• Login
  • Search Icon

'n Veraf dreuning

November 2011

– November 2011

image

Beste Grootneef

Die seisoen breek mos dag vir dag. As jy weer sien is dit voorsomer. Die veld loop uit as jy die polle pluis. Op die gebrande dele staan die veldjie kordaat groen. Meimaand se reën is nog vars in die aarde se geheue, maar ‘n lentereëntjie sal verseker ‘n groot verskil aan mens en dier se gemoed maak.

Ou Neef, wanneer laas het jy jou in die donkerte op die paaie begewe? Dit is ‘n nagmerrie, ek sê jou! Die gate waarvoor jy nog in die daglig kan koets, word in die nag vanggate. Wat erger is, is dat die ry-etiek van toeka, soos mis voor die son verdwyn het. Niemand dim hul ligte nie, maar kom oop en toe aan soos verskietende sterre. Jy voel kompleet soos ‘n springhaas, met lorries wat op volle vaart van vooraf kom, party met ‘n dosyn ligte op volle sterkte. Ek is nou die aand amper reguit om ‘n draai! En as jy met ‘n geluk nog van agter verby ‘n lorrie gespook kom, blaas die vark jou van agter met volle kolligte dat jou nekhare van die gloed verbleik.

‘n Ander uitdaging is diesulkes wat in die nagte sonder ligte van agter of voor aankruie. Ander weer kom met ‘n bewerige enkelkoplig verby, wat doer die hemelruim op skyn – jy kan maar sê die man ry op dim en bright gelyk...Waar is ons eie spietkops om orde te skep? Hulle vang my wragtig op 65 km/h op pad koöperasie toe, maar niemand kyk na die chaos wat elke nag op die paaie heers nie. Net môre sit ek vir my nog vier spots op, ek gaan daai aankomende vuurtorings braai pappa...

Ou Neef, soos veraf donderweer dreun die gerugte rondom die inhoud van die nuwe geskrifte oor grondbesit. Ek is nog onseker oor presies wat daarin geskrywe is. Die Staatskoerant is blykbaar op 16 September gepubliseer, met twee maande se tyd vir kommentaar daarop. Die Minister het ook ses taakspanne aangestel om op verskillende aspekte van die geskrif kommentaar te maak, met terugvoer reeds teen 13 Oktober. Dit bly altyd vir my wonderlik hoe daar jare gepoer-poer word om ‘n dokument vry te stel en wanneer dit plotseling gebeur, moet algar binne ‘n kort tydjie reageer. Met die geskrif uiteindelik in die openbare domein, beteken dit ook dat elke Jan Rap en sy maat insette daaroor sal kan gee, al besit hul nie ‘n morg grond nie.

As jy deur die voorwoord van die geskrif lees, is dit sommer gou duidelik dat ons te make het met ‘n baie sterk sosialistiese inslag en dat min erkenning aan kommersiële produksie gegee word. Dit wemel van kulturele grondbesit wat herstel moet word en oor geregtigheid wat moet geskied. Daar is bitter min sprake van die kommersiële produksie van voedsel en vesel.

Dit is met ‘n oogopslag duidelik dat kommersiële landbou en die Minister se span skrywers wêrelde uitmekaar is. Lees in die Volk se blad dat die Minister selfs dink aan Grondwet verander as dit volgens hom, nodig sou wees. Die vraag is, kan daar ooit balans gevind word? Want die dokument se voorwoord word gedryf deur ideologie en nie kommersiële waardes nie. Dit is altyd wonderlik hoe sosialistiese ideologie werk – dit is mos soos iemand wat niks het nie en dit met almal wil deel. Ek het ook nog nooit iemand gesien wat hom vol eet aan ‘n ideologie nie...

Ou Neef, georganiseerde landbou sal beslis in die kort tydjie vir kommentaar en beïnvloeding, alles moontlik moet doen om realiteite oor voedselsekerheid te laat seëvier. As ek die skrif aan die muur reg verstaan, gaan daar nie tweede kanse wees nie. Wie ook al namens die boere gaan praat, moet een ding onthou, grond het ek by niemand gesteel nie, maar het in harde kontant en in die sweet van my aangesig daarvoor betaal. Dit is tyd vir hakke inskop...

Groete op die Oosgrens.

Kleinneef

Publication: November 2011

Section: E-mails

Search