• Login
  • Search Icon

‘n Slaggatbrigade ons enigste hoop

April 2011

Beste Grootneef
 

Vergeet van U2 se knewel van ‘n klou. Vergeet van Madonna of Lady Gaga. Ons had ons eie musiekfees op NAMPO Park, met van die beste van ons Suid-Afrikaanse kunstenaars. En as jy met ‘n bakkie daar aangekom het, het jy nog ‘n spesiale parkeerplek ook gekry!

Net een moeilikheid, die kol mielies na die westekant van NAMPO Park het die Sondagoggend nog oorverdowing gehad. Kyk, toe die span daar op die brouerye-wa lostrek met kitaar en drom, was tot die stopsels in my tande los...Maar lekker hoor! Op jou eie kampstoel met ‘n lafenissie in die linkerhand, die laatmiddag deur tot saans, die een kunstenaar beter as die ander.

Party mense het op hul stoele staan en jol, maar ek het maar mooi stil bly sit, Christelik-nasionaal, jy weet. Darem tyd gehou met die een voet. En as jy lus raak vir ‘n eetdingetjie, stuur jy net gou die kinders vir ‘n sosatie en ‘n pannekoek. Mag die Bakkiedag nog vir vele jare op NAMPO Park aangebied word. Jy kan maar sê dit is ons eie boerejol tussen die mielielande.


Ou Neef, van ‘n joligheid na ‘n treurmare. En dit is as mense in opstand kom oor duur kos. ‘n Mens verneem van oorloë en opstand in die noorde van Afrika. Een na die ander despoot ontgeld dit. En as jy mooi tussen die lyne lees, gaan dit nie net oor mense wat moeg is vir diktators wat te lank in die kussings sit nie, maar oor arm mense wat nie kos kan bekostig nie.

Wat kan ‘n arm mens nou eintlik doen as hy ontevrede raak met sy verdrukkende omstandighede? Die span kan óf in oproer gaan en alles om hul vernietig, oor hul land se grense vlug die onbekende in, óf eenvoudig doodgaan van ellende. Alles begin egter gewoonlik met ‘n hewige oproer waarvoor selfs traangas en koeëls nie meer help nie.

Die les vir ons eie goewerment is eintlik eenvoudig – om ‘n honger oproer in ons eie land te voorkom, moet kommersiële boere gekoester word. Want boere produseer kos vir die land, meer as wat ons eie mense in ‘n jaar kan opeet. Genoeg vir die hele Suider-Afrika. Om egter wins op jou plaas te maak, raak ‘n al groter kuns.

Die goewerment moet nie nou bodder met onbillike verblyfregte en arbeidswette om dit naderhand onmoontlik te maak om op jou plaas te bly nie. Ons hoor van die nuwe moeilikheid wat op pad is. Ons verkose leiers sal moet vasstaan om reg te laat geskied...Graan SA het mos ‘n Regshulpfonds om te keer waar dit nodig is.

Ek lees van die goewerment se groot dryf vir meer en meer werksgeleenthede. Ek sien ook oral waar ek ry, meer en dieper slaggate. Ou Neef, twee en twee is mos nou vier. Tackle die slaggate met werkspanne die land vol – op ‘n kommissiebasis natuurlik, nie geld vooruit nie. Sommer gou sal al wat gat is, toegestop wees.

Jy kan dit maak soos in delwersvelde van ouds en dat wie ook wil, vir hom ‘n kleim op die slaggatpaaie afsteek, met die doel om daardie stukke pad op te knap en in stand te hou. Die Slaggatbrigade sal aangevoer moet word deur ‘n Owerste oor slaggate, om darem seker te maak die gat is stewig toe, vóórdat die geld vloei.


Ou Neef, by ons hang paaie se lewe aan ‘n dun lagie teer, wat elke dag gedolwe word deur oorlaaide swaarvoertuie. Met die spoorstelsel tot niet, loop al wat vrag is nou per pad. As die pad ook tot niet is, hoe gaan kos in die stede kom?

By die afgelope Graan SA Kongres kon ons span afgevaardigdes skouers skuur met al die leierboere van oor die hele Republiek. Wat ‘n ervaring. Dit bly ons graanboere se parlement waar besluite oor ons eie besigheid geneem kan word. Graan SA se nuwe stuurman, Jannie de Villiers, is ook aan die boere bekend gestel. Ou Neef, ek is bly die man het nou ‘n boerehoed op die kop. Sterkte vir hom in die onbekende vaarwater wat voorlê vir die graanbedryf.

Stop toe daardie slaggate op die Oosgrens!


Kleinneef

Publication: April 2011

Section: E-mails

Search