• Login
  • Search Icon

2013 — Kan iemand die paaie regmaak..?

January 2013

– Januarie 2013

image

Beste Grootneef,

Wat sal ons van al die moleste van 2012 sê? Wie sou ooit kon dink dat ons die Bolandvalleie sou sien brand as gevolg van arbeidsonrus op plase? En as ek met die familie en vrinne in die Wes-Kaap praat, klink dit of ‘n klomp kwaadstokers uit die Vlakte met busse aangery is om die onlus aan te wakker. Ou Neef, ek kan niks goeds uit die petalje sien kom nie. Ek meen, hoe bou jy ooit weer ‘n verhouding op met werknemers wat eiendom verwoes en afbrand?

Die res van die landbougemeenskap kyk met groot belangstelling na wat daar in die Kaapse streke gaan uitrol met ‘n minimumloon. Feit soos ‘n koei, meeste produsente betaal lánk reeds meer as die wetlike vereiste vir ‘n minimumloon en daarvoor word wingerde afgebrand? Soos enige sakeman, sal produsente ook moet besin oor hoe risiko’s in die toekoms bestuur kan word. Die mees opsigtelike is om minder afhanklik van arbeid te wees. Op die meeste plase is daar surplus arbeid wat uit ou lojaliteite en dekades se goeie verhoudinge behou is. Daar sal egter nou met ‘n nuwe bril hierna gekyk word.

Die anderkant van die munt is net so toepaslik! Indien daar produsente is wie nie wetlike vereistes nakom nie, is dit nou die tyd om werk daarvan te maak.

Hoe dit ook al sy. Ná die gebeure op plase in die Wes-Kaap, spel 2013 ‘n nuwe speelveld uit vir werksverhoudinge op plase, met waarskynlik ‘n sterk fokus op meganisasie.

Ou Neef, terwyl ek nou so sit en nabetragting hou oor ‘n jaar wat verby is, kan ons mos ‘n bietjie vooruitwens ook. My wenslys vir 2013 is eintlik baie kort. Dit bestaan net uit een item: Kan iemand asseblief die paaie regmaak? By ons val die paaie letterlik uitmekaar. Dit is verby die stadium van regmaak, paaie moet nou óórgemaak word. Daar is meer lapwerk as teerpad oor. Op sommige dele is die teerpad eenvoudig weg met net grond sigbaar, met swaar vragmotors wat daagliks die pad verder aan flarde ry.

Die grondpaaie in die distrik is ook in ‘n toestand ná die onlangse reën. Hier raak die boere egter self betrokke om slote toe te stoot en waar moontlik te herstel. Die teerpad dorp toe is egter tot niet. Ons het verlede week weer ‘n stadsjapie langs die pad gekry met ‘n stukkende band nadat hy deur ‘n slaggat is. As iemand reguit op die pad ry, weet almal hy is so getrek soos ‘n broekrek...Buurman sê hy ry nou met ‘n Dodge, hy dodge al die slaggate!

Ou Neef, vir boerdery is ‘n pad ‘n kritieke ding. Dit is ons lewensaar vir voorraad en diesel plaas toe, maar ook vir die gestroopde produk terug dorp toe en van daar af stede toe. Hierdie lewensare van ‘n padnetwerk is egter besig om plek-plek geheel te disintegreer. Nie net by ons nie, maar oral waar ek rondvra. Hoe gaan kos in die stede kom? Hier kom ‘n boggerop, ek sê jou.

Ou Neef, voorspoed vir die nuwe jaar. Mag die reën elke week betyds val.

Groete op die Oosgrens.

Kleinneef

Publication: January 2013

Section: E-mails

Search