• Login
  • Search Icon

2011 se top-graanmanne: "Buitengewone produsente" wat onder buitengewone omstandighede presteer

October 2011

RUTH DAVIES, SA GRAAN/GRAIN MEDEWERKER

“Daar is nie graanprodusente van Suid-Afrika se klas in die wêreld nie. Om aan te hou presteer onder moeilike omstandighede en hindernisse in Suid-Afrika is werklik ‘n prestasie.”

image

image

Dr Pieter Mulder (adjunkminister: Landbou, Bosbou en Visserye) het op dié positiewe noot sy toespraak begin tydens vanjaar se Graanprodusent en Ontwikkelende Graan produsent van die Jaar glanstoekenningsfunksie wat op 30 September by die Velmore Estate buite Pretoria plaasgevind het.

Mulder het gesê dat daar tussen 1994 en 2009 ongeveer 30% van landbouproduksiegrond in Suid-Afrika verloor is. “Baie redes kan hiervoor aangevoer word – van klimaatsverandering tot grondhervorming. Nieteenstaande laasgenoemde is produsente steeds besig om meer te produseer en voedsel word uitgevoer.

Vlakplaas Boerdery wat bedryf word deur Koos Barnard en sy drie seuns, Janes, Abraham en Kobus, is aangewys as die Graanprodusent van die Jaar, terwyl Koos Mthimkhulu met die Ontwikkelende Graanprodusent van die Jaar-titel weggestap het. Prof André Agenbag het die toekenning ontvang as Graanwetenskaplike van die Jaar.

image

image

image

Die toekennings is daarop gemik om erkenning te gee aan suksesvolle graanprodusente wat met passie en toewyding hul ondernemings sodanig bedryf dat dit ‘n voorbeeld en inspirasie vir ander kan wees. Graan SA het nie net aan hierdie finaliste en uiteindelik die Graanprodusent en Ontwikkelende Graan produsent van die Jaar 2011 erkenning gegee nie, maar ook aan alle graanprodusente van Suid-Afrika.

Abraham Vermeulen (bemarkingsbestuurder: Syngenta) het tydens sy toespraak gesê dat 2011 verseker beskryf kan word as ‘n jaar vol uitdagings. “Natuurlike rampe soos die Tsunami in Japan, aardbewings in Nieu-Seeland, oorstromings in Australië en selfs in ons eie agterplaas het ons meer as 400 000 hektaar landbougrond vloedskade gehad.

Politieke geweld in Noord-Afrika en die Midde-Ooste word aangehits deur voedselinflasie en ‘n hoë werkloosheidsyfer en dan natuurlik die talle ekonomiese uitdagings, waar lande soos Griekeland ‘n skuldverhouding tot die Bruto Binnelandse Produk (GDP) van 160% het en daar word verwag dat die VSA skuldlas die ,6 triljoen merk vanjaar gaan oorskry.”

Volgens Vermeulen bly die uitdaging van voedselsekuriteit ‘n groeiende prioriteit, ten spyte van al die globale sosio- en ekonomiese uitdagings. “Die sewe-biljoenste mond om te voed word volgens die Verenigde Nasies voorspel om in kwartaal vier vanjaar gebore te word. Die onderliggende beginsels vir die vraag na voedsel bly positief en word weerspieël in globale voedselpryse en kan ook in ons eie mieliepryse, wat op ‘n jaar tot jaar grondslag 50% meer is, waargeneem word.”

Hy het verder gesê dat dit ‘n voorreg en eer is om die natuur as jou fabriek te hê, maar dat dit egter uitdagend en kompleks bly. “Dit is daarom vir Syngenta duidelik dat die antwoord opgesluit lê in vennootskappe, wat sal bydra tot kundigheid, ondersteuning, tegnologie en die promovering van ‘n positiewe landboubeeld. Vennootskappe tussen al die relevante rolspelers sal verseker dat landbou die nodige prioriteit, fokus en investering kry om Suid-Afrika en die wêreld se voedseluitdaging die hoof te bied.”

Mnr Mike Mack (HUB: Syngenta) het juis die konsep van vennootskappe vanjaar nog ‘n stap verder geneem, toe Syngenta in Februarie aangekondig het dat sy landbouchemie- en saadbesigheid-divisie gekonsolideer gaan word en as een besigheidseenheid gaan opereer. “Ons is vol vertroue dat ons nuwe strategie van een vennootskap sal bydra tot groter, vinniger en beter tegnologiese oplossings vir produsente. Ons is verbind tot geïntegreerde aanbiedings, wat jou die beste sal bied van beide saad en chemie, maar ook tegnologie, diens en kundigheid sal insluit.”

Buiten bogenoemde toekennings het Graan SA eretoekennings oorhandig aan dr Jan Dreyer en prof Allan Bennie. Graan SA het erkenning gegee aan hul kundigheid en oordeel as beoordelaars, ‘n taak wat hulle vir meer as 20 jaar reeds met passie vervul, om nie net ‘n aktiewe bydrae te maak tot hierdie projek nie, maar ook tot landbou in die algemeen. “Buitengewoon dankie aan die buitengewone produsente vir hierdie toekenning,” het Dreyer gesê.

image

Publication: October 2011

Section: Other Articles

Search