• Login
  • Search Icon

'n Kykie na die rooivleisbedryf van vandag

October 2014

GERHARD SCHUTTE, uitvoerende hoofbestuurder, Rooivleis Produsente Organisasie

Vleisverbruik sal in die volgende dekade aanhou groei, hoewel makrofaktore verantwoordelik sal wees vir hoër vleispryse en ‘n ietwat laer verbruik relatief tot die vorige dekade.

Volgens die Bureau for Food and Agricultural Policy (BFAP) se landbouvooruitsig wat pas vrygestel is, sal ‘n toename in inkomste steeds ‘n kritieke rol in verbruikersgroei speel. Relatiewe pryse en verbruikersvoorkeure sal egter bepaal watter tipe vleis die verbruiker gaan verkies.

Volgens dié vooruitsigte bly hoendervleis die mees bekostigbare bron van proteïene en die verbruik daarvan sal na verwagting oor die volgende dekade met 34% styg. Dit oorheers steeds die mark en verteenwoordig 73% van bykomende vleis wat teen 2023 verbruik behoort te word. Die verbruik van varkvleis behoort oor die volgende tien jaar die meeste te groei, hoewel dit ‘n klein gedeelte van totale vleisverbruik uitmaak.

Die vraag na beesvleis sal na verwagting oor die volgende tien jaar met 20% groei (vergeleke met 12% in die vorige dekade) en sal 15% uitmaak van al die vleis wat in Suid Afrika verbruik word.

Lam- en skaapvleis is die duurste vleissoort en word meestal deur verbruikers in die hoë inkomstegroep gekoop. Dié verbruikers bestee ‘n klein gedeelte van hulle totale inkomste aan kos en daarom is daar nie ‘n groot reaksie op prysverhogings nie. Die verbruik van lamsvleis en skaapvleis behoort oor die volgende 20 jaar met ongeveer 16% te groei.

image

Prysvooruitsigte

Beesvleisprodusentepryse behoort in die volgende dekade met 6,4% per jaar toe te neem, sodat dit aan die einde van 2014 meer as R50/kg behoort te beloop. Produsentepryse van lamsvleis en skaapvleis sal na verwagting teen ‘n gemiddeld van 5% per jaar styg.

Die rooivleisbedryf vandag

Veediefstal en predasie hou steeds die grootste bedreigings vir die bestaan en welvaart van die rooivleisprodusent in. Dit word egter deur die nasionale en provinsiale veediefstalvoorkomingsforums en die predasiebestuursforums aangespreek.

Ander bedreigings sluit in die oorregulering van die bedryf (landbou word deur 88 wette gedikteer); aardverwarming en die rol wat veeboerdery daarin speel; die impak van mynbou en besoedeling; en stygende insetkoste. In 2013 is daar beraam dat insetkoste met 18% gestyg het, wat groot druk op die produsent se winsgewendheid plaas.

Ander aspekte wat tans deur die rooivleisbedryf hanteer word, sluit in die gebrek aan marktoegang en infrastruktuur in landelike gebiede wat ‘n impak op die opkomende sektor het; en ‘n tekort aan prysinligting; heersende onsekerheid oor prysinligting en die Mededingingskommissie.

Aan die ander kant was die geleenthede vir uitvoere van rooivleis, rooivleisprodukte en genetiese materiaal nog nooit so positief soos nou nie. Die nasionale RPO is veral baie opgewonde oor die moontlikheid van rooivleisuitvoere na China.

Verder is daar baie ander positiewe verwikkelinge, waarvan die huidige vlak van samewerking tussen die rooivleisbedryf en die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye (DLBV) beslis een is.

Huidige inisiatiewe deur die Departement in die buffersones getuig van die wil om die gapings in die Openbare Veterinêre Dienste-verslag aan te spreek.

Die DLBV moet ook gelukgewens word met sy onlangse inisiatiewe om OIE-standaarde te stel in terme van die invoer van lewende hawe vanaf buurlande.

Verder kan die gemeenskapsjaar vir afgestudeerde veeartse wat in die vooruitsig gestel word, baie positiewe gevolge vir die rooivleisbedryf hê.

Een van die grootste geleenthede binne die rooivleisbedryf, is die mobilisering en kommersialisering van die opkomende sektor. Tans maak dié sektor 40% van rooivleisprodusente uit.

Die daarstelling van handelsmerke vir gedifferensieerde markte kan ook tot groot voordeel van die bedryf wees. ‘n Grass fed/Free range vereniging is so pas gestig. Die RPO het die Universiteit van die Vrystaat versoek om ‘n rekenaarmodel te ontwikkel oor osstelsels versus speenkalfproduksie en ons sien daarna uit om dit binnekort bekend te stel.

Aangesien die vraag na rooivleis gaan styg, sal daar meer rooivleis geproduseer moet word. Dit kan net gedoen word deur groter intensivering en beter tegnologie.

Die nutriëntsamestelling van Suid-Afrikaanse rooivleis tel in die rooivleisbedryf se guns asook die feit dat die plaaslike verbruiker ‘n voorkeur vir vars vleis het. Nuwe wetenskaplike bevindings oor die positiewe eienskappe van rooivleis in ‘n gebalanseerde dieet is aspekte wat in die RPO se funksie van verbruikersopvoeding uitgelig word.

Op 7 November gaan die Suid-Afrikaanse klassifikasiestelsel onder die soeklig kom tydens ‘n simposium, aangesien dit noodsaaklik is om dit in terme van verbruikersbehoeftes en internasionale norme te toets. Vir die afgelope 25 jaar werk die huidige stelsel effektief, maar dit is tog sekerlik relevant om te bepaal of dit steeds inpas by 'n omgewing waar alles verander het.

Die rooivleisbedryf is in die gelukkige situasie dat die kapasiteit om navorsing te doen, in die laaste paar jaar baie uitgebrei is. Voorts is die RPO ook baie tevrede met die Red Meat Research and Development (RMRD) se goeie werk.

In terme van voedselsekerheid in ‘n land wat arm is aan proteïene, het die rooivleisbedryf 'n belangrike rol om te speel. Die bedryf is ook as ‘n belangrike rolspeler in die nasionale ontwikkelingstrategie geïdentifiseer. Sover dit voedselsekerheid in die land aangaan, kan die vyfde kwart dalk baie belangrik wees.

Suid-Afrika spog met baie goeie veeverbeteringstelsels. Verder het ons ‘n groot genepoel waaruit geneties aanpasbare diere geteel kan word. Die strenger toepassing van die Verbruikersbeskermingswet, die Etiketeringswet en die Wet op Landboustandaarde sal sekerlik in die toekoms ‘n rol speel om insidente soos die vleisskandaal te voor kom. Die wette kan ook ‘n groot bydrae lewer om verbruikersvertroue te skep. Die merk van vleis sal ook spesifieke aandag moet kry in terme van die reëls van oorsprong, soos by die invoer van vleis en lewende hawe uit buurlande.

Die rooivleisprodusent se rol

Daar is verskeie uiters belangrike aspekte waarop die rooivleisprodusent in die toekoms sal moet let:

  • Dit is kritiek dat Suid-Afrika sy bek-en-klouseer-vryesonestatus sal behou. Die volhoubare monitering van beheerde en aanmeldbare dieresiektes sluit hierby aan.
  • Suid-Afrika se grense is weerloos en daar is ‘n gebrek aan kapasiteit om wetgewing toe te pas. Produsente sal ‘n bydrae in dié verband moet lewer, aangesien die staat nie alleen verantwoordelik kan wees vir die beskerming van ons grense nie.
  • Natuurlike rampe, onder meer periodieke droogtes, veldbrande en oorstrominge is iets waarmee die rooivleisprodusent moet saamleef. Daar was ‘n geweldige droogte in 2013, met gepaardgaande vernietigende veldbrande. Dit bewys opnuut dat ons tans in ‘n droër siklus is. Produsente sal meer konserwatief moet dink as dit by drakrag kom.
  • Rampbestuur en voervloeibestuur is ook die produsent se eie verantwoordelikheid.
  • Indringerplante bly ‘n groot probleem. Produsente moet self verantwoordelikheid aanvaar vir die beperking daarvan.
  • Proaktiewe, geskrewe biosekuriteitsplanne en -maatreëls op plaasvlak het 'n noodsaaklikheid geword. Dié planne moet in samewerking met ‘n veearts gedoen word, met inagneming van risikofaktore in die betrokke area.
  • Dit is noodsaaklik om verdagte siektes aan te meld. Die bekamping van beheerde en aanmeldbare siektes is nie net die verantwoordelikheid van die owerheid nie, dit sal van produsente afhang of skemas vir beheerde siektes suksesvol gaan wees.
  • ‘n Verklaring van risikofaktore wanneer vee verhandel word, moet deel van die etiek word.
  • Bewegingsbeheer van vee en die individuele merk van vee sal ernstige aandag moet kry in die bedryf.
  • Produsente sal ook beter rekordhouding moet doen.

Publication: October 2014

Section: Focus on

Search