• Login
  • Search Icon

'n Voorreg om produsente te help

November 2013

RUTH SCHULTZ, SA GRAAN/GRAIN CONTRIBUTOR

image“Vanjaar se toekenning vir die Landboukundige van die Jaar is nie slegs gemaak vir die wenner se kundige landboukennis nie, maar meer belangrik vir die waarde wat hierdie landboukundige toevoeg tot die welvaart en volhoubaarheid van produsente in die Noordwes-Vrystaat,” het Andries Theron (visevoorsitter: Graan SA) gesê kort voordat hy Kobus van Zyl aangekondig het as Landboukundige van die Jaar.

Nadat Kobus sy BScAgric-honneursgraad aan die Universiteit van die Vrystaat verwerf het, het hy as junior landbounavorser by die Landbounavorsingsraad se Kleingraaninstituut op Bethlehem gaan werk. Hier was hy verantwoordelik vir grondsuurheid en mikro-elementprojekte sowel as die algemene bestuur op koring. Hy het ook die geleentheid gehad om sy vier jaar van veldnavorsing te gebruik om ‘n MScAgric-graad te voltooi met die titel: “Grondversuring en bekalking van Oos-Vrystaatse gronde onder droëlandkoring”.

As ‘n landbounavorser het Kobus referate by verskeie nasionale en internasionale konferensies gelewer en het ook ‘n aantal referate geskryf vir populêre en akademiese vaktydskrifte.

In 2003 het Kobus by die Omnia Kunsmis-span aangesluit as ‘n landboukundige in die Bothaville- en Viljoenskroon-area. Hierdie rigtingverandering was ‘n uitstekende uitdaging vir Kobus om meer te leer oor nuwe gewasse en om produsente te adviseer oor bemesting, wisselbou en ander verwante sake. Hy is steeds as landboukundige werksaam in dié area en gee opleiding en advies aan Omnia landboukundiges.

“Hierdie toekenning ontvang ek nie uit eie krag nie. Om produsente te kan help wat elke dag in die natuur besig is, is ‘n voorreg en in hierdie opsig het ons God se hulp nodig,” het hy gesê.

Kobus sê dat baie uitdagings elke dag oor ‘n produsent se pad kom, “maar moet nooit vergeet dat ‘n boer altyd ‘n plan maak nie”.

Publication: November 2013

Section: Other Articles

Search