• Login
  • Search Icon

‘n Kiekie van die Suid-Afrikaanse kunsmisbedryf in sy huidige vorm

December 2010

CORNÉ LOUW, SENIOR EKONOOM: INSETTE, GRAAN SA

Sedert die ontstaan van die plaaslike kunsmisbedryf in 1903, toe die eerste kunsmis uit dieregebeentes in Durban gemaak is, het die kunsmisbedryf gegroei en ook baie  veranderinge ondergaan.

Oorspronklik het die ontwikkeling van die mynsektor gehelp dat die plaaslike vervaardiging van kunsmisstowwe kon begin. Die plaaslike bedryf was egter steeds afhanklik van ingevoerde kunsmisprodukte wat ingemeng kon word met plaaslik vervaardigde produkte. Suid-Afrika was genoop om te begin met die plaaslike vervaardiging van kunsmis toe invoere tydens die Tweede Wêreld oorlog opgedroog het.

Prysbeheer was ingestel as ‘n oorlogsmaatstaf gedurende die vroeë 1940s tot en met Januarie 1984. Na die Wêreldoorlogsjare, tot die vroeë 1980s, het die kunsmisbedryf gefloreer onder ‘n beskermende handelsomgewing en regeringshulpmaatreëls vir landbou in die algemeen. Dit het gelei tot die ontwikkeling van Sasol, ISCOR en Foskor in die vroeë 1950s.

Een nagevolg van die ondersteuning van die regering was dat dit toegelaat het dat marginale grond vir gewasproduksie ontwikkel is. Dié maatreëls het wel gelei tot die horisontale uitbreiding van kunsmisverbruik gedurende die 1970s en 1980s, maar was nie volhoubaar nie (Dr Van der Linde, 2009).

Die opheffing van prysbeheer in die kunsmisbedryf in 1984 het saamgeval met vele ander gebeurtenisse – wat onder meer een van die ergste droogtes in eeue ingesluit het – en tesame met die ergste resessie sedert die 1930s, het dit beide graanprodusente en die kunsmisbedryf ernstig geraak. Die jare 1999 tot 2002 is gekenmerk deur grootskaalse herstrukturering in die kunsmisbedryf (Dr Van der Linde, 2009). Kunsmisverbruik het stelselmatig gestagneer en het so te sê gaan stil staan op ‘n gemiddeld van 2 miljoen ton fisiese jaarlikse gebruik. Gewasproduksie maak ongeveer 85% en die veevoerbedryf ongeveer 5% van die land se kunsmisverbruik uit. Volgens ‘n studie van Frost en Sullivan gedoen in 2008, het drie maatskappye naamlik Omnia, Sasol en Yara saam 86% van die markaandeel in die kuns misbedryf in terme van inkomste gehad.

Indien Profert bygetel word, het vier maatskappye 94% van die totale markaandeel gehad. Grafiek 1 toon aan hoe die mark tussen die verskillende kunsmismaatskappye, in die studie gedoen deur Frost en Sullivan in 2008, verdeel was.

Sedertdien was daar egter weer skommelinge binne die kunsmisbedryf. Yara het besluit om hul plaaslike kunsmisbedrywighede aan Farmsecure Technologies te verkoop en die maatskappy is weer tot Kynoch herdoop. Die transaksie is op 31 Augustus 2010 deur die Mededingings kom missie goedgekeur.

Alle bates, die bestaande besigheid en werknemers is deel van hierdie transaksie, behalwe dat Sidi Parani, wat voorheen die bemarkingsarm van Yara in die weste was, nou op sy eie bene staan onder die eienaarskap van GWK. Die skuif kan dus die markaandeel van die ou Yara (nou Kynoch) ietwat verander.

Kliek op  https://www.grainsa.co.za/documents/SAGraan%20Des%2010_SA%20kunsmisbedryf.pdf  vir die volledige artikel.

Publication: December 2010

Section: Input Overview

Search