• Login
  • Search Icon

'n Terugblik op MVSA Kongres 2013

August 2013

image

ADAM MOSTERT, HOOF UITVOERENDE BEAMPTE, MISSTOFVERENIGING VAN SUID-AFRIKA

Die 53ste jaarkongres van die Misstof vereniging van Suid-Afrika (MVSA) is op 19 Junie vanjaar by die Elangeni Hotel in Durban gehou. Die tema van die kongres was: Die rol van kunsmis en grondvrugbaarheid in mensvoeding in sub-Sahara Afrika (SSA).

Dit het gehandel oor die belangrikheid van vrugbare grond in die produksie van voldoende voedsel van aanvaarbare gehalte om die bevolking in die streek te voed.

Afrika is die kontinent met die laagste kunsmisverbruik per hektaar en die hoogste voorkoms van wanvoeding en hongersnood in die wêreld. SSA se gronde is oor die algemeen onvrugbaar omdat die voedingstowwe uit die hoogsverweerde gronde geloog is.

Presidentsverslag

Die president van die MVSA, mnr Marius Brand, het in sy presidentsrede die faktore wat ‘n impak op die plaaslike kunsmisbedryf het, bespreek en oor die aktiwiteite van die MVSA verslag gedoen.

Hy het ‘n positiewe prentjie geskets wat die vraag na kunsmis betref omdat dit deur die vraag na voedsel en vesel gedryf word. Hy het uit die Internasionale Graanraad se vooruitskattings aangehaal dat alhoewel graan- en oliesaadproduksie vir die volgende vyf jaar gaan toeneem, daar feitlik geen toename in voorraadvlakke sal wees nie omdat die vraag na dié produkte eweneens sal toeneem.

Hy het verder genoem dat die wêreld se produksie van koring, mielies en graansorghum gaan herstel ná die vorige swak seisoen en na verwagting met 8,1% sal groei in 2013/2014.

Oor die internasionale kunsmismark het Brand gesê die vinnige her stel in 2010/2011 is gevolg deur ‘n verdere groei van 2,4% tot ‘n nuwe rekord van 177,3 miljoen ton plantvoedsel in 2011/2012. Veranderinge aan die kunsmis-subsidiestelsel in Indië het die verkoopstendense vir P en K negatief geraak, maar N-verkope het met ‘n geskatte 3% gestyg.

Aan die voorsieningskant is die ontwikkeling van die skaliegasvelde in die VSA van groot belang vir die kunsmisbedryf omdat dit die gasprys in die VSA sodanig sal verlaag dat ammoniak en ureumaanlegte daar met die Midde-Ooste sal kan kompeteer. Die gevolg is dat daar reeds beplan word om bestaande ammoniakfasiliteite met 7,5 miljoen ton uit te brei, terwyl nuwe toetreders ‘n verdere 4,5 miljoen ton se nuwe aanlegte beplan. Die uitbreidings sal tot gevolg hê dat die VSA teen 2016/2017 ‘n netto uitvoerder van ammoniak sal word.

Daar word geskat dat 60 nuwe ureumaanlegte tussen 2011 en 2016 wêreldwyd in produksie sal kom, waarvan 18 in China sal wees.

Die matige ooraanbod van kunsmis op wêreldmarkte kan tot laer pryse vir die periode van 2012 tot 2016 lei. Histories volg internasionale kuns mispryse egter grootliks die brent ruolieprys. Die prys van ammoniak en potas het gevolglik gedurende 2012 gestyg, maar ureum en fosfaat se pryse het afgeneem.

In die plaaslike mark het Sasol aan die begin van 2013 ‘n nuwe 400 000 ton per jaar KAN-aanleg in Secunda in bedryf gestel.

Die Sasol Landboutrust is in Maart 2012 in die lewe geroep toe Sasol ‘n R30 miljoen donasie gemaak het. Die trust se doel is om die Suid-Afrikaanse landboubedryf se mededingendheid te verbeter en volhoubaarheid te  verseker, met ‘n spesifieke fokus op graanproduksie.

Landboubeleid en landbouontwikkeling

In sy voorlegging het dr Stuart Ferrer, direkteur van die landboubeleidnavorsingseenheid aan die Universiteit van KwaZulu-Natal, benadruk dat landboubeleid ‘n belangrike rol speel in landbou-ontwikkeling. Hy het ook die veranderinge in landboubeleid in SSA sedert 1910 bespreek. Die jongste benadering is die beleid van “volhoubare ontwikkeling” wat groter klem plaas op die wydverspreide agteruitgang van landbouhulpbronne in Afrika.

Dr Ferrer het tot die gevolgtrekking gekom dat landbou-ontwikkeling wat deur Afrika gelei word nodig is vir SSA, met ander woorde, plaaslike oplossings moet gevind en toegepas word. Verder moet groei in landbouproduktiwiteit in alle toekomstige landboubeleide as doelwit ingesluit word en laastens moet landbou-ontwikkeling daarna streef om werksgeleenthede in landelike gebiede vir die groeiende bevolking te skep.

Geleenthede in Afrika

Dr Theo de Jager, visepresident van Agri SA en president van die South African Confederation of Agricultural Unions (SACAU), het die geleenthede vir produsente en landbou-insetverskaffers in SSA uitgewys en toegelig.

Hy het dit beklemtoon dat SSA oor die landboupotensiaal beskik om die broodmandjie van die wêreld te word, maar dat die produktiwiteit van landbou tans die laagste in die wêreld is. Een van die redes hiervoor is die lae peil van kunsmistoediening.

Slegs 7,1 kg plantvoedsel word per hektaar toegedien, terwyl Suid-Asië 129,4 kg per hektaar toedien. Die gevolg is dat SSA ‘n netto invoerder van graan is en dat hongersnood en wanvoeding op groot skaal voorkom.

Dr De Jager het die geskiedenis van Agri SA in Afrika sedert 2008 bespreek en dit benadruk dat dié Suid-Afrikaanse produsente wat elders in SSA gaan vestig, dit nie doen omdat hulle van plaaslike probleme weghardloop nie, maar om geleenthede elders in Afrika aan te gryp. Sowat 2 000 Suid-Afrikaanse produsente het reeds in Afrika gevestig, waarvan die meeste in Mosambiek is, gevolg deur Zambië en Botswana.

Dr De Jager het ook nie weggeskram om die hindernisse en uitdagings aan die Kongres voor te hou en te bespreek nie. ‘n Belangrike les wat reeds uit die praktyk geleer is, is dat daar geen toekoms vir kleinboere buite die waardeketting is nie en dat die waardeketting rondom kommersiële boerdery ontstaan. Hierdie lesse is ingesluit in die vestigingsmodel wat deur Agri SA ontwikkel is.

Mineraaltekorte in grond en mens

Prof Martin Broadley het ‘n oorsig gegee van die werk wat hy en sy span by die Universiteit van Nottingham in die Verenigde Koninkryk doen om mineraaltekorte in grond in Malawi en buurlande te identifiseer. Hy het dit beklemtoon dat voedselsekerheid nie net gaan oor die hoeveelheid voedsel waartoe mense toegang het nie, maar die kwaliteit van voedsel is ook van uiterste belang.

Mikro-elementtekorte, insluitend sink, yster, selenium en jodium, kom wydverspreid in SSA voor by mense wie se dieet uit stapelvoedsel bestaan wat op mineraalarmgronde verbou word. ‘n Tekort aan hierdie elemente benadeel groei, verstandelike ontwikkeling, beperkte immuniteit en wyer gesondheidsprobleme wat ‘n bose armoedekringloop tot gevolg het.

Prof Broadley het verskeie metodes om mikro-elemente agronomies aan te vul, bespreek.

Verhoging van ekonomiese opbrengste

Dr John Wendt, senior navorser van die International Fertilizer Development Centre (IFDC) in Nairobi, Kenia, het verslag gedoen oor die resultate wat hy en sy span behaal met die insluiting van sekondêre en mikro-elemente in bemestingsprogramme.

Oeste reageer dikwels onbevredigend op kunsmistoedienings in SSA. In baie lande is slegs stikstof- en fosfaatkunsmis beskikbaar vir kleinboere; selfs kalium is nie oral beskikbaar nie. Hulle het dikwels geen toegang tot die sekondêre elemente (kalsium, magnesium en swael) en die mikro-elemente (koper, sink, mangaan, yster, molibdeen en boor) nie. Die swak reaksie op NP- en NPK-bemesting is in baie lande die gevolg van ernstige tekorte aan sekondêre en mikro-elemente.

Die IFDC is sedert 2011 besig om sekondêre en mikro-elemente in verskeie lande in SSA, insluitend Uganda, Ethiopië, Mosambiek en Suid-Soedan, te ontleed. Proewe by kleinboere in Mosambiek en Malawi het reeds positiewe reaksies op die toediening van magnesium, sink en boor getoon.

Dr Wendt het ook verslag gedoen oor ander agronomiese praktyke wat vir kleinboere in SSA ontwikkel word en wat tot dramatiese opbrengsverhogings lei. Die gebruik van chemiese onkruiddoders en die diep-plasing van “superkorrels” (groot, gekompakteerde ureumkor rels) en kunsmisbrikette is van die praktyke wat onder sekere omstandighede aanbeveel word.

Grondvrugbaarheid in sub-Sahara Afrika

Prof Giel Laker, emeritus professor in grondkunde aan die Universiteit van Pretoria, het tydens die kongres ‘n oorsig gegee van grondvrugbaarheid in SSA. Hy het uitgewys dat daar groot verskille tussen die vyf streke in Afrika bestaan en dat Oos-, Suid- en Sentraal-Afrika die swaarste getref word deur ondervoeding.

In Sentraal-Afrika word burgeroorloë dikwels die skuld gegee vir die voedseltekorte en wanvoeding. Die feit is egter dat daardie gebied gekenmerk word deur hoogsverweerde gronde wat uiters onvrugbaar is en oor eienskappe beskik wat die bestuur van grondvrugbaarheid uiters moeilik maak. Die res van Afrika se grond is ook onvrugbaar en slegs klein gebiede met vrugbare grond kom voor, in teenstelling met die diep vrugbare gronde van die Noordelike Halfrond, Argentinië en Indië.

Prof Laker het bevestig dat SSA ‘n “groen revolusie” nodig het wat deur grondvrugbaarheid gedryf sal moet word. Sonder ‘n gesonde landboubedryf is ontwikkeling in SSA nie moontlik nie.

Medaljewenners

Die MVSA het tydens die kongres aan die volgende persone medaljes toegeken:

  • Dr Neil Miles, senior wetenskaplike van die Suikerna vorsings - instituut – ‘n goue medalje vir volgehoue uitnemende bydrae tot die kunsmisbedryf;
  • Dr Alan Manson, spesialiswetenskaplike van die KwaZulu-Natalse Departement van Landbou, Omgewingsake en Landelike Ontwikkeling – ‘n silwer medalje vir navorsing en voorligting;
  • Dr Erik Adriaanse, bestuurder tegnologie en spesiale projekte van Sasol Nitro – ‘n silwer medalje vir navorsing;
  • Mnr William Gillespie, spesialisvoorligter van die Suid-Afrikaanse Suikerrietvereniging se Suikerrietnavorsingsinstituut – ‘n toekenning vir opleiding en mentorskap vir kleinboere; en
  • Me Leoné Joubert, kantoorbestuurder van die MVSA – ‘n silwer medalje vir uitnemende diens aan die MVSA. Sy het aan die einde van Junie 2013 ná 43 jaar diens by die MVSA afgetree.

image image








Raad van direkteure

Die MVSA het vanjaar vir die eerste keer ‘n raad van direkteure ingevolge die nuwe maatskappywet verkies.

Die volgende direkteure is deur die lede verkies: Mnre Adriaan de Lange (Omnia) – voorsitter; Jaco Raath (Industrial Commodity Holdings) – ondervoorsitter; drs Johannes Louw (Sasol Nitro); Pieter Haumann (Grasland Ondernemings); en mnr Adam Mostert (hoof uitvoerende beampte: MVSA).

Die volgende alternatiewe direkteure is aangewys: Mnre Maarten van Jaarsveld (Omnia Kunsmis); Mark Hawksworth (Sasol Nitro); Henk le Roux (NWK Beperk) en dr Nicole Hart (Lake International).

Die uittredende president, mnr Marius Brand, was tot onlangs die besturende direkteur van Sasol Nitro. Hy word vanaf 1 Junie 2013 in ‘n nuwe hoedanigheid deur Sasol Beperk aangewend en was derhalwe nie beskikbaar vir verkiesing as direkteur nie.

Publication: August 2013

Section: Other Articles

Search