• Login
  • Search Icon

'n Boek vir produsente en spekulante in die graanbedryf nou beskikbaar

February 2013

SA GRAAN/GRAIN REDAKSIE

In die boek Kort en Lank van Termynmarkte: Safex, Graanverskansing, Spekulasie, sal jy alles oor die werking van afgeleide instrumente op die graanmark vind. Die boek is deur dr Mariëtte Geyser van die Eenheid van Omgewingswetenskappe en -bestuur aan die Potchefstroom Kampus van die Noordwes-Universiteit geskryf en word deur Kejafa Uitgewers in beide Afrikaans en Engels uitgegee.

Afgeleide markte bied aan produsente, veeprodusente, voerkrale, meulenaars en ander gebruikers van graan ideale instrumente om prysrisiko te bestuur. Ongelukkig moet hierdie verskansers en spekulante aan die mark deelneem sonder dat hulle toegang het tot pasgemaakte en maklik bekombare inligting oor afgeleide instrumente vir die Suid-Afrikaanse mark. Die doel van hierdie handboek is om die graan afgeleide mark aan die hand van deurlopende plaaslike voorbeelde, vir die leser toeganklik te maak. Bydraes deur bekendes in die kommoditeitsmark wys prakties hoe afgeleide instrumente effektief gebruik kan word en netelige kwessies, soos liggingsdifferensiale, word van nader bekyk. Enkele aspekte wat onder andere deur die boek gedek word, sluit in: Die aard van termynkontrakte, hulle werking en marges word uitgelig. Basis word ook van nader bekyk en spesifiek hoe basis deel van 'n belegger se besluitnemingsraamwerk moet wees. Die gebruik van termynkontrakte vir beide verskansing en vir spekulatiewe posisies word ontleed.

Opsies word in detail bespreek. Die leser word vertroud gemaak met die basiese begrippe, die faktore wat opsiepremies beïnvloed en die werking van beide 'n koop- (call) en verkoopopsie (put) word in detail bespreek. Daar word breedvoerig gekyk na die wins- en verliesprofiele van 'n verskeidenheid opsiestrategieë wat geskik is vir verskillende marktoestande. Die boek eindig met die wonderlike wêreld van elektroniese veilings en hoe dit deur die produsent tot voordeel benut kan word.

Bestellings

Plaas bestellings by Kejafa Knowledge Works by (011) 025-4388 of stuur 'n e-pos na kejafa@mweb.co.za. Die webwerf www.grain trading.co.za kan ook besoek word vir meer inligting rondom kursusse.

Publication: February 2013

Section: Markoorsig

Search