• Login
  • Search Icon

2015 vol uitdagings

January 2015

image

JANNIE DE VILLIERS, uitvoerende hoofbestuurder/CEO

Die Desembervakansietyd is vir my ‘n tyd van besinning oor waar ek trek met verskeie aspekte van my lewe en om ‘n bietjie vorentoe te kyk ten opsigte van die jaar wat voorlê. Ons gesin spandeer minstens ‘n paar dae alleen iewers in die berge of in die bos om ons verhoudings met mekaar te bespreek en om ons doelwitte vir die nuwe jaar met mekaar te deel.

Geestelike doelwitte, akademiese doelwitte en verhoudingsdoelwitte is die dinge wat ons ernstig met mekaar deel en mekaar voor verantwoordelik hou. Ons praat ook oor die jaar wat verby is en hoe ons gevaar het. 2015 gaan regtig ‘n moeilike jaar wees wat die werk aanbetref.

Die twee onderwerpe wat ons reg aan die begin sal moet hanteer, is die implementering van die grondhervormingsbeleid en 'n goeie wegtrek ten opsigte van die sosiaal-maatskaplike arbeidsake.

2015 gaan ook ‘n waterskeidingsjaar vir georganiseerde landbou wees om te herstruktureer en op ‘n nuwe pad te kom. Graan SA gaan ook nie vryspring om self in diepte na ons eie strukture te kyk en om die nodige aanpassings te maak vir die jare wat voorlê nie. Sulke aanpassings is nooit maklik nie, maar dit is die dinge wat nodig is om weer nuwe groei mee te bring.

2015 gaan waarskynlik ‘n nuwe rekordoes vir sojabone lewer en ‘n nuwe bedeling vir die koringbedryf inlei. Alles mooi en goeie vooruitsigte. Ons verhoudinge met die staat het ook nuwe “oeste” opgelewer en beter opbrengste.

Ná verskeie jare van samewerking het Suid-Afrika uiteindelik 'n ooreenkoms met China geteken wat beteken dat ons nou ook ons mielies aan hulle kan lewer. Ons vorige voorsitter, mnr Neels Ferreira, en minister Tina het die werk begin en nou is dit uiteindelik afgehandel. Dankie aan almal wat hard gewerk het om hierdie moontlik te maak.

Hoe sal ons weet hoeveel van ons ander langertermynprojekte (soos biobrandstof) gaan dalk ook in 2015 tot vrug kom? Dit gaan beslis ook ‘n groot waterskeidingsjaar vir ons Graan SA landbou-ontwikkelingsprogram wees. Daar is by die dag meer en meer onweerswolke op die horison wat totaal ander idees daaroor het as waarmee ons nou besig is. Dit is jammer.

Ek is egter vol moed dat die span leiers, personeel en lede van Graan SA gereed sal wees om die uitdagings die hoof te bied. Waarvan ek baie oortuig is, is dat ons nie sonder julle as lede se ondersteuning en gebede kan klaarkom nie. Ons beplan om vroeg in 2015 weer daar in julle omgewing streeksvergadering te hou om ons drome en probleme met mekaar te deel sodat ons saam die nuwe jaar kan aanpak.

Vir die nuwe jaar gaan ons beslis durf, waagmoed, vindingrykheid en deursettingsvermoë nodig hê. Ons vermoë om verskillende dinge gelyktydig te hanteer gaan erg op die proef gestel word: Verhoog produktiwiteit, terwyl ons aan moeilike kwessies, soos transformasie op alle terreine, werk.

Sterkte vir die jaar wat voorlê, Graan SA is saam met jou!

Publication: January 2015

Section: Features

Search