• Login
  • Search Icon

'n Ode aan die goeie gades

July 2013

– Julie 2013

image

Beste Grootneef,

As ek so deur die platteland ry, is dit altyd treffend dat in ieder en elke dorpie daar ‘n kerktoring pryk. Dié sien jy gewoonlik van ver af met die aankomslag. En jy kan maar weet, aan die fondament van al hierdie torings, sit dosyne koeksisters, met liefde voorberei deur die susters van die gemeenskap. Die goeie gades wat dinge laat gebeur.

Êrens in die verskiet, het ‘n klompie manne onder ‘n boom bymekaargekom en besluit – kom ons bou ‘n kerk, of ‘n skoolsaal, of ‘n skousaal, of wat ook al. Die goeie gades het dan aan die werk gespring, dosyne koeksisters gebak, gesmous en siedaar, as jy weer kyk was daar ‘n boufonds, danksy die sagte hande van die goeie gades.

Ou Neef, die ander aand had ons weer ‘n opskop in die skoolsaal. Die goeie gades het die manne se halfgebakte plan (kom ons hou ‘n opskop) onder hande geneem en jy kan maar sê “gestalte” daaraan gegee met flinke reëlings.

Op die aand self is die manne gou uit die kombuis “gesoe-soe”, om buite rond te staan en die sosaties en wors gaar te kry, met die hartklop van wanneer hoe en met wie wat gebeur, veilig in die hande van die goeie gades.

Ou Neef, dit is die een ding wat ek gou op onse dorpie geleer het, as die goeie gades hande vat met ‘n projek, maak jy jouself uit die voete. Jy gaan óf werk óf raas kry. Betrag die spulletjie van ‘n veilige afstand en vra maar beleefd of jy met iets kan help, maar moenie te lank talm om die antwoord te hoor nie. Nee, soek veiligheid daar gunter tussen die braairook. Êrens in die verloop van die aand sal jy wel gestuur word vir ‘n dit of ‘n dat, al is dit net om die pappot aan te dra. Dit is eintlik al wat nodig is om so ‘n aand te laat werk, ‘n veilige afstand, maar ‘n gewillige gees om op kort kennisgewing tot hoër diens opgeroep te word...

Maar moenie die skoner geslag onderskat nie. As hulle eers ‘n voet neersit, moet jy nie bodder nie. Ek ry hoeka anderdag verby ‘n te koop bordjie voor ‘n huis waarop staan: “Husband for sale, TV remote included...”

Ou Neef, ‘n heildronk op onse goeie gades wat ‘n R2 kan druk dat die koedoe op die munt grootoog staan om ‘n begroting te laat klop; op die susters van die gemeente wat stil en minsaam sorg vir sop en toebroodjies by ‘n begrafnis, ‘n heildronk op die mammas wat help by skoolkonserte, op hulle wat pannekoek bak by die atletiek, of sommer gou met ‘n paar lappe en kwaste ‘n ingangsportaal van ‘n saal kan opdollie vir die prysuitdeling.

Sonder die goeie gades sou ons klomp lelike manne maar gesukkel het. En het die kerke dalk nooit torings gehad nie.

Groete op die Oosgrens – en maak vir vroulief ‘n koppie bossiestee voor jul gaan slaap.

Kleinneef

Publication: July 2013

Section: E-mails

Search