kry. Indien die aanplantings van so ‘n aard is dat die oes daarvan baie uitgerek gaan wees, is dit verkieslik dat met die aanvang van die oesproses, die grondbone op 60% - 65% rypheidsgraad is, sodat daar minder peulverlies by die laaste gedeelte van die oes is wat uitgehaal moet word.

Die algemene reël is dat grondbone op ‘n rypheidsgraad van 75% geoes word. Grondbone kan direk ná pluk in massa gelewer word as die verwerkingsaanleg beskik oor ‘n droër om grondbone te droog, andersins kan daar hopies gepak word of in sakke gedroog word op die land.

Doen gereeld vogbepalings, veral op gesakte peule om sodoende die korrekte tyd te bepaal vir lewering. Onthou dat weeklikse rypheidsbepalings die produsent in staat stel om die korrekte oestyd te bepaal. ‘n Korrekte oesdatum is een van die mees bepalende faktore vir die kwaliteit en graad van die grondboonoes.

Na-oes-versorging is die tweede belangrikste faktor, aangesien die kwaliteit en graad van die oes hierdeur benadeel kan word. Behandel die grondboonoes met sorg, sodat die beloning daarvan in die sak kan klingel.

Publication: April 2013

Section: Input Overview

Search