• Login
  • Search Icon

'n Blik op die kwaliteit van die 2012/2013-sonneblomoes

October 2014

JOLANDA NORTJÉ, bestuurder: Laboratorium, Suider-Afrikaanse Graanlaboratorium

image

Die 2012/2013-oesopname is die eerste van sy soort vir sonneblomsade en is uitgevoer deur die Suider-Afrikaanse Graanlaboratorium (SAGL) met die doel om kwaliteitsdata van die kommersiële sonneblomoes op ‘n nasionale vlak te versamel. Hierdie data kan gebruik word om onder meer tendense oor seisoene en kwaliteitsverskille tussen produksiegebiede uit te wys.

Vir oeskwaliteitsdoeleindes is Suid-Afrika verdeel in 36 produksiestreke en die resultate word as gemiddeldes per streek gerapporteer. Die behoefte bestaan egter ook dat resultate op provinsiale vlak gerapporteer word; die streeksamestelling volgens provinsie is dus soos volg: Streke 1 tot 6 vorm deel van die Wes-Kaap waar geen sonneblom verbou word nie – kanola is hier die hoofoliesaadkommoditeit. Streke 7 en 8 verteenwoordig die Oos-Kaap en streke 10 en 11 die Noord-Kaapse besproeiingsgebiede. Die Noordwes Provinsie bestaan uit streke 14 tot 20 en die Vrystaat uit streke 21 tot 28. Streke 29 tot 33 is in Mpumalanga, streek 34 in Gauteng, 35 in Limpopo en 36 in KwaZulu-Natal.

Die Vrystaat het 53% en die Noordwes Provinsie 30% bygedra tot die totale plaaslike oes van die 557 000 ton sonneblomme wat op 504 700 hektaar aangeplant is teen 'n gemiddelde opbrengs van 1,10 ton/ha.

Gedurende die oesseisoen word ‘n verteenwoordigende monster van elke lewering by die silo’s geneem volgens die bepaalde graderingsregulasies. ‘n Verteenwoordigende monster van elke klas en graad per silo word verkry en na die SAGL gestuur. In totaal is 152 monsters, wat die sonneblomoes proporsioneel verteenwoordig, soos gebaseer op die Oesskattingskomitee se syfers, deur die SAGL gegradeer en geanaliseer.

81% (121) van die monsters in die opname is gegradeer as Graad FH1. 21 van die monsters is afgegradeer as gevolg van die persentasie sifsels en/of gesamentlike afwykings wat die maksimum toelaatbare afwyking oorskry het.

Agt monsters is afgegradeer as gevolg van die persentasie vreemde voorwerpe en/of gesamentlike afwykings wat die maksimum toelaatbare afwyking oorskry het. Een monster het te veel beskadigde sonneblomsade bevat en ‘n ander klippies.

imageimage

Sifsels word gedefinieer as alle materiaal wat deur die standaardsif (‘n sif met langwerpige gleuwe van 12,7 mm in lengte en 1,8 mm in breedte met geronde ente [± 0,3 mm]) gaan. Vir die volledige spesifikasies van die sif, kan jy verwys na die Suid-Afrikaanse sonneblomgraderingsregulasies (No. R. 493 van 8 Mei 2009).

Volgens definisie word vreemde voorwerpe beskryf as los en leë doppe wat in die betrokke besending bo die sif voorkom en alle voorwerpe anders as glas, mis, steenkool, klippies, metaal, sifsels, Sclerotinia, sonneblomsaad en sonneblomsaadkerne wat in die betrokke besending voorkom. Wêreldwyd is die fokus op gesonder eetgewoontes en daarom behoort sonneblom ‘n baie meer prominente plek in te neem in ons daaglikse dieet. Sonneblomsaad is laag in versadigde vetsure, hoog in poli- en mono-onversadigde vetsure, bevat geen transvet nie en verskaf ander voedingstowwe wat essensieel is vir ‘n gesonde liggaam.

Sien Tabel 1 vir ‘n opsomming van die kwaliteit van plaaslike sonneblomsaad. Die ruproteïen, -vet en -vesel en aswaardes word gerapporteer as die persentasie (gram per 100 gram) op ‘n droë of vogvrye basis (db).

Vir meer inligting aangaande die plaaslike sonneblomoeskwaliteit, kan jy die SAGL se webtuiste besoek by www.sagl.co.za. Oesverslae is ook hier beskikbaar in PDF-formaat.

image

Publication: October 2014

Section: On farm level

Search