• Login
  • Search Icon

Alles wat jy wou weet oor veld- en bosbrande

September 2012

image

ANDRIES WIESE, GROEPSBESTUURDER: LANDBOU, MUTUAL & FEDERAL VERSEKERINGS MAATSKAPPY BEPERK

Veldbrande in die laat winter en vroeë lente (voor die eerste reën begin val) kan vir ‘n produsent duisende rande se skade beteken.

Elke produsent of grondeienaar het ‘n verpligting om veldbrande te voorkom en te bestry. Die verpligtinge word uiteengesit in die Nasionale Wet op Veld- en Bosbrande Nr. 101 van 1998 (“die Wet”).

In die vorige uitgawe van SA Graan/Grain is daar gekyk na brandbeskermingsverenigings en brandstroke. Hier volg nog ‘n paar vrae wat produsente en grondeienaars gereeld vra. Antwoorde is met behulp van Mutual & Federal Agri se spesialiste saamgestel.

Vrae oor brandbestryding

Die Wet sê eienaars moet toerusting hê om brande te bestry. Watter toerusting?
Dit word nie uitgespel nie. Die Wet sê dit moet toerusting wees wat redelikerwys in die omstandighede nodig is. ‘n Mens moet dus kyk na jou eie plaaslike toestande. Wat is redelik?

  • ‘n Klomp brandslaansakke?
  • ‘n Sleepwaentjie met ‘n watertenk wat agter ‘n trekker of bakkie gehaak kan word?
  • ‘n Klein kragbron met ‘n pomp wat water kan spuit?

Daar kan natuurlik in die toekoms regulasies afgekondig word wat spesifiseer watter toerusting die grondeienaar moet hê. Soos die Wet egter nou daarna uitsien moet ‘n mens self besluit watter toerusting nodig is om ‘n veldbrand te bestry.

Moet alle eienaars toerusting hê vir brandbestryding?
Nee, net eienaars op wie se grond ‘n veldbrand kan ontstaan of kan brand, of waarvandaan die veldbrand elders heen kan versprei. In die praktyk sal dit bykans alle grondeienaars insluit.

Wat word bedoel met “beskermende klere”?
Dit word nie uitgespel nie. Die Wet sê die grondeienaar moet beskermende klere “wat redelikerwys in die omstandighede nodig is” hê vir sy personeel wat brande moet bestry. Volle brandweeruitrustings, met baadjies, helms, rookmaskers en al, is duur en daar kan sekerlik nie redelikerwys verwag word dat elke produsent ‘n brandweerbrigade moet toerus nie.

Miskien moet ‘n mens weer kyk na die plaaslike omstandighede. Dalk kan redelike beskermende klere bestaan uit skoene of stewels, handskoene, oorbaadjies, plastiekhelms en nywerheidsneusfilters?

Moet ‘n grondeienaar ‘n sekere aantal werkers stuur om ‘n brand te bestry?
Daar moet personeel beskikbaar wees om brande te bestry. Daar word nie getalle genoem nie, maar die Wet bepaal “sodanige opgeleide personeel as wat redelikerwys in die omstandighede nodig is”. Die soort opleiding word ook nie uitgespel nie.

Ons is van oordeel dat die produsent redelike voorsorg moet tref. Sy werkers, al is daar net ‘n paar, moet vaardig wees om te kan help as daar ‘n veldbrand is. Iemand moet byvoorbeeld ‘n spuitpomp kan hanteer of ‘n baan kan oopstoot met ‘n stootskraper – dit hang alles af van die bepaalde omstandighede op die plaas.

Wat moet jy doen as ‘n brand ontdek word wat gevaar kan inhou?
Jy moet alles in jou vermoë doen om te keer dat die brand versprei. Trouens, jy moet alles in jou vermoë doen om die brand te blus. Dit sal ook raadsaam wees om dadelik jou brandbeskermingsvereniging, munisipaliteit, polisie, versekeraars en die eienaars van aangrensende grond in kennis te stel van die brand wat woed.

As ‘n eienaar of ‘n persoon in beheer van grond nie redelike stappe doen om die brand te blus of te beperk nie, kan hy aan ‘n misdryf skuldig bevind word – dit is nou afgesien van al die moontlike eise om skadevergoeding.

Maar wat as die eienaar afwesig is en ‘n brand ontstaan?
As die eienaar afwesig is moet hy sorg dat daar in sy afwesigheid wel verantwoordelike persone is wat, in geval van ‘n brand, die brand sal bestry en die eienaars van aangrensende grond sal laat weet.

As daar ‘n brand is, kan jy private grond betree?
Ja, as jy meen dat ‘n brand op enige grond gevaarlik is en lewens, eiendom of die omgewing kan bedreig, kan jy (en jou werkers) daardie grond betree om die brand te gaan bestry of te blus.

As jy op ander grond ‘n brand bestry en daar ontstaan skade, kan daardie eienaar van jou eis?
Die Wet sê dat jy in die proses van brandbestryding, enige grond mag betree, enige bome, gras, oesgewasse of ander plantegroei mag vernietig, by enige perseel mag inbreek, of enige voertuig of ander implemente mag verwyder, in die uitvoering van jou brandbestrydingspligte.

Wat sê die Wet oor die aansteek van vure?
Die Wet praat van ‘n “vuur aansteek, of gebruik, of aan die gang hou” en dit gaan dus om ‘n persoon wat gemoeid is met vuur, al het hy nie self die vuur begin nie.

Dit is ‘n misdryf:

  • as ‘n persoon ‘n vuur in die ope lug alleen laat voordat dit geblus is;
  • as ‘n persoon met ‘n vuur gemoeid is wat versprei en skade aanrig;
  • as ‘n persoon in die ope lug met ‘n vuurhoutjie (wat hy/sy byvoorbeeld laat val) of ander brandende materiaal ‘n brand veroorsaak wat versprei en besering of skade meebring;
  • as ‘n persoon in ‘n padreserwe ‘n vuur aansteek, gebruik of aan die gang hou behalwe by ‘n aangeduide vuurmaakplek of vir die maak van ‘n brandstrook; en
  • as ‘n persoon in die ope lug rook waar rook verbode is.

Hierdie misdrywe is strafbaar met ‘n boete of tronkstraf, of albei.

Vrae oor aanspreeklikheid

Hoe word die nalatigheid van ‘n produsent of sy werknemers regtens omskryf?

Kragtens ons gemene reg sal ‘n persoon aanspreeklik wees weens nalatigheid indien:

  • ‘n Redelike persoon in daardie produsent/werknemer se posisie die redelike moontlikheid sou voorsien het dat sy optrede of nalatigheid skade aan iemand anders kan veroorsaak;
  • Daardie redelike persoon redelike stappe sou kon geneem het om sulke skade te verhoed; en
  • Die betrokke produsent/werknemer versuim het om sulke redelike stappe te neem.

Twee bure, waarvan slegs een aan ‘n brandbeskermingsvereniging behoort, ondervind ‘n wegloopbrand wat verder vanaf hulle plase versprei na ander plase. Hoe verskil hul posisies?
Artikel 34 van die Wet bepaal dat ‘n persoon in ‘n siviele eis aangespreek sal word vir skade weens nalatigheid as gevolg van ‘n veldbrand wat:

  • deur die verweerder (persoon wat gedagvaar word) veroorsaak is; of
  • begin het of versprei het van grond wat deur die verweerder besit word, en daar ‘n vermoede van nalatigheid teen hom sal geld indien hy nie lid is van ‘n brandbeskermingsvereniging in die gebied waar die brand voorgekom het nie. Dit beteken dat daar ‘n omgekeerde bewyslas in die hof sal wees, in die sin dat die persoon wat aanspreeklik gehou word (gedagvaar word) die bewyslas sal dra om sy onskuld te bewys, hetsy ten aansien van die stigting van die brand of hetsy ten aansien van die verspreiding daarvan vanaf sy plaas na die eiser se plaas. Hierdie omgekeerde bewyslas (vermoede van nalatigheid) geld slegs indien die verweerder nie ‘n lid van ‘n plaaslike brandbeskermingsvereniging is nie. Indien hy wel ‘n lid van so ‘n vereniging is, sal die eiser die bewyslas dra om nalatigheid aan die verweerder se kant te bewys, hetsy ten aansien van die stigting van die brand of hetsy ten aansien van die verspreiding daarvan na ander plase. Op hierdie wyse word produsente dus aangemoedig om by plaaslike brandbeskermingsverenigings aan te sluit.

Vrae oor brandgevaarstreke

Hoe werk brandwaarskuwings?
Alle artikels en hoofstukke van die Nasionale Wet op Veld- en Bosbrande is nog nie volledig in werking gestel nie en raak aspekte van die brandgevaaraanslagstelsel, die brandbeheerbeamptes en finansiële aspekte van ‘n brandbeskermingsvereniging. Die brandgevaaraanslagstelsel raak die identifisering van sekere areas wat ‘n groter brandgevaarrisiko inhou as ander en hoe die brandgevaar gemeet en waarskuwings gepubliseer moet word.

Hoe sal daar te werk gegaan word om ‘n grondslag vir ‘n brandgevaaraanslagstelsel te kies?
‘n Brandgevaaraanslagstelsel is gegrond op ‘n stel formules of modelle en ‘n indekswaarde wat heersende of verwagte vlakke van brandgevaar kan bepaal en bereken.

Hoe sal die voorgestelde brandgevaaraanslagstelsel werk binne ‘n streekskonteks?
Die indekswaardes sal regoor die land verskil, maar moet toepaslik bly vir elk van die brandgevaarstreke. Die Departement van Waterwese en Bosbou was ten tye van die druk van die publikasie, besig om indeks -
waardes vir elke streek te kies.

Watter kenmerke sal die brandgevaarstreke in die land hê?
Die Wet vereis van die minister om die hele land in brandgevaarstreke te verdeel. Die brandgevaargradering vir elke streek moet die unieke kenmerke en klimaat van die streek in ag neem, soos byvoorbeeld:

  • Topografie
  • Soort plantegroei
  • Seisoenale-klimatiese siklus
  • Tipiese weersomstandighede
  • Onlangse weersomstandighede
  • Heersende weersomstandighede
  • Voorspelde weersomstandighede
  • Enige ander toepaslike aspekte

Samevatting

Dit is die plig van die grondeienaar om op hoogte van die Nasionale Wet op Veld- en Bosbrande te wees.

Publication: September 2012

Section: Other Articles

Search